My politiek is reg

  • 5

Ek sien hier word nou links en regs geskinder oor my politiek, wat nou glo skeef is.

Wel, ek kan julle verseker my politiek is uitstekend. Ek is 'n vêrregse neo-liberaal, wat vir die Vryheidsfront+ stem, maar ek maak ook donasies aan die ANC. Ek het juis verlede maand vir hulle 'n boks vol ou onderbroeke en kouse geskenk om te verkoop vir kontant, want hulle kontantvloei verswak omdat die staat se geldkoffers amper leeg gesteel is. Tenders het ook opgedroog omdat die ekonomie plat is.

Die ANC is eintlik 'n mensliewende organisasie. Hulle deel graag kospakkies uit, veral voor 'n verkiesing, omdat hulle nie wil hê die mense moet met leë mae in lang toue staan om te stem nie. Hulle kan dalk flou word voor hulle hulle kruisies getrek het. Voor die laaste verkiesing het my buurvrou met haar twee laerskoolseuns gegaan en 'n klomp kos gekry: 'n Sak ertappels, 'n sak uie, 'n sak botterskorsies, 'n boks tamaties, rys en nog diverse ander items, tot kookolie ingesluit, sommer vyf liter.

Ek vra haar toe of ek haar seuns kan leen sodat ek ook soveel kos kan kry. Ons sit toe af na die plek, en sommer in die bek van die township staan hulle die kos en uitdeel. Ek hoef darem nie in die township in te gaan nie, só lief is ek ook nie vir die ANC om daar in te gaan nie. Daar was die vorige week juis betogings met tyres wat brand, die ANC het gesê dis sommer onnodige ontevredenheid, want hulle het nog nie hulle kospakke gekry nie.

Toe ons voor in die ry kom, kyk die man wat uitdeel my streng aan en vra hoe is dit dan dat ek wit is en my twee seuns is swart. Ek sê toe vir hom, natuurlik in my beste Engels: "Die weë van die Here is wonderlik, hy kan wondere verrig." Maar daar raak hy ongeskik en sê die weë van die ANC is net so wonderlik en ek moet fokoff voor hy die veterane op my sit.

So is ek droëbek daar weg en ek moes boonop vir die kinders roomys en tjips koop, want hulle hou aan vra wanneer kom die kos dan.

Varkspek

  • 5

Kommentaar

  • Varkspek ek het gelag vir jou brief en toe gewonder? Hierdie laaste deel oor jou en die kinders se gebedel het dit nie net in jou verbeelding gebeur nie?

    Ons weet ook nou wie jy is en vir wie jy gaan stem. Daar is egter nou nog 'n regse party wat ook jou stem vra. Hoekom stem jy nie vir hulle nie?

  • Mooi man. Is dit nie snaaks nie. Wanneer jy uitreik na die medelandsburgers word jy met ope arms ontvang en op die hande gedra. Maar o wee, laat jy net iets ook wil terug ontvang, dan is jy duiwelsdrek. Ek het die les geleer, moenie teen die prikkels skop nie. Neem en behou die inisiatief. Neem die wind uit die medeburger se seile, hulle weet gewoonlik nie wat om te doen nie. Ek het 'n buurvrou gehad wat gewoonlik party het. Die party was nie die probleem nie, maar die lawaai en ongerief, nie net vir my as die buurman nie, maar vir die hele buurt. Op 'n dag, nadat ek nie van die partye bygewoon het nie, besluit dis sulke tyd. Ek meld toe vir een van die gesellighede aan en maak terdee van die geleentheid gebruik om in te skakel en my met hulle te vereenselwig. Toe ek laterig die aand die huis in strompel het my huidige vrou my aangespreek dat my bek die grootste was, en sy net my kon hoor. Dit was die laaste. Hulle het daarna onder dekking party gehou.

  • Varkspek jou politiek is beslis nie skeef nie.  Die geskindery moes wees as gevolg van 'n misverstand.  Wat die uitreikstorie betref - dit werk nie want vandat die kerke en die politici en aanhangers en so verskoning gevra het beskou die aan-uitgereiktes die uitreikers se aksies as blomme (opmaakgeskenkies) en dus 'n skulderkenning en hulle haat jou net meer.

  • Tiens Pretorius

    George,

    Die deel oor my en die kinders is denkbeeldig ja, maar die vrou het werklik die vorige keer al daardie kos gekry. Sy neem die kinders en haar ID's saam.

    As Afrikaner stem ek vir die enigste party wat probeer om ons belange te bevorder.  Ek is nie lus vir enige debat daaroor nie.

    Varkspek

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top