Die Noorweegse Nobel Komitee wonder seker tans watter enorme flater hulle begaan het toe hulle ’n klompie jare gelede hierdie huidige Amerikaanse president die Nobelprys vir Vrede toegestaan het. Daardie tyd was die sentiment in Europa só sterk teen George W Bush oor sy skandalige oorlog in Irak, sy "causis belli", baseer op leuenagtige aantygings oor die bestaan van sg "weapons of mass destruction" , aantygings wat nooit bewys kon word nie, en wapens wat nooit gevind is nie. Maar nee, die Anglo-Amerikaanse koalisie sonder enige goedkeuring van die VVO het besluit om Irak sommer binneval, in die geval van Brittanje selfs teen die wil van die meerderheid van die volk.
Nou wil Obama, Nobel-pryswenner vir Vrede, die konflik in die Midde-Ooste uitbrei, sodat die VSA, selfaangestelde poliesman van die wêreld, weer betrokke kan raak in ’n derde land se interne stryd. Ek vermoed sterk dat Israel (en natuurlik die wapenbedryf in die VSA) hom aanmoedig, en selfs aanpor, sodat hierdie aanval op Sirië dan as ’n toets, en ook as ’n "dress rehearsal", kan dien vir ’n toekomstige aanval op Iran.
Tydens Obama se onlangse besoek aan Stockholm verlede week om deel te neem aan die besprekings van die G20- groep van lande het hy omtrent geen ondersteuning vir sy beoogde planne daar ontvang nie, behalwe van drie Baltiese state - waarskynlik ook omgekoop met Dollars. Van die Europese Unie-lande was alleen Frankryk bereid om hom te ondersteun vir redes wat totaal duister is. Dalk wil hierdie land (dit gaan daar tans uiters sleg ekonomies) sy beeld onder die Amerikaners verbeter sedert hulle diplomatieke uitval in 2002 oor die Irak-oorlog.
Die nuutste episode in hierdie drama blyk nou dat by Obama se tuiskoms in die VSA is die teenstand só heftig onder die Amerikaanse publiek teen sy planne, dat hy nou van koers sal verander en praat nou eerder dat ’n aanval op Sirië tydelik uitgestel moet word sodat Sirië se chemiese wapens onder VVO-kontrole geplaas kan word.
Vir baie Amerikaners met insig en verstand is hierdie man ’n groot teleurstelling. Hulle het aanvanklik hoë verwagtinge van hom gekoester maar geleidelik het die gevoel van ontnugtering net versterk. Hy word beskryf as iemand wie nie besluite kan neem nie, en as ’n persoon sonder ruggraat. In sekere gevalle het hy nog verder gegaan as George W Bush in die wanhantering van die chaos wat sy land in die Midde-Ooste help skep het.
Om te dink dat die wêreld moet klaarkom met leiers van hierdie kaliber is genoeg om jou nagrus te laat verloor. Dit laat my dink aan die mag oor wat hierdie leiers besit: Ek wonder of Harry Truman ooit na die VSA-kongres gegaan het voordat hy besluit het om die atoombom teen Japan te gebruik. Ek twyfel sterk.
Beste groete,
Pieter Redelinghuys


Kommentaar
Ai Pieter, wat se ding is die VVO? Vreemde Vlieënde Onderwerp? Wag 'n bietjie, jy dink seker aan die VN. Dateer jou denke uit die ou RSA toe Verwoerd, Vorster en PW ons gedwing het om van volke te praat i.p.v. nasies.
Was jy daar toe Obama in die VSA aangekom het, en het jy koppe getel om te sien hoeveel Amerikaners "...met insig en verstand..." in hom teleurgesteld is? En wat beteken "..aan die mag oor wat hierdie leiers beskik.." ?
En sê sommer vir ons as Sirië nou die "derde" land is, wie is tweede? Nee wat, sê sommer net jy hou nie van Obama nie en kry klaar. Hierdie flou poging maak dit nie.
Beste Dirk,
Dankie vir jou belangstelling in my brief en vir jou insiggewende repliek daarop.
Ek is nie bewus van Verwoerd en Voster se dwanglesse in taal en semantiek nie, en is derhalwe onkundig oor hulle terminologie vir die VVO.
By Obama se aankoms in die VSA na die Stockholm vergadering van G20-lande was ek nie persoonlik op die lughawe in Washington gewees om koppe te tel nie, maar ek kan lees wat die internasionale pers (meer as een koerant van gehalte) daaroor berig het.
Het u dalk 'n probleem om te verstaan oor watter mag die Amerikaanse president besit? Dalk is jy gelukkig.
Die tweede land is Afganistan. Die eerste land was Irak, en die derde land sou Sirië gewees het, indien Obama sy oorspronklike planne gevolg het.
Persoonlik het ek geen negatiewe "gevoelens" oor Obama nie. Hy het hard probeer om 'n basiese mediese voorsiening vir alle Amerikaners te skep, en die netelige "gaysaak" bevorder.
Beste groete,
Pieter Redelinghuys