Ek en vyf gay vriende (Vrystaatse landbou boerekliënte), waarvan twee met vroue en kinders, asook een met sy verloofde van 8 jaar en twee in ‘n 10jaar verhouding met mekaar het in konvooi op 2 April na Oudtshoorn afgesak om die KKNK-fees by te woon. Ons was daar tot 10 April 15. My lewensmaat Wim kon weens werkdruk nie saamkom nie.
Deur Meiringspoort, die Klein Karoo in, was die wêreld voor ons lowergroen as gevolg van die onlangse reëns wat daar geval het. Waar daar in die verlede duisende volstruise te sien was, was hulle hierdie keer bitter skaars. Lusern was volop; aangeplante tabak ook ‘n nuwigheid; hier en daar jong olyfboorde langs die pad te sien asook verskillende ander gewasse en veeboerdery wat vir die volstruisboerdery plek gemaak het.
By Oudtshoorn aangekom, het elkeen sy bespreekte verblyf beset. Die getroude twee, en die een met sy verloofde betrek die Hoërskool-kampeerterrein, tente langs mekaar opgeslaan; die twee in ‘n verhouding in die Baron Van Rheede hotel in High Street en ek op uitnodiging by ‘n jong vriend (onlangs getroud) op sy erfplaas in die Lategansvlei distrik net buite Oudtshoorn.
Die onderlinge samesyn van vriende was die hoogtepunt van die week. Bo en behalwe die KKNK-program se gebeurlikhede bygewoon, het ons Knysna, George, Hartenbos en Mosselbaai ook besoek. Vanaf Uniondale het ons die een dag na Knysna deur die asemrowende Prins Albert-pas tot in Knysna gery, waar ons by die “34 Degrees South” eetplek op die waterfront ‘n heerlike vis-platter geniet het, ek met bier en die ander met kaapse wyn om ons dors te les. Ek het gewonder of die oesters wat ons geëet het, nie van ons SêNet se “Oester” se besigheid afkomstig was nie.
By Mosselbaai aangekom het die twee in verhouding met mekaar, die “shark cage” aangepak. Ons ander kon nie saamkom nie, want net deelnemers was op die boot toegelaat. Na al die duur onkoste het beide geen wit haaie gesien nie, wel ander tipe haaie, maar nieteenstaande die ondervinding terdeë geniet. Ons ander het op die Romanze-seiljag na Robeiland gevaar. Naby die eiland aangekom, het die oorweldigende reuk van die robbe se kak en pis jou asem weggeslaan. Maak jou oë toe, sou jy kon sweer jy is op ‘n skaapplaas, weens die geblêr van die robbe wat in hulle duisende in die see, om die eiland en op die rotseiland te sien was en wat net soos skape saam geblêr het.
Nog nie van die fees gepraat nie. Die rede? Want die teleurstelling daarin was te groot.
Die verwagte massa Afrikaners van vroeër jare was eenvoudig net nie daar nie. Kampeerterreine was skreiend leeg. Op straat, vergeleke met vorige jare, was parkering maklik bekombaar. Die digte gedring van menigtes op die feesterrein het ontbreek en tesame daarmee, die gees van afwagting en opgewondenheid ook. Merendeels derderangse sangers het die verfloue ondersteuning probeer vermaak. Teen Woensdag was helfte van die wat oorspronklik daar was huis toe, wat die feesterrein amper soos ‘n spookterrein laat voorkom het.
Die leuse van brûe bou was ‘n bespotting weens die ooglopende afwesigheid, veral van die bruin volk, vergeleke met vorige jare op die feesterrein te sien, selfs by die gratis RSG lokaal. Op straat is bruin kinders onder 12 in groot getalle besig om gom vanuit plastiese bottels in die openbaar te snuif. Waar in die verlede die onder-30 jaar groep ‘n aansienlike persentasie van die feesganger uitgemaak het, was die bo 30 en veral ouer mense meer opsigtelik.
Die KKNK het vanaf “volksfees” tot kommersiële geldmaak gerigtheid gedaal. ‘n Daaglikse fooi van R50 of R200 vir die volle week was gehef om die rivierbuurt in te gaan waar omtrent alles plaasvind, en dan moet jy ten duurste addisioneel betaal vir kindervermaaklikhede, soos karretjies ry, ens. Ek het die R200 betaal, maar na die eerste twee dae, geen nut daarin gesien om weer te gaan nie, dus het dit my R100 per dag vir die twee dae gekos. Die vlooimarkstalletjies op De Deur in Gauteng bied vir my meer waarde as dit wat ek by die KKNK gesien het. Klere en “trinklets” stalletjies was daar ‘n oormaat van, buiten die veeltallige eetstalletjies. Daar was onder ander een stalletjie wat wapens en sambokke verkoop het, wat my aan FC Boot laat dink het, veral een sambok met ‘n dildol as handvatsel. Ek het ‘n gratis VIGS toets op my laat doen, en is negatief bevind.
Die enigste opvoering van dit wat ek bygewoon het wat ek geniet het, was die skreeusnaakse “My boetie se boetie se boetie se baba”. “Affairs vir (kan nie onthou vir wat nie)” wat as komedie geadverteer was, was ‘n skerts in swak smaak van hoofsaaklik Steve Hofmeyr en die Flooze se lewens. Hy is as Count Drakula geskets, maar as Kont Drakula aangespreek as voorbeeld. ‘n Flukse eenmanvertoning is bederf met ‘n subjektiewe en verwronge onderwerp aanbieding.
