Vanoggend maak ek ’n e-pos oop en lees ’n briefie vanaf my vriendin wat gister by die weeshuis was. Sy skryf:
Sy naam is Brave.
Hy skryf in sy boekie ’n gebed tot Jesus dat hy asb. sal begin groei, want hy is kort. Ek sien hom later en herken hom oor hy kort is. Hy is baie korter as die ander kinders. Hy het ’n sagte gees. Een kosbare kind.
Vandag is hy baie stil en nie lekker nie. Na ons alles gedoen het, roep ek die kinders wat gebed soek om te kom en hy kom ook en hy sê dat hy nie lekker is nie. Ek bid en hy begin dadelik huil met sy koppie wat hy intrek, net stil trane wat loop. Diep hartseer. Ek hou hom vas en gee hom liefde... vryf sy lyfie. Hou sy kop vas. Bid in sy oor. Bid hom vir genesing en troos – hy was warm ook, maar hy is wees en my hart breek vir die kind. Op pad huis toe en nou vanaand ook. Hy verlang na die liefde van ’n ouer. ’n Ma.
Daar is soveel behoefte, hulle is so leeg, so honger. Hulle vat so alles wat ek gee.
Skielik onthou ek weer die gesig wat ek so ’n week gelede gesien het. Ek ry elke dag verby die dorp se kinderhuis en het per toeval die dag teruggekyk agtertoe. Daar was twee seuns, seker so 12 jaar oud, tussen ’n hoop sagte speelgoed. Dit het oral op die grond agter in die werf gelê. Hierdie twee seuns was besig om met geweld die speelgoed te skop, aan die arms te pluk en op dit te spring! Eintlik ’n skokkende gesig. Iemand het seker al hul sagte speelgoed in swartsakke gegooi en dit daar kom drop. Miskien het die weeshuis nie geweet wat om met dit te maak nie. Ek het vinnig weggekyk ... in afgryse. Die gesig het gebly, daar was soveel woede in die aksies, gewonder wie is in beheer van hierdie dinge?
Die werklikheid is: Soms kry hierdie kinders ’n oormaat ou speelgoed, kerke reël vir hul allerhande partytjies, mense skenk ou klere. Ja – alles goed wat nodig is.
Jy gee en dink jy doen goed? Dis nie wat hulle soek nie.
Hulle is opsoek na LIEFDE, en nog LIEFDE en weer ’n keer LIEFDE. Want net liefde kan genees en heel. Wil net bietjie voel hoe dit is om deur ’n ander warm lyf vasgehou te word, net bietjie gevryf word oor die haartjies, in die omgee oë kyk van iemand naby wat omgee ...
Moenie wegkyk nie, asseblief ...
Trienie


Kommentaar
Beste Trienie
Waar is God,wanneer dit kom by hierdie arme kinders se diepe hartseer en versugting? Hulle is slim genoeg om te weet hulle is versaak en dat daar geen uitkoms van bo is nie!
Groete
Perdebytjie
Ai Perdebytjie,
Ek weet presies hoe jy dink en voel. Ekself het al menigmaal met dieselfde vraag geworstel. (Dankie vir jou kommentaar, ek waardeer.
Maar, ek moes leer en ontdek dat die probleem daarin lê dat God ons nie as Robotte geskape het nie. Sy dryfveer daartoe? – liefde. Natuurlik maak dit nie sin, maar wanneer ons die saak begin ondersoek sien ons die mooi daarin. God het die mens geskape met ‘n eie wil en keuse. Ongelukkig beteken dit wye keuses in vele opsigte. Want liefde is onderhewig aan ‘n keuse.
As God ons soos ‘n robot ontwerp het, sou ons nie eie kinders kon voortbring, kies watter rigting ons in die lewe wil inslaan of besluite kon neem naby aan ons eie hart (emosies) nie. Ons sou aan bande en in kettings geleef het. Wil ons werklik so lewe? Nee – so eintlik het die mens namens God besluit. God het geweet die mens verkies om te lewe vanuit eie keuse en ‘n vrye wil.
