Webvoet se brief oor toeka se Bokke het my laat terugdink aan my eerste besoek aan Nuweland in middel 1960’s. Die Franse was hier vir ‘n kort toer, slegs twee toetse, waarvan die laaste nogal op Springs gespeel is in die Pam Brink stadion, as ek dinge reg onthou. Nietemin, op daai Saterdag speel hulle teen Westelike Provinsie en ek en my jonger boet kry kaartjies met ‘n geleentheid vanaf ons Bolandse tuisdorp Nuweland toe.
WP was my span, en watter ervaring om die helde én Nuweland werklik te sien en beleef. Die verbeelding, gevorm deur Saterdae se radiokommentaar en Maandae se Burger-koerant word werklikheid! Ons het teen so twee uur die middag myle ver geparkeer en in stortreën gestap Nuweland toe. Die destydse Noordpawiljoen was ‘n stellasie van houtplanke en steierwerk, kan jy glo.
Die WP span onthou ek feitlik volledig: Gert Kotzé, Charlie Cockrell en Tiny Neethling heel voor, slotte Andrew Janson en onbekend (dalk André De Wet?) en die losvoorspelers was Rooies van Wyk, Doug Hopwood en onbekend. Agterlangs onthou ek die losskakel, Mike Lawless en die senters Gainsford en Stewart, vleuel Jannie Engelbrecht en heelagter Lionel Wilson. WP wen die dag 14 – 11 met ‘n onderskep-drie van senter Dave Stewart. Nog ‘n interessantheid van die wedstryd was die Franse losskakel, Guy Camberrabero wat vir die eerste keer in SA “sokkerstyl” pale toe geskop het, ipv die ortodokse “reg-van-agter” metode wat ons geken het. Vandag is dié skopstyl algemeen.
Oor Webvoet se vraag ivm oorsese spelers het ek nie die antwoord nie. Wat ek wel ondervind, is dat ekself deesdae maar louerig is oor provinsiale-, super- en toetsrugby. Die rede? Ek weet self nie, behalwe dat ek dink die spelers se gedurige onlojale rondtrekkery van een streek / land na ‘n ander het my eie lojaliteit teenoor die spel ook maar ondergrawe. Verstaan my mooi: ek gun hierdie spelers elke sent van hul verdienste, want hulle is die geldmakers op wie die TV kameras gerig is. Ongelukkig is die “game” net nie vir my meer soos dit was nie. Wie was laasjaar die tyd Bok-heelagter of oopkant flank? Ek weet eenvoudig nie.
Verder is ek dit eens met Webvoet. Daar is net té veel rugby om die aandag te behou. Die afwagting van ‘n Bok-toer oorsee is net nie meer daar nie. En dan die aanhoudende ontledings van hoeveel meter spelers hardloop en hoeveel duikslae uitgevoer word, raak so irriterend dat ek by die sportbladsye verbyblaai. Nee wat, twee maal genoeg is eenmaal te veel.
Dirk Rigter


Kommentaar
Die wedstryd waarna Dirk verwys was op 18 Julie 1964.Die WP het met 20-11 gewen.
Die redes hoekom rugby vir ons ouens oorkant 50 nie meer dieselfde is as daardie dae nie?
Na my mening:
- Jy was jonk, dis maklik om 'n heldeverering te hê vir iemand wat in sy 20's is en jy is 13 as om so te voel oor 'n twintigjarige en jy is in jou vyftigs.
- Jy was honger vir toetsrugby, dit was een moerse geleenteid want daar was so min daarvan en daar was nie TV gewees nie.
- Gerhard het dit nog opwinderder laat klink as was dit was! 🙂
FC, ten minste het ek darem die 11 reg onthou en dat WP gewen het, dit was lank, lank gelede. Dankie vir die regstelling.
In die ou dae was mens meer op jou gehoor aangedrewe oor die radio waar Gerhard Viviers die prentjie vir jou beskryf en ingekleur het. Jou verbeelding het die res gedoen. En kon hy hom inkleur? Doer in 1977 toe Pierre Fourie vir Bob Forster in Albuquerque VSA loop staan en baklei het en volgens Gerhard Viviers op die radio was Pierre omtrent beroof en moes hy eintlik gewen het. Later, toe ons die film te sien kry in Windhoek se SKW-saal, toe sou ons sien dat Bob Forster vir Pierre amper vrek geslaan het!
Wat ek probeer sê, is dat met die TV vandag, sien jy 'warts and all' in grafiese detail en raak ons kieskeurig oor dit wat jy wil sien.