Wederhelf was in 1980 lus vir treinry. Vanaf Oos-Londen Kaap toe en terug.
Die dubbelkopdiesels het ons in Rosmead ingesleep op pad terug. Na 'n rukkie merk ek hulle op waar hulle op die ander spoor stadig agteruit beweeg. 'n Blou een, en oranje kleurige paar. Was snaaks want gewoonlik ruil net die bemanning om. Na nog 'n rukkie raak ek bewus 'n gesuis-en-gestoom en kyk uit. Op dieselfde spoor kom 'n gevaarte uit 'n stoombank te voorskyn. "Suid-Afrikaanse Spoorweë" op 'n skoon rooistaalplaat. Dubbelkop, 13 D's as ek reg onthou.
Die dogtertjie hardloop in die gang af en skreeu, "Ma, ma, die poliesman oom soek tickets". Die kondukteur kom rap-en-tap aan ons deur en met die oopmaakslag daarvan, is daar 'n moerse slag. Hy val-steier halfpad die deur in, "magtig, die kolekoppe is weer rof vandag "
"Kolekoppe?!" sê-vra ek. "Ja, ons trek stoom tot bo-op Stormberg". Ek is nooit weer sedertdien so aangenaam verras nie.
Met ruk en pluk en stamp is ons uit Rosmead weg. Al langs die rytuie af tot by die eerste rytuig na die lokomotief, loop ek. By die volgende stop klim ek af en stap om na die drywer wat by die kajuit uithang. "Kan ek saam met julle ry?"
"As jy iets het ja!"
Wag, ek maak gou. En gou-gou is ek in die kajuit met 'n sixpack. Glad nie warm daar nie, net as die stoker die hefboom trap, die oond oop gaan en kole gooi. Dit ruk en pluk en skud en raas dat hoor en sien vergaan. Die drywer staan op en wys in die rigting van sy stoel. Ek gaan sit daarop en kyk, soos hy doen, agter toe. Ver agtertoe is die kondukteurswa met sy rooi lig en tussenin die kronkelende beligte slang.
Die drywer skreeu in my oor en beduie na al die meters en goeters. Hy doen niks nie. Die stoker moet net sorg vir stoom. Die voorste drywer is die ou wat alles beheer. Spoed, rem, brieke, fluit, alles.
En so kuier ons vier ure lank. Met twee biere elk oor die tydperk. Bo-op Stormberg stoom ons die stasie binne. Ek gaan terug rytuig toe en die kolekoppe word ontkoppel. Geruisloos gly die diesels met ons uit Stombergstasie uit.
Hier in my toonkas is die grootste stuk steenkool uit die steenkoolbak wat ek kon kry, met 'n gaarslap ter herinnering aan 'n aangename vier-uur lange stoomlokomotiefrit met die ou SAS & H.
'n Kleinnood.
Groetnis
Raed-na-Gael


Kommentaar
Die SAS & H het mos gestaan vir sit asseblief stil en houvas.