Om vry te wees van sondebewustheid en ander swarighede

  • 7

Op 20 Mei skryf Trienie (Ruil sondebewus vir Godbewus) oor ‘n paar teologiese / christelike / godsdienstige sake. Sy raak die kern aan van drie grondbeginsels waarop die christelike geloof gebaseer is. Elkeen van hierdie beginsels is inherent só reglynig self-opponerend, dat ek na baie, baie jare dit net nie meer kan glo nie. Ek lig dié drie sake uit:

Eerstens skryf Trienie oor die beginsel van die erfsonde die volgende: “Geen mens is goed nie. Gered of ongered… Daarom kan geen godsdienstige ywer my sondeloos voor God laat staan nie.”

En dan volg sy dit op met: “Hy (God) verkies dat Sy bruid (ek en jy) onskuldig voor Hom staan. Opreg in waarde en sondeloos… Al wat ons verder hier op aarde moet doen is om sondeloos te lewe, sodat dit vir onsself en ander die lewe makliker maak. Sondeloosheid is dus tot voordeel van die self.”

Hoe kan geen mens goed wees nie, maw vól sonde, maar op aarde “sondeloos lewe tot voordeel van die self”? Dis mos twee totale teenpole! Wat my sommer bring by die onverstaanbare beginsel dat ‘n pasgebore baba “in sonde ontvang en gebore word” soos die belydenisskrif sê. Ek het ‘n spesmaas baie Christene wroeg hulle lewe lank oor hulle elke Sondag van die kansel hoor dat hulle inherent sleg en sondig is.

Tweedens skryf sy oor die leer of dogma van die uitverkiesing (predestinasie): “Dinge is klaar bepaal en vasgelê deur God. Gebeure en dinge van die toekoms (wat die ewigheid betref) is alreeds neergepen in die boek Openbaring… Daarom is dit God se volmaakte plan, nog voor my geboorte of voordat ek Hom kon leer ken.” Met ander woorde, God het ‘n mens se lewe en uiteinde vooraf bepaal, dis so neergeskryf in die Bybel.

Maar dan skryf sy: “Verruil dus jou sondebewustheid vir ‘n Godbewustheid. Dit sal jou lewe drasties na die positiewe swaai, en jou dankbare verhouding met God verdiep… So sal jy die oordele vryspring wat oor hierdie aarde kom.” Hoe dan nou? As alles vooraf bepaal is, wat is die punt van ‘n goeie lewe / minder goeie lewe. Volgens die uitverkiesingsleer is die mens se ewigheidsbestemming by geboorte reeds bepaal. Dan maak dit mos nie sin om jou lewe te verander nie. Dis geheel en al onlogies.

Derdens skryf Trienie: “…om jouself te bewaar van hartseer en ontberinge, is dit beter om nie op aarde verkeerd te lewe nie. Want die straf van daardie sonde sal jy hier op aarde dra.”

Wat sê dit? In ‘n neutedop beteken dit mos “goeie” mense sal geseënd en voorspoedig wees hier op aarde en “minder goeie” (slegte?) mense sal swaar kry hier op die ondermaanse. Ons almal weet egter dis nie hoe die wêreld werk nie. Duisende Godvresende mense kry bitter swaar, siekte en dood in families, finansiële probleme, noem maar op, terwyl daar duisende nie-godsdienstige en selfs skelm en kriminele mense is wat net moet keer of dit gaan nóg beter met hulle. Weer eens totaal teenstrydig. Trienie se standpunt is in elk geval die tipiese “dit gaan sleg met jou, want jy het gesondig” teenspoed-teologie. Bekeer jouself en dit sal beter met jou gaan is die gedagte. Voorspoed-teolgie dan.

Ek haal dié drie sake op, nie om enigsins die kerk of die christendom te verkleineer nie. Allermins. Ek was vir jare ‘n getroue meelewende lidmaat van die kerk en het oor ‘n lang periode tot die slotsom gekom dat hierdie teologie mét sy teenstrydighede van kindsdag af in ons ingeprent is omdat ons nooit vrae oor hierdie sake kon vra nie. En as ‘n mens dit durf waag het om te twyfel, dan moes jy hoor “die Bybel sê so” of dis “Gods woord en jy beter dit net glo.”

