'n Graf met betekenis

  • 11

Ek het my ma en pa se grafte nooit weer besoek. Daar is geen begeerte  – hulle is nie meer daar nie. 

Maar wat van blomme vir ’n eensame graf?  Koop vir jou huweliksmaat blomme terwyl hy/sy nog leef, sodat die geur daarvan die liefde tussen julle laat blom.  

Al die stigters van groot godsdiens bewegings het gesterf en kan hul grafte vandag nog besoek word. Dink maar aan Zoroaster, Boeddha, Mohammed, Darwin en Marx. Hul gebeendere het ook moontlik vergaan. Maar Jesus Christus lewe!

Die liggaamlike opstanding van Jesus Christus uit die dood is geweldig belangrik. Want die dood is die mens se grootste vyand; dit oorwin alles. Selfs materiële dinge soos huise, voertuie, nasies. Die dood kon egter Jesus Christus nie oorwin nie.

Hierdie oorwinning van Jesus demonstreer hoop vir alle mense; ’n bewys dat die Ewige Lewe vir die gelowige beskikbaar is; asook ’n bewys van die uiteindelike oorwinning van God oor die bose.

Maak nie saak of jy ’n filosofiese naturalis of ’n Christen is nie, die uitwerking van Jesus se wederopstanding is waarlik wonderbaarlik. En al mag ongelowiges hierdie aanspraak bespot, word dit gesien as ’n teologiese wonderwerk wat nie die bonatuurlike uitsluit nie.

Historiese geleerdes stem saam oor sekere kernfeite:

  1. Jesus is gekruisig en begrawe.
  2. Drie dae na Sy dood het Sy liggaam verdwyn.
  3. Daar is verslae van verskynings van Jesus aan gelowiges en ongelowiges tydens die verloop van 40 dae.

Enige teenargument wat op kognitiewe dissonansie gebaseer is, misluk daarin om twee kernfeite van die opstanding te verduidelik:  die liggaam wat verdwyn het en die verskyning van Jesus aan Sy vyande en diegene wat getwyfel het.

Skeptici wil so graag hê dat Jesus dood moet wees, of nie werklik bestaan het nie, dat hulle aanpassings maak wat nodig is om die bewyse te ignoreer of verkeerd uit te lê.

Jesus se opstanding bly ’n teologiese wonderwerk. Dit betrek ’n bonatuurlike Skepper en outomaties laat dit dus ware wonderwerke toe. CS Lewis se bekende woorde sal ons altyd bybly: “As ons God erken, moet ons wonderwerke erken? Inderdaad, inderdaad, jy het geen verweer daarteen nie.”

Wanneer ’n denkende persoon die universeel aanvaarde historiografiese geskiedkundige maatstawwe nagaan wat gebruik word om geskiedkundige verslae te ondersoek, verskyn die opsie van die teologiese wonderwerk as die beste moontlike verduideliking vir Jesus se opstanding.

Die gevolgtrekking? Daardie eerste Paasoggend het ’n Goddelike wonderwerk plaasgevind.

Selfs Dr Thomas Arnold, voormalige voorsitter van moderne geskiedenis aan Oxford en outeur van gerespekteerde volumes in die “History of Rome” sê: “Ek is nie bewus van enige gebeurtenis in die geskiedenis van die mensdom wat deur vollediger bewyse van enige aard bevestig word, as die Godgegewe teken – dat Christus gesterf het en weer uit die dood opgestaan het nie.”

Paastyd is ongetwyfeld die heiligste tydperk op die Christen-kalender. Dit is die tyd wanneer gelowiges nadink oor die wonderwerkende offer wat die Here Jesus vir ons aan die Kruis gebring het en ook om Sy Opstanding te vier.

Die wonderlikste wete vir my oor hierdie tyd is: sonde is oorwin. Sonder die Opstanding sou al die lyding en sonde wat Jesus gedra het, verniet wees (1 Kor 15:17). Die Bybel noem dat die dood Hom nie in die graf kon hou nie. Dit was Jesus se volmaakte, sondelose lewe wat dit vir God moontlik gemaak het om Hom uit die dood op te wek.

Ons kan hier op aarde ook oorwinning oor die sonde beleef, omdat satan en sonde reeds aan die Kruis oorwin is en die opstanding die bewys daarvan is. Ons oorwinning oor sonde word behaal wanneer ons onsself verloën, ons kruis opneem en Hom volg.

Veilig ry en geniet jou Paasfees.

Trienie

  • 11

Kommentaar

  • Trienie,

    Ai tog Trienie, watse "sondes"  is dit wat jy so baie en so gereeld doen wat jou so dankbaar maak dat bloed daarvoor gestort moes word. Noem hulle asseblief vir ons.  Kan jy "sonde" vir ons definieer? Noem dan net so 'n paar, sê vyf, van jou dade wat aan so 'n definisie voldoen. Jy moet stellings wat jy maak darem mos kan substansieer. Nie waar nie?

