Ek lees in die Beeld dat die NG Kerk tydens hulle sinodesitting die besluit rakende gaypersone in die ampte weereens uitgestel het vir verdere ondersoek. Hierop moet elke gaylidmaat seker: "Halleluja" skree. Onmiddellik maal daar 'n paar vrae deur my kop. Dink die NG Kerk (of enige ander kerk) dat ons steeds in die Middeleeue leef? Dat die kerk gesag kan uitoefen oor mense se lewens? Dat die moderne mens van vandag die kerk nodig het om sy menswees te regverdig al dan nie? Dat ons die kerk nodig het om te glo in die Here? Dat ek as gaypersoon die kerk se toestemming moet gaan vra om my menswees uit te leef, al dan nie?
In hierdie tyd waar daar verdere besinning nodig is tot die volgende sinode, kan ek nie help om te wonder hoeveel stukkende lewens nog langs die NG Kerk se pad gesaai sal word nie. Wonderlike, opregte en eerlike gaymense wat net nie langer kans sien om so verneder te word nie. Hoeveel van die mense wat so baie kon doen en beteken in die kerk, sien eenvoudig net nie langer kans vir hierdie gesloer nie. Ek wonder dan waar die kerk se besorgdheid oor sy lidmate is as sovele gaymense die rug op die kerk draai. Ek hoor weer die ou aanhaling dat die kerk bang is hulle verloor lidmate as hulle n positiewe besluit rakende gaymense neem - wel die NG Kerk het my en baie ander verloor.
Vir jare het ek die orrel gespeel in die NG Kerk. Het ek in die ampte gedien. Moes ek keer op keer myself verdedig, praat oor die diepste en intiemste deel van my lewe, moes ek hoor ek moet selibaat leef (asof daar geen behoefte in my hart is om liefde te gee of te ontvang nie), net om keer om keer te gevoel te kry dat ek net nie goed genoeg is nie.
Dis nou vier jaar later en tot op hede vandag het niemand van die NG Kerk my gekontak om te vra of ek nog 'n lidmaat is nie. Geen telefoonoproep, besoek of net 'n sms nie. Waar was die kerk waarin ek groot geword het toe ek deur geweldige moeilike tye gegaan het, toe ek deur werkloosheid moes worstel, toe ek in 'n verhoudingskrisis was? So kan ek talle ander geleenthede noem.
Dan wonder die kerk waarom sy lidmate verloor. My en ander gaymense se geloofspad het lankal 'n ander rigting ingeslaan - ver verwyderd van 'n kerk of kerke wat dink hulle het nog die mag om 'n houvas om mense se lewens uit te oefen.
Eks-NG lidmaat


Kommentaar
Beste Eks-NG lidmaat,
Graag wil ek jou opreg gelukwens met jou besluit om uit die NG Kerk pad te gee. Jy het 'n stap in die regte rigting geneem, en trouens om uit die Kerk te bedank, is tans 'n wêreldwye fenomeen. Ons leef beslis nie meer in 'n Kerk-beïnvloede staat nie, maar tot 'n groot mate in 'n sekulêre wêreld en 'n regsstaat. Die invloed van kerke op die gemeenskap deesdae is ook drasties minder as in die verlede.
In Finland het verlede jaar 70,000 lidmate uit die Luterse Kerk bedank nadat 'n minister ('n regse evangelis) verantwoordelik vir godsdiens- en kerkaangeleenthede anti-Gay uitsprake gelewer het. 'n Pragtige voorbeeld van solidariteit tussen mense omdat al hierdie persone onmoontlik gay kon wees. Die Kerk moet geslaan word waar hy dit die meeste sal voel - nl in sy sak. Sny sy inkomste af, en dan is ek seker dat ook gay kontribusies vir sy instandhouding welkom sal wees.
Beste groete,
Pieter Redelinghuys
Beste Eks-NG lidmaat,
Ek is wel nie homoseksueel nie, maar ek wil heelhartig my empatie met jou deel.
Ja, daar was 'n tyd (selfs onlangs) wat die NG Kerk aan hul lidmate gedikteer het hoe om te stem (waar om hul kruisie in politieke verkiessings te trek).
Sedertdien kruip hulle vir oorlewing deur gedurig verskoning by die "skoen aan die ander voet" te pleit en die moord en doodslag op ons plase te ignoreer!
Nee wat, met liefde en respek aan elke nederige kind van die HERE steeds in hierdie Bybelaanbid-organisasies; hoe gouer hulle ontbind en die vergetelheid in verdwyn, hoe beter!
Namaste!
