Dis meer as 'n verleentheid, dis 'n dekselse skande dat soveel Afrikaners vir die DA stem. Ek stem vir die VF+ en voel dieselfde as jy oor die swak steun wat ons kry.
Dit het onder Tony Leon al begin, met sy veldtog "Fight Back". Die mense het geglo die DA haat die ANC net soveel as hulle en dat die DA effektief teen die ANC kan baklei. Maar dis nou al oor en oor bewys dat hulle net baie lawaai maak, maar eintlik niks regkry nie. Die ANC loop net eenvoudig oor hulle en doen wat hulle wil. Met die pas afgelope verkiesing het die DA groot gewag daarvan gemaak dat hulle Gauteng en dalk selfs die Noord-Kaap gaan vat, maar daar het niks van gekom nie, hoewel hulle darem 'n bietjie vordering gemaak het.
Ongelukkig het die VF+ te min geld om 'n behoorlike verkiesingveldtog te voer. Hier in PE was net 'n paar plakkate, maar geen vergaderings waarvan ek weet nie. Dit lyk my of meneer Mulder ook nie juis 'n groot spreker is wat mense kan aanvuur nie. Dis nogal jammer dat Malema nie 'n Afrikaner is nie!
Vir my gaan dit daaroor dat ek graag die Afrikaners min of meer verenig wil sien, om doeltreffend vir ons mindersheidsbelange die stryd te voer. En om genoeg geld in te samel vir hofsake teen die ANC se minagting van die Grondwet en om Afrikaners wat hul werk en plase verloor het, weer op die been te bring.
Die ANC-regering sal nooit hierdie land 'n suksesvolle, vooruitstrewende eenheid kan maak nie. Een rede is dat hulle hand om die lyf wil sit met die vakbonde, wat geweldige skade aan die ekonomie doen, soos nou met die stakings in die platinumstreek. 'n Ander eienaardigheid is dat hulle blykbaar baie sag is op korruptes en ander skelms in hulle regering. Daar word ook nie opgetree teen onbevoegdes nie, soos die plaaslike owerhede wat nie hulle werk doen nie en die land se waters besoedel met riool. Hierdie dinge moet ferm vasgevat word, maar dit lyk of hulle eerder wil paai en mooi praat. Mbeki het al gepraat van "...lack of skills..." maar skynbaar word niks gedoen om dit reg te stel nie. Daar behoort 'n departement vir plaaslike owerhede te wees, met groot magte en baie geld om probleme dadelik reg te stel. Miskien sal dit verbeter onder meneer Gordhan, wat nou as minister daar aangestel is.
Groete,
Varkspek


Kommentaar
Varkspek
Ek het ook, en sal steeds VF+ stem, miskien vir nie dieselfde redes as jy nie.
Net om 'n paar van jou stellings in perspektief te stel wat jy hierbo gemaak het:
1. "Ongelukkig het die VF+ te min geld om 'n behoorlike verkiesingveldtog te voer".
Alle parlementêre partye het staatsgeld vir die verkiesing gekry, proporsioneel tot hulle grootte. Net soos die ander partye, is die onus ook op die VF+ om fondse te werf, veral onder tradisionele Afrikaner sakelui-instansies. Tot watter mate dit gedoen is bly 'n vraagteken. In elk geval soos jy sê, Mulder is nie 'n vuurvreter wat sodanige sakelui sal wil belustig om vir die VF+ finansieël te wil ondersteun nie.
2. "Vir my gaan dit daaroor dat ek graag die Afrikaners min of meer verenig wil sien, om doeltreffend vir ons mindersheidsbelange die stryd te voer."
Die Afrikaner is en was nooit verenig nie, en daar is niks fout daarmee nie, want belange onderling is ook nie eenders nie. Ten spyte daarvan doen dit nie afbreuk aan enigeen se Afrikanerskap nie. Die kernbelang onderling behoort te wees om die taal en kultuur behoue te laat bly.
3. "En om genoeg geld in te samel vir hofsake teen die ANC se minagting van die Grondwet en om Afrikaners wat hul werk en plase verloor het, weer op die been te bring".
Boere het nie plase verloor nie. Hulle is uitgekoop teen markverwante pryse. Hulle sit nie sonder werk nie, en het die kapitaal aangewend vir ander besigheidsaangeleenthede. Die gevaar nou vir die oorblywende boere is dat hulle nie teen markverwante pryse uitbetaal gaan word nie, maar op pryse deur die staat vasgestel, wat kan veroorsaak dat die betrokke boer nie sy regmatige waarde gaan kry nie. mbt Hofsake. AfriForum het meerendeels met groot sukses hofsake vir verontregtes gewen, hofsake wat AfriForum namens hulle lede voor betaal het. Jy hoef net 'n ingeskrewe lid teen 'n karige lidfooi te wees van Solidariteit / AfriForum, om hierdie voordeel te kan geniet. Die meerderheid Afrikaner-werkloses het vir die DA gestem. So hulle ontervredenheid kan seker nie so erg wees dat dit hulle knyp nie.