Cornelius
Jy dig baie aan my toe, waarin ek myself nie aan kan herken nie
Ek gaan vir jou ‘n opsomming gee hoe ek myself sien, hopelik dat jy daardeur my beter sal verstaan.
Ek is ’n Afrikaner en Afrikaanssprekend gesentreerd, gay en ‘n atëis. Ek is Suid-Afrikaner as tweede keuse.
Ek is trots op my familiegeskiedenis, asook trots op hulle bydrae tot die Afrikanerdom in sy geheel, en bykomstig tot die Suid-Afrikaanse samelewing. Hierdie familiegeskiedenis strek met die intrap toe Louie Fourie as 19-jarige seun, alleen onder sy gesinsgenote die reis as Hugenoot oorspronklik vanaf Pointax te Dauphin Frankryk, daarna Texel Holland met die skip “De Wapen Van Alkmaar” na die Kaap aangepak het om as patriarg van almal wat die Fourie-van hier en elders dra, uiteindelik te word.
Daarna sy tweede jongste seun (21ste van 22 kinders), nl Stephanus wat as trekboer die Karoo ingevaar het, saam met van sy broers. Dawid Hermanus, was een van sy vele seuns as Voortrekker, wat saam met Piet Retief in sy oudag (oor die 60 jaar) te Dingaanstat vermoor was. Opvolgende nageslagte was Stephanus; Ockert; Daniel Hendrik; Michael Muller; ouboet Daniel en myself.
Toe Dawid die Groot Trek aangepak het, het van sy volwasse kinders in die Kaap (Oudtshoorn omgewing, voorheen Armoed, vandag se Volmoed), agtergebly, wyl die res deel van die Trek was.
My oupa Daniel Hendrik was ‘n Smuts-aanhanger, dws ‘n SAP, my eie pa ‘n Ossewabrandwag-deelnemer, en later ‘n Nat; en was daar nie familietwis tussen my oupa en my pa nie!
Ek is die laatlammetjie. Ouboet is 19 jaar ouer as ek, en ek was gevolglik my ma se witbroodjie, seker die dat ek gay is.
Ouboet se oudste seun, vanuit sy eerste huwelik, Andre, woon in Hemel Hempstead, Engeland, en is met ‘n pragtige Engelse vrou getroud. Sy jongste seun met sy Afrikanervrou woon in Pretoria. Kinders vanuit sy tweede huwelik is nog te jonk om te trou.
Soos die geval met Dawid Hermanus se seuns waarvan deel Kolonialers was en die ander republikeinse-Boere, so het ouboet van sy seuns in Engeland, en ander in die RSA. Ek sal geen nageslag nalaat nie, dus vorm ek voortaan nie deel van die Fourie-toekoms nie.
Hierdie gesin het verskillende “epochs” van ons geskiedenis deurgegaan, Kaaps- Hollands; Engelse onderdane; Trekboere; Groot Trek; Kolonialers asook Republikeine; Unie; Republiek, en nou Demokrasie. Elke “epoch” het sy eiesoortige leefwyse gehad, waarvan die opvolgende “epoch”, ‘n eiesoortige “nuwe Afrikaner” opgelewer het, oa vandag se Afrikaner, of jou “Neo Afrikaners”
Geskiedkundige tragedies in ons gesamentlike Afrikanergeskiedenis, soos Slagtersnek, Dingaanstad, Bloukrans, Bloedrivier, die tweede Engelse oorlog, die konsentrasiekampe ens verwerp ek nie. Hulle is sake waaroor ek met geleenthede oor diep bepeins. Maar vir die Afrikaner van vandag is dit geskiedenis, nie ‘n godsdiens soos sovele daarvan vir hulself gemaak het nie.
Wanneer ons ons eie geskiedenis betrag, moet ons nie vergeet dat ander in hierdie land ook ‘n geskiedenis het. Waar hulle geskiedenis met ons s’n oorvleuel moet ons volwasse genoeg kan wees om ‘n objektiewe waarneming te kan maak, en indien nodig te erken waar ons as Afrikaners gefouteer het. In die bestel van Christelike waardes, vereis die Christelike geloof versoening, asook om jammer te kan sê. Die oorgrote meerderheid Afrikaners is steeds Christene, so dit behoort eintlik nie vir hulle problematies te wees nie.
Waar ongeregtighede teenoor Afrikaners gepleeg is, hoort die Afrikaner ook ‘n gesindheid van versoening en vergiffenis te kan uiter. Volkere wat erger wreedhede as hier in S.A. ondervind het, is met mekaar versoen: Japan / VSA, Brittanje / Frankryk / Duitsland, ens. Nou as hulle dit kan regkry, hoekom ook nie die Afrikaner nie?
Die Demokratiese “epoch” het in 1994 begin. Dit is ‘n wanvoorstelling om te sê my waarneming van die Afrikaner-geskiedenis begin vanaf daardie datum. Ek gee net erkenning aan ‘n nuwe bedeling beginnende vanaf daardie datum. Ek leef nie in ontkenning oor alles wat voorafgegaan het nie.