Katolieke (met 'n kleinletter k) groete,
Cornelius Henn
Pieter, baie dankie vir jou kommentaar. Dis 'n stap in die regte rigting, maar dit maak ook seer om so deur die kerk verwerp te word. Die een instansie wat regtig liefde moet bewys, het deur die eeue mense soveel leed aangedoen. Ek wens die kerk wil dit besef dat die moderne mens die kerk regtig nie meer nodig het om rigting aan te dui in die lewe nie. Ek het ook talle nie-gayvriende wat lankal die rug op die kerk gedraai het. Ek waardeer Cornelius se sentimente, veral omdat dit kom van 'n nie-gay persoon. Groete
Eks-NG lidmaat
Ek verstaan dit nie. Hoe kon daar hoegenaamd so'n punt op die agenda gewees het? Het hulle al byvoorbeeld besluit of 'n ou met 'n Russiese oupa in 'n amp aangestel kan word, of iemand met 'n voorliefde vir karre met vergassers? Ek glo nie want dis nie 'n kwessie nie; enigiemand wat 'n lidmaat is, veral 'n bydraende ene, kan mos, as hy of sy bereid is, sy of haar kant in 'n amp bring of hoe?
Al rede hoekom daar so'n besprekingspunt kon wees moet wees omdat daar in een of ander dokument bepaal is dat gays nie in ampte mag dien nie. Al wat dus nodig was om te bespreek was die skrap van daardie spesifieke bepaling, en NIE of gays toegelaat behoort te word of nie.
Indien daar nie so 'n bepaling in een of ander dokument is nie, hoe de joos het 'n punt soos hierdie te berde gekom?
Indien daar wel so 'n dokument is, hoe lees hy; "almal wat al uit die kas geklim het mag nie 'n amp in die kerk beklee nie"? Daar is tog vir seker onder die predikante en ander ampsdraers gays en wat nou gemaak as hulle uit die kas uitklim, hulle onder sensuur plaas vir bedrog of meineed?
Dis 'n skande dat 'n ou wat vir jare orrel gespeel het en 'n amp beklee het nou verstoot word. Dis ou-tetamenties, dus onchristelik.
Jan Rap
Ek kan nie meer met jou saamstem as die vraag wat jy vrae nie: "Hoe kon daar hoegenaamd so 'n punt op die agenda gewees het?" Hang 'n mens se werksvermoë af van jou seksualiteit? Is dit net heteroseksuele dominees wat die evangelie kan verkondig?
Ter wille van duidelikheid sal die NG Kerk reageer deur hulle standpunt duidelik te stel dat gaymense wel in die ampte mag dien. Nou onlangs het ek op RSG gehoor dat een van die dominees self sover gaan om te beweer dat daar talle gaypersone is wat wonderlike werk in die kerk doen. Maar die hele probleem kom in by die onrealistiese eis wat hulle stel naamlik dat die gaypersoon selibaat moet wees. Geen persoon wat in 'n verhouding met iemand van dieselfde geslag is mag in die ampte dien nie.
Dit bring my by 'n volgende gedagte en dit herroep ek uit my katkisasiedae toe ons geleer is van sektekerke. Ons is geleer dat sektekerke altyd die Bybel plus iets voorhou. Nou wonder ek maar net, wat doen hulle dan anders as hulle die volgende aan lidmate voorhou: die Bybel plus heteroseksule ampsdraers of die Bybel plus gay selibate ampsdraers?
Dankie vir die uitwys van die skande. Ek sal jok as ek beweer dit maak nie seer nie, of dat lidmate wat altyd langs die orrel gesit het en dikwels by ons aan huis gekom het met hulle probleme, jou nou ignoreer en maak asof hulle jou nie ken nie. Ek sal jok as ek beweer dat ek nie in vier jaar se tyd heimlik gehoop het dat iemand van die kerk my sal kontak nie - veral omdat ek nie uit die kerk bedank het nie.
Gelukkig het een van die min wyse, liefdevolle dominees wat gaymense ten volle aanvaar en self hulle kinders doop, een keer vir my gesê: "Dit is hulle verlies!"
X-NG Lidmaat
Elke organisasie, hetsy sekulêr of godsdienstig, het 'n gedragskode, en die verbreking daarvan plaas die betrokke persoon onder sensuur of onderhewig aan 'n disiplinere prosedure. Dieselfde geld vir die Katolieke Kerk wat Cornelius blindelings aanbid (nie die se god of Jesus nie), asook die NG of Gereformeerde Kerke wat Cornelius spog hy dan en wan nagmaal by hulle geniet (inteendeel hulle nagmaaltafel besoedel), en terselfde tyd in dieselfde asem, soos hierbo te sê, nl: " hoe gouer hulle ontbind en die vergetelheid in verdwyn, hoe beter!", met die wanhoop dat Afrikaners dienooreenkomstig nou kwansuis Katoliek gaan word!! 'n Ander voorbeeld is waar die huidige Katolike pous, 'n Australiese priester onlangs ekskommunikeer het weens sy voorstaan van vroue as priesters in die Katolieke kerk, asook vir gay huwelike.
