Ons het 'n geweldige inval van miere gehad. Dis die piepklein donkerbruin miertjies, en hulle was hier in hulle hordes. Jy kry hulle oral, in al die vertrekke van die huis: sitkamer, kombuis, slaapkamers en badkamer. Die hond se waterbak in die huis is elke dag vol miere soos hulle daarin versuip. As jy 'n leeggeskepte pot op die stoof los, is daar gou duisende miere in.
Tot my vriend se bed het deurgeloop, hy kon een nag amper nie slaap nie soos hulle hom lastig val. My ook, op my stoel in die sitkamer. Die enkelbed in my slaapkamer was vol miere, ook die klere wat ek daar neergooi. Gelukkig kon hulle nie op my dubbelbed klim nie, die pote is mos effens onder die bed in geplaas, sodat, as hulle teen die pote opklim, moet hulle 'n entjie onderstebo loop as hulle dan teen die kant van die bed wil opkom. En blykbaar kan hulle nie onderstebo loop nie. 'n Mier kan teen die poot van 'n bed oploop, maar nie onderstebo loop nie, lyk dit my.
Dis natuurlik oor die droogte. Die wêreld hier by ons was dor en uitgedroog, die gras geel. En dit nogal in die somer. Die afgelope twee, drie maande het ons by twee geleenthede elke keer omtrent net 'n teelepel reën gekry. Hier was talle veldbrande, gister nog het die enorme stuk veld langs ons gebrand, tot omtrent dertig meter van die eiendom se grensmuur af. Die brandweer lorries moes rondjaag om by al die vure te probeer uitkom, dan sien jy in die nag hul rooi ligte flits en die pompe maak 'n "tirrr"-dreuning soos hulle die water op die brande pomp.
Eers het ons die winkels se blikke spuitkannetjies met gif probeer, toe kry ek van die aanmaakgif met die woord "Ant" prominent op die boksie. Ek spuit waar ons hulle sien loop en twee dae na mekaar spuit ek twee keer reg rondom die huis. Die verwagting is dat hulle nie meer die huis sal binnekom nie. Maar dit help nie, hulle is sommer gou weer terug. As jy een paadjie vir hulle toegemaak het, kry hulle gou 'n ander. Dit lyk my die gif werk nie goed nie, want die volgende dag baljaar hulle alweer rond op die plekke waar ek gespuit het.
Nou ja, ek kry toe maar 'n ander soort gif. Hierdie een moet jy sterk aanmaak vir miere, 40ml gif op een liter water. Dit beteken die gif sal nie ver kom nie, jy sal nog moet koop.
Ek spuit eers my vriend se kamer, want hy sê hy kan dit nie meer uithou nie. Dis harde werk, want julle moet verstaan, die huis is oorvol meesal waardelose goed. Dit sluit in hope tydskrifte wat opgestapel lê. Net enkele sentimeters van die vloerlyste in sy kamer is sigbaar, dus moet jy goed skuif. Ek spuit, en gou lê die dooie miere op strepe. Oor drie dae, twee tot drie uur per keer, spuit ek al die vertrekke in die huis. Ek raak later bang dat ek sal siek word van vergiftiging, want ek het nie beskermende klere nie. En oral lê dooie miere, dit lyk maar sleg, as alles droog is sal ek dit opsuig met die stofsuier.
Ek voel nogal jammer vir die miere. Hulle werk amper wanhopig om hulle neste te red, dat die nes en die koningin oorleef. Maar wat kan jy doen? Mens kan nie so leef nie.
Na ek klaar is, is ons voorlopig vry van miere, jy sien net hier en daar 'n verdwaalde siel rondloop, asof hy verward is en nie weet wat aangaan nie.
Later, skoon aangetrek, gaan sit ek op my stoel in die sitkamer. En ek bid vir genade en vergiffenis vir al die miere wat ek doodgemaak het. En ek bid dat die Here my moet help dat die miere en hul koninginne se siele my ook moet vergewe.
Varkspek


Kommentaar
Ai Varkspek
Ek weet presies hoe jy voel. Ons het net so 'n inval van miere gehad. Ek moes naderhand plaagbestryders inkry. Hulle het sulke klein korreltjies oral gegooi. Blykbaar dra die miere dit in die nes in en vergiftig dit selfs die koningin!
Dit het 'n ruk lank gewerk, maar ek sien dit begin weer erg raak. Ons as mense, het vir onsself al hierdie probleme geskep. Miere se natuurlike vyande is paddas, akkedisse, spinnekoppe en vele ander insekte en diere.
