Oom,
Al verskil ons baie sterk oor party dinge, is ek bly oom is ook besorg oor die toekoms van ons taal. Maar oom, ons hoef nie te negatief te wees daaroor nie, en soos doemprefete optree nie - daar is hoop.
Daar is 'n korttermyn versekeringsmaatskappy wat sy sake in Afrikaans doen - mens kry al jou dokumente in Afrikaans - en hulle doen ook baie om ons taal te red van ondergang. Om vir oom 'n paar voorbeelde te noem:
'n Deel van die premiegeld gaan aan 'n trust om Afrikaanse jongmense te help. Daar is reeds studente wat studeer met hulp van die trust, en hulle het sover al R1 miljoen geskenk aan die Rapport Onderwysfonds!
Die beste van alles: hulle werk saam met Solidariteit om 'n privaat Afrikaanse universiteit op te rig! Ook 'n soort Techskool word beplan vir ambagslui, alles in Afrikaans. Hulle wil tot 'n Afrikaanse universiteit bou en dit sal glo R150 miljoen kos.
So oom, daar is hoop: Hou moed! Laat daai ou Mercedes skedonk van oom by hulle verseker en oom sal vir seker 'n goeie deal kry. (Jammer vir die Engels). Het oom al daai krapmerke laat reg maak wat ek met sleutels aan die linkerkant gemaak het? Jammer oom, maar ek was kwaad destyds.
Groete,
Jannie


Kommentaar
Jannie!
Ek's bly jy is terug ...
Waarom moet blankes en Afrikaanssprekendes op privaat instansies vir studiebeursgeld steun, terwyl die staat teen hulle diskrimineer? Sover ek weet, is dit steeds die geval dat die staat geen beursgeld toeken aan studente wat Afrikaans-onderwysers wil word nie. Waarom moet blankes eie fondse genereer om 'n Afrikaanse universiteit tot stand te bring as hulle histories minstens vyf uitmuntende en eens uitsluitlik Afrikaanse universiteite tot stand gebring het? Is die speelveld nou gelyk? Behoort rasse- en taaldiskriminasie tot die verlede? Het ons hier naasteby met geregtigheid te make?
Johannes Comestor