Die feite is egter dat al hoe meer mense, soos ek ook, hierdie totale teenstrydighede in die teologie raaksien en dit nie meer spreekwoordelik vir soetkoek opeet nie. Dit maak ons nie ateïste of Antichriste nie, en ons het steeds ‘n morele kompas waarmee ons ons lewe rig. Ons hoef egter nie meer te wroeg oor hierdie onlogiese en onverstaanbare dogmas nie. Ek het myself vrygemaak van hierdie gedurige en aanhoudende skuld en sondelas en die gewig is van my skouers af. Ek hoef dus nie “sondeloos” te wees om die lewe vir myself en ander “makliker” te maak nie.

  • 7

Kommentaar

  • Dirk

     
    Hoor,hoor! Ek het min of meer in dieselfde trant daar op Trienie se brief gereageer.
  • Beste Dirk
    Jy kan die oorsprong en verduideliking van die woord 'sonde' naslaan onder http://www.etymonline.com/index.php?term=sin.

    Dit is egter nie waaroor dit gaan nie.Enige mens word gebore met 'n kapasiteit of vermoë om van God se wil, dws sy plan af te wyk.Dit is 'n natuurlike ingebore neiging in elkeen van ons om dit te oortree en daarteen te  rebelleer.

    Jesus het   die plan van God  kortliks opgesom toe Hy gesê het in Mat.22.37 "weer het Jesus Hom nie laat vastrek nie," Jy moet die Here jou God liefhê met alles wat jy is en het' Niks in jou lewe mag vir jou so belangrik soos God wees nie.38 Hierdie opdrag staan bo aan die lys.39 Maar daar is 'n tweede opdrag wat langs die eerste een op die lys staan:'Jy moet ander mense liefhê asof hulle jy self is.' Hierdie twee opdragte vorm die pilare waarop alles rus waarvan ons in die Bybel lees.

    Jy word dus nooit sondeloos op aarde nie , hierdie 'sondige natuur moet saam met die mens sterwe en begrawe word'.Dit is eers na die opstanding wanneer die wat Jesus werklik as hul enigste Verlosser en Saligmaker
    aangeneem het, werklik ontslae sal wees van die natuurlike neiging.

    Dit is waarom Priesters en nonne en monnike nie 'sondevry' raak al leef hulle afgesonderd. Jy kan nie vlug van, in bybelse terme, 'jou sondige natuur' nie.

  • CorneliusHenn

    Jy lieg Dirk Rigter!!!!

    Hoeveel behae het jy nie gedurig hier om selfs onskuldige Afrikanerkinders met jou kwansuise apartheidskuld te belas nie?

    Jy is 'n dweper nes dit jou pas - Geen konsekwentheid nie.

    Wyl ek anders as Bybelaanbidders soos Trienie Mahne en Kobus de Klerk glo en in die liefde en genade van ons Skepper as 'n sondaar voor God buig, verwerp ek wel jou "apartheiderfsonde " en siek gedweep daaroor.

    Katolieke Boeregroete,

    Cornelius Henn

  • Pieter Redelinghuys

    Beste Dirk, 

    Na aanleiding van jou brief wonder ek net hoeveel menselewens op aarde al verniel en versuur is deur godsdiens.Vandag is daar selfs hulplyne en assosiasies op die Noord- Amerikaanse kontinent om jongmense te help om oor die trauma van slegte godsdiens te kom. Kan jy jou nou 'n meer perverse doktriene voorstel as "erfsonde" en dat van mense verwag word om te glo dat "kinders in sonde gebore word"? Trouens, die Oosterse Ortodokse Kerk glo glad nie in hierdie doktriene nie. Die Protestantse Kerke van Wes-Europa het hierdie doktriene oorgeneem van die Westerse Roomse Kerk en sy oorsprong lê by Augustinus. So ook met ander doktrienes van die Kerk wat glad nie 'n bepaalde gegewe is wat direk uit die hemel na aarde gedaal het in die vorm van geskrifte of op klaargeskrydfe kliptablette soos in die tyd van Moses nie! Alles is die breinwerk van mense wat bymekaar gekom het deur die eeue by verskillende Kerk Konsilies, soos by dié van Nicaea waar die doktriene van die Drie-eenheid geformuleer is. Lg. doktriene staan nêrens in die Bybel nie. Dit is die produk van mense.

