Oom, my pa sê oom is reg, oom Koot is sensitief. In die klub het hy gehuil toe hy vertel van sy hondjie wat dood is. Dis hoekom my pa hom huis toe gebring het, hy was bang die ander mans spot hom.
En dis ook waar, sê my pa, 'n klomp jong polisiemanne kon maar rof wees, en hulle was altyd onder stres. Deesdae se polisie is tien keer erger, sê hy, dis roof en diefstal en korrupsie en selfs moord. Dis fókken erg, sê hy.
My ma sê hy moenie so vloek nie, sy probeer al jare lank om hom uit die hel te hou, maar hy wil nie sy samewerking gee nie. Kyk net hoe mors hy weer brandewyn en Coke op die matte met sy arms wat so swaai, sê sy. Hy sal dit self moet skoonmaak, anders weet hy wat ...
"Anders wat?" vra my pa.
Sy sê hy weet goed en sy kan nie voor die kinders praat nie.
Oom, toe gaan my pa verder, sagter die keer, hy sê hy weet nie waarheen die land op pad is nie. Alles is deurmekaar, misdaad is vreeslik erg, die regering is korrup en vrouens luister ook nie meer vir hulle mans nie. Hy sê hy wens hy het drie vrouens gehad soos die president.
"O ja!?" sê my ma, "Hoekom ry jy nie township toe en soek vir jou 'n paar vettes uit nie, hulle is glo die beste skoonmakers, die vettes?"
"Ek speel maar net Liefie," sê my pa. "Dis net 'n ou grappie."
Ja oom, ek weet ook nie waarheen die land op pad is nie. In die skool is dit net so erg, die kinders lawaai in die klas en is ongeskik met die onderwysers. Party mense sê dinge was beter onder die Nasionale Party, toe was daar dissipline. Al was daar 'n oorlog aan die gang en die swartes bitter ontevrede. Die regering sou tog 'n plan gemaak het om die swart mense tevrede te stel, maar toe maak De Klerk die verkeerde plan.
Wel oom, ek moet nou afsluit, ek moet leer vir more se eksamen. Ons skryf môre wiskunde.
Groete by die huis,
Jannie


Kommentaar
Hie-hie! Oulik. Jannie, ek glo nie die groot ooms op hierdie forum het 'n goeie invloed op jou geskiedenis nie. Van hulle vloek ook erger as jou pa. Miskien is dit beter as jou aandag net by wiskunde is. Antie Trienie