     

    Ek probeer my bes om "sondes" wat ek kwansuis sou doen te identifiseer waarvoor ek vergifnis moet vra. Maar weet jy ek weet nie wanneer ek sonde doen nie. Soms voel ek sleg oor optredes van my in bepaalde omstandighede en soms voel ek goed oor dinge wat ek gedoen het. Ek noem dit onaanvaarbare gedrag en aanvaarbare gedrag. Maar "sondes" waarvoor iemand nodig gehad het om aan 'n kruis te sterf; ag nee wat, dit klink vir my na onnodige selfkastyding en selfbejammering. 

     

    Hoor graag van jou.

    Koos 

  • Die treurige ironie van alle godsdienste  is dat alle godsdienste se gelowe gemik is uitsluitlik op 'n verlange na 'n herlewing na die dood.  Ten doel om 'n god te plesier vir net een enkele rede, naamlik om 'n plekkie in die hiernamels in 'n duistere hemel verseker te wil wees.

    Die verdere bittere ironie is dat die gelowige deur die ewige onbewussyn na sy dood, nooit sal kan agterkom dat hy 'n nuttelose godsdienstige lewe gehad het nie, en in die proses non-gelowiges se lewens onnodig versuur het.

  • 'n Aparte response

    Die patriaarg van die Ortodokse kerk in Kiev Ukrain, en die patriaarg van die Russiese Ortokokse kerk in Moskou, altwee in dieselfde kerk, altwee aanbid dieselfde "god";  maak aanspraak daarop dat hulle "god" dieselfde "god" is, dat hierdie "god" partydig die een teenoor die ander ondersteun.  En so sweep hulle hulle gelowiges teenoor mekaar op!

    Dit in sigself sê nie veel vir godsdiens nie.

  • Kobus de Klerk

    Koos en Jaco,

     
    Beide van julle kan ongetwyfeld slegs baat vind by wat Trienie hierbo weergee. Lees dit aandagtig en probeer ten minste die belang daarvan vir julself insien.
     
    Koos, as jy die Woord lees, sal jy kan agterkom wat God van ons verlang, nie net in ons verhouding met Hom nie, maar ook met mekaar (dit is waaroor die Twee Gebooie gaan) en dan sal jy telkens wanneer jy sondig geen moeite ondervind om die sondigheid te eien nie - want om te sondig is om teen God se wil te doen en praat. God se wil vir ons word uitgespel deur die twee Gebooie (Mattheus 22:37-40). God is God, en nie mens nie. Waar sou mens dan die regverdiging kon verkry deur voortdurend teen God se wil op te tree en daarmee onbepaald wegkom?  Waarom sou God dan nie so 'n mens se lewe termineer nie? Maar dit is waaroor sonde (jy noem dit onaanvaarbare gedrag), die belydenis daarvan en vergiffenis gaan. Dink daaroor - as jy elke dag 'onaanvaarbaar' teenoor iemand optree, sou jy sekerlik nie verbaas wees wanneer daar kort voor lank vir jou dure gevolge uit sou voortvloei nie. Hoeveel te meer nie so met sonde teenoor God nie? Maar anders as mense, is God bereid om, as jy werklik daaroor spyt het (wat ook beteken dat jy werklik jou bes sal doen om met die onaanvaarbare gedrag op te hou), jou dit onvoorwaardelik te vergewe.
     
    Jaco, religie is maar al te dikwels die handewerk van die mense wat dit bedryf, maar dit is sekerlik nie iets waarvoor jy God kan verantwoordelik hou nie. Jy behoort mos al teen hierdie tyd te weet - God en religie is nie een nie.  Religie word deur die mens ontwikkel om te probeer om God daarmee te dien, maar dit kan God nie definieer nie. God het wel te kenne gegee welke Godsdiens Hom sal behaag en die staan in die Woord opgeteken en wentel rondom die opregte uitlewing van die vermelde Twee Gebooie.
     
    Kobus de Klerk
  • Dan

    Dankie vir jou terugvoer.

    Ek haal aan 'n response wat Kobus de Klerk aan my gerig het, wat op jou brief ook toepaslik kan wees, nl.

    "religie is maar al te dikwels die handewerk van die mense wat dit bedryf, maar dit is sekerlik nie iets waarvoor jy God kan verantwoordelik hou nie. Jy behoort mos al teen hierdie tyd te weet - God en religie is nie een nie.  Religie word deur die mens ontwikkel om te probeer om God daarmee te dien, maar dit kan God nie definieer nie".

    Hy het dit aan my geskryf wetend ek is 'n ateis.

  • Petrus Paulus

    Ag Trienie, my kind! 

     
    Ek weet werlik nie of ek moet lag of huil oor jou brief nie. Ek voel eerder lus en huil oor al die dwaasheid wat jy kwytraak. Jy skryf dat Jesus werklikwaar geleef het. O ja? Gee my dan sy geboortedatum en veral sy sterfdatum? Kom kom ek wil dit baie graag weet! 