Ek is gay, ook X-NG. Ek respekteer hulle reg tot hulle godsdiens en hulle reg tot hulle vertolking van hulle godsdiens, insluitende dat hulle homoseksualiteit 'n sonde beskou (terloops Corneels se Katolieke Kerk ook). Dit is nie vir my om die kerk, of die kerk se god, te probeer buig na my leefswyse nie. Inteendeel die betrokke gay NG-lid sal moet besluit om hom aan hulle gedragskode te onderwerp, of die kerk te verlaat. Verlaat hy die kerk, voel ek behoort hy dit in goeie trou te laat geskied en nie in venyn nie. After all. Blaas jy gal teenoor die NG of Gereforemeerde kerke, blaas jy gal teenoor jou voorgeslag, miskien selfs jou ouers, wat getroue en geliefde lede van die kerk was.
Solank die NG, Gereforemeerde of Katolieke kerke nie myself persoonlik tenakom nie, en my lewe deur middel van staatsgesag probeer manipuleer nie, het ek geen pyn met enige van hulle nie. Nie soos die Katolieke biskoppe van die VSA wat vir hulle lede opdrag gegee het waar hulle hulle kruisies moet trek, soos met die laaste verkiesing nie (die internet is vol voorbeelde van hulle optredes), of soos in die Filipyne jou jou reg ontsê om voorbehoedmiddels te kan gebruik, Katoliek al dan nie.
Indien jy 'n Christen wil bly, kies dan vir jou 'n kerk uit wat versoening daarmee het. Indien jy die Bybel als god se openbaring aan die mens beskou, maak nie saak aan watter kerk jy wil behoort nie, het jy 'n daadwerklike probleem, want die Bybybel is ondubbelsinnig rakende god se afkeur van homoseksualiteit. Ek verkies om geen god te aanbid nie, en het dus nie 'n behoefte daaraan om 'n lid van enige kerk te wil wees nie.
Jaco Fourie
Beste Eks-NG lidmaat,
sekte, =s. 1. Groep mense wat 'n bepaalde vertolking vd godsdiens aanhang, afgeskei vd hoofkerk of die gevestigde godsdiens. 2. Afgesplitste godsdienstige groep.
Trienie Mahne en Kobus de Klerk byvoorbeeld, is elk onderskeidelik en heel waarskynlik deel aan so 'n sekte, wat uit 'n sekte gebreek het, wat op hul beurt uit 'n ander sekte afgesplits het, wat lank gelede iewers in hul geskiedenis weer uit een van die vele ander hoofstroom en susterlike Protestante sektes geprotesteer het ...
Meeste hier wat vandag die Bybel as Jesus Christus aanbid, had egter hul wortels iewers uit die Roomses eeue gelede, en het toe verdwaal.
Ek glo en bely 'n enige katolieke of algemene Kerk wat 'n heilige versameling is van ALMAL wat in Jesus Christus glo, wat hul hele saligheid in Jesus Christus verwag en gewas is in Sy bloed, geheilig en verseël is deur Shekhinah, God onse Moeder - die Heilige Gees.
Hierdie katolieke Kerk (katoliek met 'n kleinletter "k"), was daar van die begin van die wêreld af en sal daar wees tot aan die einde.
Die katolieke Kerk, is ook die opregte en nederige draers van die Evangelie.
Die sogenaamde ware Christengelowiges onder die toejuiging van hul ewe siniese ongelowige aanhangers so berug hier, dring nes die Skrifgeleerdes en Fariseërs van ouds daarop aan dat hulle - ons Almagtige Lewende Skepper in pag het.
Sonder skroom verwys hulle na die Bybel, woedend en boos geklem in hul hand, as Jesus Christus (die Woord van God). Daarmee misken en ontsier hulle in absolute haat, ander se harte in diens en eer tot onse Skepper.
Ja, oral sing, dans, en verfraai mense tot eer van GOD. Geloof, hoop en liefde is elkeen se empirie in die lewe. My betoog is dat as jy sulke ervaring vir jouself toeëien, jy ander se persoonlike ervaring om te glo, hoop en lief te hê, ook moet respekteer.
Ag jou eie ervaringe.
Niemand - nie eens die dood - kan jou dit ontneem nie. Niemand kan dit eien of ontsê nie. Geen wetenskap kan dit verklaar nie. Dis joune - net joune!
Mag Jesus Christus onse enige God, self die Troos in ’n ieder se hart wees.
Namaste!
Cornelius Henn