Namakwaland se blomme ensomeer

  • 0

Eerste instink toe dit gebeur het was om hier te kla, toe dink ek later dit sal negatief en afbrekend klink, so asof mens net die slegte kant van alles raaksien.

So, die toer via Sutherland, Matjiesfontein, met die 1100 kilometer (om)pad via Beaufort-Wes na Augrabies omrede die grondpad tussen Sutherland en Calvinia te sleg is vir gewone voertuig, Springbok – Goegap nasionale park, Kamieskroon – Namakwa nasionale park, Van Rynsdorp, Nieuwoudtville, Calvinia, Loeriesfontein, Clanwilliam, Lambertsbaai, Wuppertal, af deur amper 20 “stop-go’s” vanaf Van Rhynsdorp – Clanwilliam – Citrusdal, ‘n draai langs die Weskus en huis toe via die dorpe wat mens normaalweg misry soos Riebeeck-Kasteel, Tulbagh, Montagu ens was baie interessant, verruklik mooi en natuurlik opwindend omrede mens nie weet wat om die volgende draai lê nie, of moet ek sê, oor die volgende horison, want die paaie is laaank en reguit, noordwaarts in die rigting van Upington.

Sutherland wat beskryf word as die omgewing in SA wat die meeste wolklose dae per jaar het, was koud, winderig en dit het gesous, so geen sterretjies-kykery nie.
Oranjerivier se watervlak was laag, sal graag die Augrabies-valle wil sien met Oranjerivier in vloed.

Dinge wat gepla het is (soos beskryf oor Oos-Transvaal destyds):

Nieuwoudtville se waterval wat al die jare van nature daar is en toeganklik was (raai ek), daar moet jy nou betaal om die natuur te aanskou.
Ek het uitgesien om sedert ek laas in 1994 die onbeskryflike gesig aanskou het van al die voëls op die eiland by Lambertsbaai wat jy via die breekwater kon besoek, weer te aanskou. Ek was geskok toe ek agterkom jy moet deesdae R40 per persoon betaal om op die breekwater te mag loop. ‘n Skreiende uitbuiting, wetende dat mense dit graag wil besoek. Dis lekker geld maak as ‘n bus vol toeriste daar stop en elkeen moet R40 opdok, vir iets wat al die jare toeganklik was en geen koste/infrastruktuur is na my wete intussen aangegaan nie, dis net nog ‘n lekker manier van geld maak.

Clanwilliam se blommefees wat in die kerkgebou gehou word, kan gerus hul glashouer met die opskrif: “Donasies” verander na: “Toegangsfooi: R20”. Ek is onder die indruk dat “donasie” beteken dis ‘n vrywillige bydrae wat jy maak en self besluit hoeveel jy wil gee.

Wuppertal se visioene van die berggans wat sy veer laat val het van die hoogste bergkrans, wat my jare bygehou het, is ook nou tot ruste gebring, niks romanties aan die slegte grondpad, enkele paar skoene wat op die afgeleefde “velskoen”fabriek” se rakke lê nie. Niemand se skuld dat weens die reënweer mens nie die berghange kon aanskou wat seker Wuppertal omsingel nie. Maar dis ‘n “depressing” gesig, die plekkie, glad nie wat ek in gedagte gehad het nie.

Wonderlik gewees om AFRIKAANS te kon hoor en praat tydens die hele trippie van oor die 5 000 kilos!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top