In die lewe van 'n individu en in die lewe van 'n volk is daar voortdurende verandering en dit is goed, want die alternatief is stagnasie. Natuurlik soek ons stabiliteit en sekerheid, maar dikwels is die verkenning van ons omgewing en nuwe uitdagings belangriker as die vermeende vaste grond onder ons voete. Die kuns is om die treë wat ons moet gee, nie te lank of te kort te maak nie en voort te gaan.
Kom ons stel dit onomwonde: Jan Rap en ekke en almal van ons is nie dieselfde as tien jaar gelede nie en as ons dekadegewys terugkyk is die verskille opvallend. As 'n volk, of as mense wil, 'n volkie is ons steeds daar (dis dié belangrike punt) en gaan voort ten spyte van die loeiende wind (ons is die gewaagste volk). Om vanaf 1994 die aanpassing te maak van base na net nog 'n minderheidsgroep was 'n groot stap en dit is geneem. As dit nou vir die regering nodig is om volwasse onvolwassenes tot orde te roep, selfs met geweld, het ons nie meer nodig om voor te staan nie, maar ons hoef nie noodwendig weg te kyk nie.
As mens aan die volk dink (ons volk) is ons geneig om na die groot dinge te soek, maar juis die klein botseltjies is belangrik. Die groter neiging van Afrikaners om hulle kinders na Afrikaanse skole te stuur en om huis toe te kom na ondervinding en verruiming elders, dui op nuwe vertroue.
Die twee ou resepte is saamstaan en integreer en daar is verdienste in albei. Die ou konsepte van die ossewa, geweer, bybel en laer trek, met genoeg doringtakke tussen die wiele, was nie en is nie gek nie. Dis deel van ons geskiedenis. Die wa, voorlaaier en bybel was die beste vervoer, verdediging, opvoeding en morele waardes wat beskikbaar was. Teenoor saamstaan in eie kring is daar samewerking met ander en dis albei moontlikhede. Eintlik gaan dit nie eerstens oor óf … óf … nie, maar aanpasbaarheid. Ons is nie meer hoë seders in Waterkloof nie, maar buigbare riete wat orkane kan weerstaan.
Daar is van ons organisasies en dinge wat hulle doen waarop ons trots kan wees. Dom foute gaan ook nog gemaak word want dit is die lewe. Onthou net talle nuwe tegnologieë vergemaklik aanpasbaarheid. My ou skoolvriend in Kanada is 'n Kanadees, maar steeds ook 'n Afrikaner en daar is talle van hulle in 'n groot aantal lande wie ons nie moet vergeet nie. En Vlaminge en Nederlanders ...
Dis vir eers voldoende.