Myns insiens is dat indien daar nie drasties en vinnig ingegryp word nie, is die KKNK op pad uit om net geskiedenis te word.


Kommentaar
2015-04-13 @10:22
Jaco,
Jy noem jou skrywe "KKNK-indrukke". Hoekom is dit enigsins relevant dat jou mede-gangers..."(Jy) en vyf gay vriende (Vrystaatse landbou boerekliënte), waarvan twee met vroue en kinders, asook een met sy verloofde van 8 jaar en twee in ‘n 10jaar verhouding (was)..."?
Wat het jou vriende se seksuele oriëntasie hoegenaamd uit te waai met jou "indrukke oor die KKNK"? Wat wil jy nou eintlik sê? Jou vriende is gay, maar hulle is getroud met vroue en het kinders? Hoekom is jy so behep met gay seksualiteit? Die hele Suid-Afrika is lankal gewoond daaraan. Dis "old hat".
En dan nog...die wat getroud is bly hier en die wat verloof is bly daar en die wat in 'n verhouding is bly weer annerkant ... Wat de dinges is dit met jou? Kon jy nie net die KKNK bygewoon het saam met doodgewone vriende nie?
Dirk Rigter
Dirk
Gaap!!
Jaco
Ek het niks teen jou gay-wees nie maar ek stem saam met Dirk dat jou onnodige detail oor jou maatjies nie pas by 'n "resensie" van die KKNK nie.
Ewenwel, ek was by die KKNK en het dit as een van die beste kunstefeeste in 'n lang tyd ervaar. Die Rivierbuurt en My Boetie se Sussie se wat ook al is nie die KKNK nie en ek is bly om te hoor dis besig om 'n stadige dood te sterf. In Glas en Buite Blaf die Honde was twee meesterlike dramas wat my vir altyd sal bybly. Ek beskou dit as kuns en dit is wat die Afrikaner nodig het om te ontwikkel. Die klassieke musiek en heelwat ander vertonings was wêreldstandaard.
Dis geen wonder Steve Hofmeyr was nie genooi nie want ovlgens my dra hy nie by tot die ontwikkeling van die Afrikaner nie. Daar is oorgenoeg mindere feeste waar hy kan optree en Die Stem sing. Die KKNK het sy vlooimark en doef-doef kinderskoene ontgroei. Miskien moet jy ook.
Groetnis
Thomas
Thomas.
Regstellings op 'n paar wanindrukke van jou kant:
Ek het net een opvoering gekritiseer weens die inhoudskeuse. Nieteenstaande was die opvoering daarvan besonders goed gewees, soos ek reeds in my brief gesê het, nl "'n Flukse opvoering is bederf as gevolg van die inhoud..."
Nêrens het ek beweer die fees is verarm as gevolg van Steve se afwesigheid nie (wat tog wel 'n feit is). Wat ek wel gesê het is dat die geskerts met Steve se persoonlike lewe in die opvoering in uiters swak smaak geskied het. Ek is hier op SêNet op rekord dat ek met Steve oor politiek verskil, maar terselfde tyd van mening is dat dit geen rede is om enige kunstenaar dienooreenkomstig van sy aanhang te probeer ontsê of te probeer vervreem nie. En Steve is ongetwyfeld 'n kunstenaar van formaat binne die raamwerk van sy musiekgenre.
Ek is van verdere mening dat die KKNK 'n Afrikanervolksfees, soos in die verlede, hoort te wees; bekostigbaar vir selfs die armste onder ons volksgenote, en wat aan die volle spektrum Afrikaner se smaak hoort te voldoen, met "doef, doef" musiek inkluis, en nie net aan 'n pretensieuse "toffie-nosed" minderheid wat dit tot klassieke musiek sou graag beperk wou sien nie, en wat terselfdetyd met misplaaste meerwaardigheid op ander Afrikanerfeeste neersien nie.
Die feit dat toegang so duur was, kan die indruk skep dat dit doelbewus gedoen is om mensewat dit nie kan bekostig nie, uit te hou, nieteenstaande die geveinste stelling dat die jongste fees ten doel het om brûe te bou. Die ooglopende vermindering in veral bruin Afrikaners teenwoordig sê vele, veral in 'n dorp waar bruin mense meer as 80% van die bevolking uitmaak. Sodanige Afrikaners kon die fees net van buite met belustige oë aanskou, wyl gegoede wit Afrikaners daarbinne saamgedrom het.
Vir jou inligting. My musieksmaak word nie in tonnelvisie van net klassieke musiek beperk nie. My smaak sluit "doef, doef", opera, klassieke, simfonie, ens in, en word gewaardeer binne die raamwerk van enige situasie waarin ek my bevind om sodanige musiek te kan geniet, met die voorbehoud dat dit deur kunstenaars geskied wat hulle vakgebied goed onder die knie het. Die feit dat die onder 30's ooglopend onopsigtelik, vergeleke met vorige jare, by die jongste fees voorgekom het, spreek ook boekdele.
Terloops
Die prys van kaartjies is gewoonlik 'n aanduiding hoe 'n verhoogstuk gegradeer word. "My boetie, se boetie se boetie se baba" teen R160, vergeleke met "Buite blaf die honde" teen R110 sê immers iets.
Jaco
Ek moet dit in Engelse se: "He who explaineth too much is lost."
Maar duidelik het jy baie om te verduidelik ....
Tom
"Hy wat te min sêe is duister"
Nou gee vir my meer helderheid wat jou nou eintlik pla.