Daar waar ek grootgeword het, was die NG kerk die enigste kerk en wat die predikant gesê het was nooit as te nimmer in twyfel getrek nie . So het die predikant dan vir ons vertel dat Jesus deur G_d verwek is en uit die maagd Maria gebore is. Die storie het ons gehoor van kleuterskool af en die Christene hoor en glo dit vandag nog. Dis als reg, ek het geen probleem met wat enigiemand glo nie, ek het net besluit om my eie huiswerk te doen.
So sien ek toe mettertyd dat Jesus die laaste in ’n lang ry van mens-gode is wat deur god verwek is en uit ’n maagd gebore is. Dit is iets wat bitter diep in die verlede ingaan en deur baie groot getalle mense geglo was en in baie gevalle steeds is.
Op ’n stadium was dit in Griekeland so maklik geglo dat baie swanger vrouens beweer het dat een van die baie Griekse gode die vader van haar kind was. Een van die konings van daardie tyd het op ’n stadium ’n wet gemaak wat sulke vrouens die doodstraf gegee het. Hy was seker maar gatvol vir die meisies wat rondbonk en dan iemand die skuld gee.
Die maagd Alcmene het geboorte gegee aan die “heilige verlosser” Alcides, 1 280 jaar voor Jesus, Ceres, die maagd-moeder van Osiris, het beweer dat sy swanger gemaak is deur die “vader van alle gode”.
Daar is sulke stories uit Indië, Egipte, Persië, Griekeland, die hele Romeinse ryk, Mexiko en Tibet, om ’n paar te noem. ’n Paar van hulle is Maia, moeder van Sakia, Yasoda, moeder van Chrishna, Celestine, moeder van Zulis, Chimalman, moeder van Quex-alcote, Semele, moeder van die Egiptiese Bacchus, Minerva, moeder van Griekse Bacchus, Prudence, moeder van Hercules, Alcmene, moeder van Alcides, Shing-Mon, moeder van Yu en Mayence, moeder van Hesus.
En natuurlik Maria, moeder van Jesus.
Al die seuns word beskryf as ’n messias, redder, verlosser, baie het hul lewens gegee ter vergifnis van die wêreld se sondes, het gesterf, na drie dae opgestaan en opgevaar na die hemel vanwaar hulle sal terugkeer om ’n ewige koninkryk te vestig op aarde.
Daar is veel meer, maar ek wil nie ’n boek hier skryf nie.
Die verhaal wat die Romeins-Griekse kerk geskryf het met Jesus as die Messias, is omtrent identies aan die verhale van ander messiasse, hulle is almal ewe goed beskryf en deur hul onderskeie gelowe aanvaar en aanbid.
So hoe besluit mens nou watter een is die ware een?
Duitswester


Kommentaar
Duitswester
Nou hoe het G_d dan ontstaan? Dit lyk my jy het 'n heilige ontsag vir dié god wat jy telkens as G_d aanspreek.
Thomas
Helo Duitswester
Waar kom jy aan hierdie inligting? Wat van 'n verwysing of twee.
As jy 'n klein bietjie moeite doen sal jy sommer gou agterkom dat jou weergawe van Griekse en Romeinse mitologie hopeloos deurmekaar is.
1. Ceres (Romeinse weergawe van Griekse Demeter), nie Nut (Egipties), die ma van Osiris?
2. 'n Baie spesifieke datum (1280 vC) vir die geboorte van Alcides (Bacchus/Dionysus)?
3. Semele, moeder van Egiptiese (?) Bacchus?
4. Minerva (Romeinse weergawe van Griekse Athena, die maagdelike godin), nie Semele nie, ma van Dionysus?
Daar is basiese bronne, sover ek weet, waaruit die mitologie van die Grieke en Romeine gelees kan word: Homer, Hesiod, Ovid, Apollodorus, asook die tragedies en komedies van Aeschylus, Euripides, Sophocles en Aristophanes. Nie 'n enkele een van hulle beskryf ooit maagdelike geboortes nie. Geboortes is altyd die gevolg van 'n seksdaad tussen 'n god en 'n mens.
Gaan lees nou maar weer Lukas en Matteus. Geen maagdelike geboorte hier nie, verseker. God is die knapie se pappa. Hierdie maagdelike nonsens is 'n latere tradisie wat ontwikkel nadat Christene seks as iets sondigs begin beskou het.
Jesus se geboorte is 'n mite wat kom uit 'n ryk mitologiese tradisie kom, daarmee stem ek saam met jou, maar dit is een van seks tussen gode en mense. Die kind gebore hieruit is iemand spesiaal, belangrik en semi-goddelik.
Chris
Beste Duitswester,
Jou huiswerk het jy bepaald goed gedoen, en net soos jy, het ek ook geen probleem daarmee wat mense glo nie. Hulle moet my net nie forseer om soos hulle te glo nie.
In die wêreld van die mitologie geld ander wette as in ons wêreld. Bome en slange kan praat, mense kan versteen raak as hulle Medusa in die oë kyk, en maagdelike geboortes kan plaasvind. Daarmee is niks verkeerd nie, en niemand stry daaroor nie. Die probleem kom egter as iemand wil beweer dat dit regtig plaasgevind het; dan bots dit met die wetenskap, want dit moet dan eksperimenteel getoets word.
As iemand dus wil weet watter een van al die maagdelike geboortes die regte een is, dan is hy al klaar op die verkeerde spoor. (Ek weet jy het sommer die vraag so tong in die kies gevra. Ek vra ook dieselfde vraag as ek en my Christen-vriend oor geloof gesels.)
Groete,
Angus
Vir Thomas
Thomas ek gaan nie probeer om G-d te beskryf nie, ek kan nie. Ek weet vas dat Hy nooit ontstaan het nie, Hy was vir ewig in die verlede daar en is vir ewig in die toekoms daar.
Vir Chris
Chris daar is werklik baie materiaal oor astroteologie beskikbaar, ek het 'n paar boeke en my laaste is "Christianity before Christ" deur Kersey Graves. Daar is ook legio opstelle op die internet oor die onderwerp. Ek weet daar is teenstrydighede in dat een skrywer stel dat X die moeder van Y is en 'n ander skrywer ander name vir dieselfde afgode gebruik. Hulle was bekend onder verskeie name, ek neem aan omdat sterre verskillende name het by verskillende nasies.
Laat dit wees soos dit wil, om vas te val in "nitpicking" oor die afgode is nie die perd wat ek opgesaal het nie. Die perd wat ek opgesaal het heet " Die kerk het gelieg en lieg nog steeds."
Duitswester