Nommer asseblief!

  • 0

Die administratiewe klerk van die HTS op ons dorp het  by 'n  reünie vertel  van die keer toe oom Radie, paneelklop-en- spuitverf instrukteur, op 'n nippertjie na 'n hele week  versuim en toe nog boonop die kritiese Vrydagmiddag byna vergeet het om sy vrou se "notisie" van drankies vir haar jaarlikse  uithalerverjaarsdagete op ons dorp betyds te gaan afgee.

"Dit was gedoriewaar  alreeds die  'bottelstoor' se toemaaktyd toe hy my kantoor die Vrydagmiddag voor vyf  binnestorm en pleit  dat ek die eienaar tog dadelik op die foon moet kry!" vertel Koen effens meewarig.

"Die versoeking om 'n rakker soos wyle oom Radie 'n poets te bak, was egter  toe al as 'n ondeunde gedagte  onkeer- en onweerstaanbaar groot in my kop:  Ek het dus instinktief toe die sentrale vra: "Nommer asseblief?", nie 53 nie maar 38, die pastorie s'n, aangevra en die gehoorbuis doodluiters in oom Radie se hand gestop.

"Ou 'Vên', jammer ek's so laat, maar kan julle die volgende bestelling binne die volgende halfuur by my huis aflewer seblief: 2 bottels Oudemeester, 1 Gordons Gin,  2 Bells Whiskey, 6 bottels JC Le Roux, 1 kas Kasteel dumpies, 3 Van Loveren Rooi, 3 Drostdyhof Savignon Blanc, 6 lemonade, 3 Cokes, 'n sakkie ys ..."

"En toe hy 'n oomblik huiwer om sy vrou se handskrif vir die likeur te ontsyfer, hoor en herken hy geskok die stem van ds Pepler wat ewe besadig verneem: 'En vir wie sal dit wees?' "

"Met die 'gift of the gab' waarvoor hy heinde en verre bekend was, antwoord oom Radie oombliklik deur willens en wetens die naam van ons vrome leierouderling:  Oom Florie van Rensburg van Queenstraat te verstrek en die gehoorbuis sonder enige sweem van emosie kalm en klinies op die stel terug te plaas."

"Maar toe moes ek maak lat ek wegkom want oom Radie was soos 'n bul agter 'n rooi doek al agter my  die gang af!"

"Toe ek hom herinner dat die drankwinkel, anders as die skool, eers om sesuur sluit en hy nog betyds sou wees, het die ou sienderoë gekalmeer en spore gemaak.  Hy het my die Maandagmôre met 'n glimlag ingelig dat die partytjie 'n groot sosiale sukses was maar egter bygevoeg dat hy Sondag versigtigheidshalwe liewer nie die kerkdiens bygewoon het  nie, maar eerder na die uitsaaidiens oor die radio  geluister het!"

"Sê niks dan is daar niks, het hy lakonies bygevoeg toe hy die personeelkamer binneloop en vir hom 'n koppie koffie skink!"

Humphries du Randt

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top