Met ons beheptheid om alles wat beweeg, dood te maak, sit ons vandag met 'n dilemma. As kind het ons nog gereeld saans 'n huis vol insekte gehad, wat agter die lig aangekom het. Deesdae sien ek niks, behalwe muskiete en enkele motte. Dis eintlik baie kommerwekkend. Ons stede en woonbuurte is stadigaan besig om steriel te raak en die moontlikheid dat ons deur miere, kokkerotte en muskiete verswelg gaan word, is dalk nie so vergesog nie.
Ek deel jou hartseer oor die miere se uitwissing, maar dis wat gebeur as die natuur se balans versteur word.
Perdebytjie, hier slaan jy die spyker op die kop; dat iemand wat so vrydenkend kan wees se politiek so skeef is gaan my verstand te bowe.
Gif is 'n onding al word die aanwysings op die etiket hoe noukeurig gevolg. Dit is die gifvervaardigers en -verspreiders se verweer: mense volg nie die aanwysings nie, vandaar die lelike (eintlik afskuwelike) gevolge. Dit werk nie so nie.
Daar is talle maniere om insekte weg te hou (en as dit nie werk nie moet mens maar so hier en daar 'n halwe vrot vrug duld). Tabakstof, hewig aangeval deur die gifmense, werk goed; mens moet net nie te veel gooi nie en al gooi mens te veel het dit nie die negatiewe effek van te veel gif nie.
Vars vyetakkies verwilder kokkerotte, babapoeier hou miere weg - maak miskien 'n paar dood maar die babapoeier besoedel darem nie die omgewing nie. Daar is talle rate.
Die Boeddhiste het 'n punt beet waar hulle sê jy moenie sommer 'n lewe uitwis nie, al is dit 'n mierlewetjie (parasiete is natuurlik 'n ander storie).
Francis Thompson som dit mooi op:
All things by immortal power,
near or far,
hiddenly,
to each other linked are,
that thou canst not stir a flower,
without troubling of a star.
Jan Rap
Jy kan maar nie nalaat om jou steek in te kry nie. Ek is "vrydenkend" en my "politiek is so skeef", volgens jou. Jy het weereens nie mooi gelees nie. Ek het tog 'n duidelike relaas gelewer waar ek daarop gewys het dat ons verantwoordelik is vir die wanbalans in die natuur.
Die feit dat ons plaagbestryders moes inkry, was daarop gegrond, dat ons soos Varkspek, heeltemal oorval is deur 'n onnatuurlike inval van miere. Hulle het orals uitgeborrel, selfs die sement tussen die teëls uitgetonnel. Binne in ons kaste, in ons klere, in die vensterbanke, oral het hopies grong gelê. Saans het hulle oor ons gehardloop as ons slaap. Ek het baie spinnekoppe en geitjies in my huis, maar hulle kon nie voorbly om die mierplaag die hoof te bied nie.
Babapoeier, tabakstof, noem maar op ... het niks gehelp nie. Dit was werklik na ernstige oorweging dat ons die gifkeuse oorweeg het. Ek het self doodseker gemaak dat net die mierneste bestrooi is en dat die korreltjies binnetoe gedra word, waar hopelik net die miere sou doodgaan. Tans is hier baie akkedissies, geitjies en spinnekoppe, wat vir my 'n aanduiding is, dat die miergif hulle nie bereik het nie.
Ek hou baie van wat Francis Thomson geskryf het, maar in 'n reeds erg versteurde natuurlike omgewing, is dit nie altyd moontlik om daarby te hou nie. Die dag toe jou huis en my huis gebou is, het daar geweldige versteuring plaasgevind. Baie grondstowwe is gebruik daarvoor. Ons meubels en ander besittings se vervaardiging het baie van die omgewing vereis. Die tuine wat ons aangelê het, het die natuurlike omgewing verander en so kan mens aan en aangaan.
Dus,in my vrydenkendheid,verseker ek jou, dat ek werklik so versigtig as moontlik met my omgewing probeer omgaan.
Jammer Varkspek,dat ek hier op jou werf my perdebysteke moes kom uitdeel!
Jan Rap!
Perdebytjie
Ek wéét daar is tye wat mens nie anders kan as om gif te gebruik nie en ek wéét jy gee om vir alle lewe (ek onthou nog jou storie ook van die hadida [dit was jy, ne?]).
So my relaas was nie 'n preek vir jou of Varkspek nie; dit was gemik teen daardie wat so maklik Doom en allerhande ander gif koop vir elke bakatel. As ek jou politiek verkeerd gelees het vergewe my maar hier is soveel sogenaamde verligtes, liberaal-demokrate progressiewes endat mens nie altyd tred kan hou met wie's nou weer wie nie.
Jan Rap
NS Stekies is welkom selfs bo soentjies