     

    Wat Predestinasie beterf: dit is 'n persoonlike aberasie van Johannes Calvyn. Hierdie Meneer het op sy persoonlike manier die Bybel gelees en interpreteer om hierdie perverse doktriene te kon formuleer. Die konserwatiewe vleuel van Amerikaanse Christendom glo in hierdie doktriene tesame met die Afrikaanse Protestantse Kerke. Sy oorsprong lê in die Puritanisme van "the founding fathers".

     

    Laastens is ek verbly om te hoor dat jy jou bevry het van hierdie destruktiewe godsdiens wat net 'n hals om die nek is. Dit het my ook groot geluk verskaf die dag toe ek hiervan kon afstand  doen, en ek bejammer die weerloses, mense met min intellektuele en emosionele intelligensie wat in die strikke van hierdie mensgemaakte  teologie beland.

     

    Beste groete,

     

    Pieter Redelinghuys

  • FC, Perdebytjie en Pieter,

     

    Dankie vir julle positiewe kommentaar.

     

    Cornelius,

     

    As jy niks te sê het nie, moet dan niks sê nie. Ek het drie (vir my) teologiese teenstrydighede genoem. As jy my argument kan weerlê, doen dit gerus, dan leer ons almal iets by jou. Maar om te sê dat ek lieg (met eksklamasie nogal), sonder om enigsins op enige van my punte te reageer, is betekenisloos en wys op net een ding: Jy kan my argumente nie weerlê nie. So eenvoudig soos dit.

  • Beste Dirk
    Jy skryf dat Trienie sê:
    "Tweedens skryf sy oor die leer of dogma van die uitverkiesing (predestinasie): “Dinge is klaar bepaal en vasgelê deur God. Gebeure en dinge van die toekoms (wat die ewigheid betref) is alreeds neergepen in die boek Openbaring… Daarom is dit God se volmaakte plan, nog voor my geboorte of voordat ek Hom kon leer ken.” Met ander woorde, God het ‘n mens se lewe en uiteinde vooraf bepaal, dis so neergeskryf in die Bybel."

    Jou vertolking  en ook die van jou mede-ongelowiges oor die uitverkiesing dui daarop dat julle van dit gehoor het,maar dit  nie verstaan nie.

    Die Bybel leer ons dat God telkens groepe mense kies en groepe mense verwerp.
    Wie is hier die 'uitverkore mense' nou eintlik.Die 'uitverkorenes' is die wat God se uitnodiging aanvaar en die 'verworpenes' is die wat God se uitnodiging van die hand wys.

    Dit is dus die mens wat uiteindelik deur sy eie keuse bepaal of hy 'uitverkies' of 'verlore' is en nie God nie.
    In Mat 22. kan jy lees wat Jesus sê oor die feesmaal en die genooides.Die genooides is almal aan wie die Evangelie verkondig word en Jesus as hul enigste Verlosser en Saligmaker aanvaar.

    Hulle is die uitverkorenes en dit is sy in God se plan van ewigheid af so bepaal. Moet dus nie met 'n skuldverskuiwing begin nie en jou arms in die lug gooi en sê ek is 'verlore' want God het dit so bepaal.

    So'n siening is verkragting van die evangelie. In Mat 25 lees 'n mens van 'n boodskap wat so helder is dat kindertjies dit kan verstaan. Mense probeer die boodskap met hul geleerdheid stilmaak, omdat hul reken hulle weet alles. Dan sê Jesus 'Nee, al hulle ingewikkelde redenasies laat net hul eie kop draai.'

    Die uitverkiesing is dus so eenvoudig dat selfs 'n kind dit kan verstaan.

  • CorneliusHenn

    Siestog Dirk Rigter, en daarmee bewys jy seker in jou slimmige en hatige evangelie dat Nelson Mandela jou van jou aparthiedskuld verlos het en dit kwansuis verhewe bo die Evangelie van Jesus Christus staan ... Mag Jesus Christus onse Here, self Sy verlossende liefde en genade in jou "sondelose" hart openbaar ... Cornelius Henn

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top