Oom, ek het die naweek vreeslike dinge gehoor oor wat die polisie van apartheid aan die swartes gedoen het. Oom moet sê wat oom dink, ek voel sleg oor alles.
My pa het 'n nuwe vriend by die klub ontmoet en hom huistoe gebring om sy stories vir ons te vertel. Hy is oom Koot van der Poel en hy was 'n jong konstabel in die ou S A Polisie in die begin van die 1970's. Die oom sê hy was in die polisie vir minder as drie jaar, want hy het nie eintlik daarvan gehou nie. Hy was by 'n polisiestasie in die Suide van Johannesburg en hulle het gewerk tot verby Eikenhof en Kibler Park.
Oom, hy sê hulle was in die "opruimingseenheid", dan ry hulle rond met 'n drie ton trok wat toegebou is soos 'n vangwa en hulle soek onwettige immigrante en enigiemand wat onwettig in die area is, as sy pasboek nie reg gestempel is nie, mag hy nie daar wees nie. Oom, hulle het sommer enigiemand voorgekeer wat vir die sersant suspisieus lyk, of mense wat in 'n groep staan en wag vir 'n bus of soiets. Dan het hulle na die passe gekyk en as dit nie reg is nie, of hy het dit nie by hom nie, is die persoon gevang, dan moet hy môre in die Bantoekommissaris se hof verskyn. Dit maak nie saak of dit al aand was en of die man 'n vrou en kinders gehad het wat vir hom wag by die huis nie.
By die aanklagtekantoor moes die swartes agterom gaan en die kantoor is afgeskort met 'n paneel met 'n deur in, en hulle moet aan die ander kant van die paneel staan en die wittes duskant.
Hulle het ook toegeslaan waar klomp mense aan die werk was, byvoorbeeld by 'n bouperseel en op die plotte, waar party Portugese groente geplant het. Op die plotte was daar dan pondokke en huisies waar die werkers bly. Een nag het die konstabels so 'n plek se deur oopgeskop en binne was die man en vrou besig met seks. Die polisiemanne het daaroor lekker gelag en gespot. Dit was nie 'n jong man en vrou nie, hulle was seker al in die vyftigs.
Een keer het die sersant gevra dat hulle in privaat klere mag werk, want die mense hardloop gou weg as hulle sien dis polisie. Toe het hulle in die dag by die plotte rondgeloop en 'n ou man gesien. Hulle het na hom geroep, maar hy het weggehardloop, tot hulle hom kon vaskeer teen 'n draad. Hy was doodsbeangs, maar toe sien hulle sy pasboek is reg en die sersant vra vies hoekom hy dan weggehardloop het. Hy sê toe vir die sersant hy het gedink dis tsotsis wat hom wil aanval. Die sersant word toe baie kwaad en vra "Lyk ek vir jou soos 'n tsotsi?" Hy het die ou man amper geklap. Oom Koot sê hy wonder hoe lyk 'n wit tsotsi en hoe kon die ou man weet hulle is nie tsotsis nie.
Op 'n ander dag het hulle weer 'n raid gedoen by die plotte, waar 'n klomp swartes partytjie gehou het. By die pondokke was 'n lap mielies, kophoogte, en tussen die mielies daggaplante, ook amper kophoogte. Dit was baie dagga en hulle sou werkers moes kry om dit uit te trek. Soos hulle daar rondloop, kom hulle toe in die middel van die plante af op 'n gat in die grond, met 'n 44-gelling drom vol bier in die gat. Die oom sê daar's geen manier wat die manne daardie groot drom met die bier en al daar kon uitkry nie. Hulle sou dit moes leeg pomp, maar hulle het nie so 'n pomp nie, ook nie by die polisiestasie nie. Toe staan die polisiemanne maar om die drom en pis in die bier, en 'n paar het skote in die bier afgeskiet, maar dit het nie juis gehelp om gate te maak nie.
Oom, hy sê gepraat van skote skiet, partykeer as hulle in die nag patrollie ry, het die polisiemanne na die padtekens geskiet. Eenkeer was hy by waar 'n man 'n hasie geskiet het in die vangwa se ligte. Die man het sy eie langloop rewolwer gehad wat hy saamgevat het. Baie polisiemanne het ekstra koeëls gehad, en as jy van joune verloor, kon jy dit by hulle koop. Hulle het kontakte gehad by die wapenwinkels.
Oom Koot sê hy was seker nie 'n goeie polisieman nie, want hy onthou hy het 'n paar keer sy gat afgeval as hy agter iemand aan was. Een aand het hulle weer 'n raid gedoen by die plotte, toe hardloop 'n man weg toe hy sien dis die polisie en oom Koot sit hom agterna, in 'n groot mielieland in, tussen die mielies deur. Nou oom weet daai tyd was die konstabels se rewolwer aan die linkerkant in 'n leerholster, vas aan 'n lang, smal verstelbare leerband wat voor sy lyf verby gaan na die regterskouer, waar die band vas was. Die holster het 'n flap oor gehad met 'n koper knopie, maar oom Koot se flap was baie los. Toe hy so hardloop kom die rewolwer uit die holster uit en dit swaai na regs en draai onder om 'n mielieplant. Die oom sê hy onthou vandag nog goed hoe het hy in die stof tussen die mielies geploeg, met die moontlike misdadiger wat toe wegkom. Dis te betwyfel of die rewolwer dalk kon afgegaan het, sê hy, want daardie ou goed se snellers was baie stram, jy moes al jou krag gebruik om dit te trek.
'n Ander keer, dit was ook by plotte maar heel op 'n ander plek, het hulle in die nag 'n raid gedoen by 'n klompie rondawels. Toe hulle aankom het 'n ou vrou uit die hut uit hulle gesien en uitgestorm en verskriklik geskreeu in hulle taal. Hy onthou nog sy het soos 'n heks gelyk, oud, maar vol kolle en strepe op haar gesig geverf, wit en bruin, met kort rasta tipe hare en krale om haar kop. Op haar waarskuwing vlieg 'n jong man toe uit 'n hut en hardloop. Die oom is weer agterna, weer deur 'n lap mielies. Terwyl hy nog op vol spoed is (hy kan nie die man sien nie, maar net hoor) haak sy voete skielik vas aan 'n stomp of iets en hy val: binne in 'n vuil dam bedek met groen paddaslik, volle winteruniform en al. Oom, toe is sy geesdrif vir misdaadbestryding dadelik geblus en hy stap bedremmeld terug na die manne.
Sover dan wat betref die oom se vertellings, moontlik is daar later meer.
Groete,
Jannie