    Ek kan jou wel die geboortedatums en sterfdatums 'n paar Romeinse keisers gee as jy belangstel. Hulle het in die tyd van Jesus geleef, naamlik Keisers Augustus, Tiberius, Julius Caesar, Claudius, Nero, ens. O ja en ek kan jou ook die geboortedatum en sterfdatum gee van Alexander die Grote. Hy het 350 jaar voor Jesus geleef. Was al hierdie mense vernamer en belangriker as Jesus, en daarom is hulle geboorte en sterfdatums goed gedokumenteer?
      
    Dan oor die Pase: Hierdie hele feestyd is deur die Christendom van die Heidendom gesteel. Hierdie feestyd was van ouds ’n Heidense feestyd ter ere aan die Godinne, waarvan die bekendste Ester/Ostara/Easter/Eostre is, daarom vier ons dit vandag steeds op die Vrydag wat volg op die volmaan na die lente-ewening. Is dit vir die Christene geoorloof om te steel?   

    Na die diefstal word verkondig dat Jesus se kruisiging en opstanding op hierdie feesdae herdenk word. En daarom bestaan hierdie feesdae dus. Maar dis ’n leuen! Is dit vir die Christendom geoorloof om leuens te verkondig?  

    As Jesus werklik bestaan het en hy werklik gekruisig was, sou ons sy kruisiging op ’n vaste dag elke jaar gevier het (byvoorbeeld 30 Maart)  en nie elke jaar op ’n Vrydag in die lente nie.   

    Die Heidense boodskap van die fees is dat die Winter sterf en die ou lewe vergaan. Uit die ou lewe staan weer nuwe lewe op (Lente). Die Dood word deur Lewe oorwin en in hierdie proses speel die barende Godin (Moeder Aarde) die hoofrol.   

    Hartelijke groeten,   

    Petrus Paulus   
  • Kobus,

    Ek het jare laaste van jou tirades op LitNet gelees. Dit was net te voorspelbaar en vervelig. Maar nou kom piepie jy ook 'n straaltjie by oor vrae wat ek aan Trienie vra. Jy matig jou aan om vir ons te vertel wat God sou wou hê. Wat weet jy van God af Kobus? Niks sê ek jou. Jy maak staat op wat jy in die bybel oor God lees. Dis 'n twyfelagtige bron jong. Wanneer gaan dit tot jou deurdring dat die bybel deur mense geskryf is. Dit was mense wat die geskrifte tot "God se Woord" verhef het man. 'n Poging om status aan hulle vertolking van wat 'n God van mense sou verlang, te verleen.  Ek het vir Trienie die vrae gevra, nie vir jou nie jong. Hou jou asseblief daar uit.

     

    Koos

  • Kobus de Klerk

    Koos,

     
    Volgens wat jy skrywe, wil dit mos voorkom asof jy baie meer van God weet as ek. Vertel my dan asseblief wat jy van God weet en hoe jy dit weet...
     
    Terloops Koos, hierdie is 'n openbare forum en word alles hier gepubliseer vir publieke insae en kommentaar. Dalk het jy te lanklaas hier deelgeneem om dit te kon onthou? Ek sou voorstel dat jy die kontakbesonderhede van 'n deelnemer of korrespondent by die redaksie aanvra as jy privaat wil kommunikeer.
     
    Maar ek verneem graag van jou oor die versoek aan jou. Ek sou graag dat jy jou meerdere kennis met ons deel. Jy het mos meerdere kennis, of hoe? Anders, hoe sou jy dan kon weet iemand anders weet niks of te min...
     
    Kobus de Klerk
  • Kobus de Klerk

    Petrus Paulus,

     
    Dit is verbasend dat daar nog mense is wat kan dink dat die HERE Jesus nie werklik leef  en op aarde geleef het nie. Jy is duidelik 'n agnostikus. Miskien is dit gerade om jou na Bart Ehrman, een van julle gunsteling 'geleerdes' wanneer dit by sulke dinge kom, omdat hy self ook 'n agnostikus is - te verwys waar hy juis hierdie kwessie aanspreek
     
    Hy self maak julle as onkundig en oningelig af (sien par 3) as julle sulke snert kwytraak soos wat jy hierbo doen.
     
    Wat 'n verleentheid behoort julle onkunde en insigloosheid nie vir julle te wees nie...
     
    Kobus de Klerk
  • Trienie Mahne

    Wow - dankie Gys vir hierdie reply in my e-pos vanoggend. Dis eenvoudig wonderlik! Om te dink ek het al aanbeweeg vanuit LitNet om ander hoogtes aan te pak in Jesus Christus terwyl baie nog agter stry oor die dood en grafte en godsdiens.

    Weereens bevestig dit die skrif: "Laat die dooies hul eie dooies begrawe" Luk 9:60

    Ag, dankie, ou Gys-sie, jy het my dag gemaak - moet sê jou opmerking het my laat glimlag. Wat beteken "wedergeboorte" werklik?

    Baie dankie aan LitNet vir 'n platform daar gestel wat die Saad van die Woord nog steeds strooi, selfs nadat die mens as geword het. Wonderlik!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top