Wat ‘n toelaatbare waagbesluit vanaf God: want nou kan die mens kies of hy kortpad of lankpad wil vat, die roos of die lelie, die swart of die wit, die mooi of die lelik, die goeie of die slegte ...
Wat ‘n vryheid! Soos Chris iewers noem dat ‘n vuurhoutjie is gevaarlik in ‘n onvolwasse persoon se hand. Maar roep die mens juis vandag nie na meer vryheid nie? Kyk na die politiek, geskiedenis en leiers. Almal skree om meer vryheid.
Ja – natuurlik het hierdie kinders tans nie ‘n eie keuse. Want hul is ‘n produk van hul omstandighede en verlede. Ouers is veronderstel om hul kinders te vorm tot ten minste op 12jarige ouderdom? Maar die ouers is nie daar nie, agv verkeerde keuses? Miskien drankprobleme, dood agv AIDS, onmin in huwelike, egskeiding, afhoerery ens ens.
Dit bring ons heeltemal weer terug. Is dit nie waar ons eintlik moet begin nie? Die voorskrifte in die bybel waarvan die 10 gebooie goeie riglyne vir ons mag wees? Praat ek nou oor ‘Die Wet”? Oor goeie normes en standaarde? Of oor die kinders in weeshuise.
By the way – nou dat ek dit so bekyk. Ja – dalk is ek. En jy is reg as jy sê dat ons nie ‘n godsdiens nodig het om normes en standaarde daar te stel nie. Dan is ek net bekommerd oor die volgende antwoord: Wie is goed genoeg op hierdie aarde om normes, standaarde, wette en voorskrifte daar te stel? Miskien Amerika, ek glo nie Mandela het te sleg gedoen nie ... Ek hoor hy was nogal lief vir kinders.
Die Here verklaar iets groots: Dat alles wat oor jou kom op die ou einde “ten goede sal uitwerk vir die wat Hom liefhet.” Ek het al gesien hoe hierdie kinders tot grootsheid kom, al vele boeke gelees van die wie se lewe drasties ‘n ommekeer ondervind het, en vandag hoop kan bring aan ander in dieselfde bootjie.
Wat kan ons hierdie kinders bied Perdebytjie. Ek sou darm verkies iets wat na aan HOOP is, iets konkreets om in hul gemoed vas te maak.? Jy hoef nie die spirituele aan hul voor te hou nie, maar kom ek en jy word dan die HOOP in hul lewe ...
Ai Trienie
Perdebytjie,
Nee man - ek is nou skoon depressief nadat ek jou skrywe gelees het. Ai - as ek jou tog rerig soos 'n perdebytjie kon vang en more saam my kon neem bergpieke toe. Daar sou ons lekker kon gesels het om 'n kampvuur oor al hierdie dinge... Op hierdie forum sal ons nie regkom nie.
Die spreuk ook van "jy gaan braai as jy nie draai" - verwys jy na die hel? Moenie dat christene jou daarmee mislei nie, nie een van hulle het die reg om jou hel toe te stuur nie. Die God wat ek aanbid wil niemand hel toe stuur nie. (Dis 'n te groot onderwerp vir nou)
Jy praat van jou vriend wat kanker het? Mmmm - ek het dieselfde pad geloop. Weet hoe dit voel as daardie slanggif binne in jou are inspuit. Ek het 'n snaakse God, Sy begeerte is nie om mense te genees nie, Sy begeerte is dat iemand in die EERSTE plek nie siek sou geword het nie. Waar dink jy kom kankers vandaan? Ek ontdek dat 87-95% van alle siektes word teruggetrace deur dinge wat in ons gedagtewêreld aangaan?
Aha! Groot onderwerp hierdie. Kan ons dit los vir volgende jaar?
My tasse is gepak. Mag jy 'n geseënde Kersfees (of eerder rustyd) beleef Perdebytjie!
En ek belowe om aan jou te dink elke keer as 'n ek perdeby sien of kiek. Glo my daar is baie!!
Liefdetjies
Trienie