Vir my is die Waarheid en Versoeningskommissie ‘n keerpunt in ons gesamentlike geskiedenis. ‘n “Heilige” insident, ‘n verbond, waar twee botsende belangegroepe die hand vrywillig vir mekaar uitgereik het en daardeur te kenne gegee het dat die ongeregtighede, beide kante toe, is deur die betrokke partye vergewe.
Dienooreenkomstig, verwerp ek in die gees van sodanige kommissie enige rasgedrewe wetgewing wat ‘n ras, veral in wetgewing, ondergeskik aan ‘n ander ras maak, veral mbt tot die ontsê van gelyke geleenthede aan die betrokke ras.
Ek glo om Afrikanerbelange pragmaties te benader. Die ideaal van politieke Afrikanerselfbeskikking is ‘n onmoontlikheid van watter kant ook al gesien. Die onderwerp is tot vervelens toe gedebatteer, met geen haalbare antwoord in die vooruitsig nie. Die beste wat die Afrikaner werklik vir homself sal kan bemagtig, is taal en kulturele erkenning, en die onus berus op die Afrikaner tot watter mate hy selfs dit vir homself verlang. Dit is vir hierdie stryd waaraan ek my verbind.
Orania en Kleinfontein is bewyse van suksesvolle enklawes in hierdie land. Die moontlikheid, asook die konstitusie, verleen vele geleenthede vir die toekoms. Ek as gay ateis sal nie vir inwoning kwalifiseer nie, en jy as Katoliek ook nie. Alhoewel ek hulle regte ondersteun, wil ek self nie in beide woon nie. Hulle sal altyd gegrond wees op maatskappywetgewing, en maak nie saak hoeveel hulle hulself wil bedrieg nie, hulle bly ‘n integrale deel van die politieke bestel van hierdie land. Hulle funksioneer in werklikheid soortgelyk as die Amish-gemeenskappe in die VSA.
Nou Cornelius, jy moet my reghelp. Ek het die indruk (heelwaarskynlik ‘n wanindruk), jy is partydig vir ‘n sekere sektor van die Afrikanerdom, en verwerp die res. Vir my het ek die verdere indruk jy is verdraagsaam mbt tot die sinkretisme (katoliek) van wederstrydende godsdienste, maar onverdraagsaam mbt Afrikaners wat van jou siening van Afrikaner-wees verskil.


Kommentaar
Beste Jaco,
Dankie vir jou uitgebreide en persoonlike verklaring hierbo.
Ek het baie ooreenstemming met jou.
Nes jy, het ek ook 'n lang en trotse geskiedenis wat oor baie geslagte aan Mzansi strek.
Ek het ook naby en diep wortels nog op plekke onder die Noorderlig vandag.
Dit blyk dat ons verskille meestal op elk se eie ervaring berus.
Ek kom uit 'n ander era en besef die erns dat waar 'n mens se oorlewing geraak word, "charity begins at home" dalk 'n veel beter leuse is as om die voete te wil was van sulkes wat jou openlik aflag en boonop in die gesig skop!
Dis allermins die Evangelie om jou geliefdes te verraai in jou versoening met die vyand - ons geliefde emeritus aartsbiskop Desmond Tutu sal my daarin ondersteun.
Dis absurd om my waardigheid as 'n wit Boere Afrikanerman, eggenoot en pa as iets rassisties en onverdraagsaam teenoor ander te lees.
Nee Jaco, ek't reeds menigmaal my nederige respek en liefde onder meer vir die Griekwa, Namakwa, Kaapses en Khoisan hier op die werf gestel.
My onderskeid aan elke identiteit is gebore uit selfrespek as 'n Godgegewe gawe.
Is dit nie gewoon en ietwat minderwaardig (veral kommunisties) om my krone in hierdie lewe as 'n bedreiging of ontneming van jou of ander se indiwidualiteit te lees nie?
My beskouing omtrent Godsdiens verskil van sulke grense aangesien elke hart wat God dien, deur God alleen geken en aan behoort - dit gewis vir GEEN sterfling op aarde is om grense daartussen te trek en te veroordeel nie (gelowig of ongelowig)!
Daarenteen is my identiteit as 'n Boere-Afrikanerman, eggenoot en pa iets verganklik en begrensde genade (talent) wat vir my geleen is om my Skepper en my medemens mee te dien.
Daarom erken en onderskei ek myself nederig in God se liefde en genade daarin.
Jaco, Edmund Burke se wysheid val my as iets uiters betekenisvol vir jou ook op.
Lees 'n bietjie meer en bedink hierdie groot gees se wysheid voor jy etikette soos "regse gekkegrensers" aan Godsdienstige, verantwoordelike en konserwatiewe medeburgers hang.
Namaste!
Hindoe-, Moslem-, Joodse, Boeddhistiese, katolieke Boeregroete en Afrikaliefde,
Cornelius Henn