Elke oggend wanneer ek my rekenaar aanskakel en sien hoe die e-posse inrol, loer ek vinnig na Danie se wyshede en gedagtes vir die dag. Daar staan: “Om kennis te verkry, moet mens studeer, maar om wysheid te verkry, moet mens waarneem.”
Hoe waar! Onwillekeurig laat dit my aan ons klomp op SêNet dink. Elke skrywer dra ’n eie unieke persoonlikheid en is dit ’n voorreg om mekaar te leer ken. Dit sluit die moeilike knorpot asook die humoristiese wyse in. Ekself verkies beide in my mondering. Hoekom? So leer ek om versigtig te trap. Eers waar te neem. By die volgende een te leer en sy kennis myne te maak. Vir my is alles belangwekkend en wil graag verskeie sienings weet en hoor. Hoe anders verkry ons optimale intelligensie.
Maar hoe SIEN die leser ’n brief? Dit laat my dink aan die illustrasie van die glas wat half getap is met water. Die positiewe leser sien die glas as vol, maar die negatiewe sien dit as leeg. Maw, is ek oor die algemeen ’n positiewe waarnemer of eerder ’n negatiewe kritikus.
Briewe bevat verskeie elemente. Vir die een bevat dit miskien net 10% waarheid, maar is steeds bereid om dit sy eie te maak. Daarteenoor sien die negatiewe leser slegs verdoeming en is bereid om die 10% goud te verloor en nie te bank. Ek het ontdek dat alle briewe ’n waarheid kan bevat want agter dit sit ’n groot gees. Om ’n brief dadelik af te skryf, is om goud te verloor. Tragies. Hoe anders sal ek wyshede aanleer en kennis verbreed?
Lesers en skrywers wat ingestel is op die goud (kennis) van ’n brief, sien ook nie name of persoonlike aanvalle raak nie. Sorg dat jou jas dik is. Want as jy nie dadelik skinderstories (leuens) en aanvalle (gesindhede) van die waarheid kan skei, sal jy nie effektief oplossings kan bied. Soms is ek verbaas oor iemand se kommentaar na ’n ongelooflike brief, net om te besef dat die kommentator vanuit die emosionele reageer.
Tyd is kosbaar. Soek net na goud en vermy modder afsaksels. Wanneer daar positief reageer word op ’n brief het dit inderwaarheid niks met die skrywer se sieninge, persoonlikheid, geloof of vorige skrywes te doen. Daar is nie so iets soos ’n gelowige-kamp of ’n evolusie-kamp of ’n wetenskap-kamp nie. Selfs wetenskaplikes verskil van mekaar. Ons almal werk saam in hierdie kraal. Ja, stellinge in ’n brief kan goud, lewe of dood uitspreek. Maar eksélf dra nog dood in my – waarom? Want ek het nog nie tot volmaaktheid gegroei. Maar, dis lekker om te groei en te stoei...! Want daarin lê verborge kennis en wysheid.
Daar is twee tipes wysheid. Natuurlike wysheid (wat ons bymekaar kan aanleer) en goddelike wysheid. Enige leier of skrywer kan natuurlike wysheid aanleer, dis nou as hy wil, maar dieper innerlike wysheid word van God afgebid. Koning Salomo word gevra wat hy begeer, sy begeerte?: Wysheid. As koning was Salomo alreeds opgelei in wysbegeerte en kennis, maar het hy geweet daar is ’n Wysheid (1 Kor 2:6,7) te verkry wat goud in die mond kan genereer en van hom ’n uitsonderlike koning sou maak. Tot vandag staan die wyshede/spreuke van Salomo in die bybel opgeteken vir ons as meetsnoere. Want Wysheid rig ons pad.
Wysheid is ’n sterk Bison. Die oorspronklike Griekse woord vir Wysheid is ‘ LOGOS SOPHIAS’. Sophias beteken: Die vermoë om die dinge wat mense en omstandighede maak wat hulle is, te verstaan en waar te neem. Logos weet ons is die uitdrukking van gedagtes, idees en begrippe.
Moenie jou goud versmaai. Hier op LitNet is dit gratis. Soek dit versigtig uit tussen die name en modder. Al is die buffels in hierdie trop soms rof! Die krag-van-keuse behoort in elk geval aan jou. Dis ’n voorreg. Jy mag kies wat jy wil lees of toehou. En hoef nie van jou stoel af te val, soos ek, toe ek die eerste keer ’n biegbrief oopmaak. Ons lewens loop interessante paaie. Ons hoef nie hier te wees, maar is die Opdrag om te bly, vir nou. Om Wysheid en Kennis aan te leer.
Ek sal nooit Perdebytjie se eerste (harde) woorde aan my vergeet nie. Iets soos: Trienie, kom bietjie uit jou hoekie, kyk wyer rondom jou. Tot vandag bly dit my by – ek het wysheid daarin gevind. Want ja, ek het beskermd groot geword en nie besef hoe koud en wreed dit buite is. Ons moet toegerus word.
Elkeen het sy spesialiteit. Leef sy vakrigting uit. Die gelowige moet daar wees maar ook die agnostikus. Die evolus asook wetenskaplike. Selfs Judas het sy opdrag uitgeleef. Petrus word gesien as ’n verraaier. Maar hy was daar vir ’n doel. Want LitNet rus my toe met Kennis en Wysheid vir die harde werklikhede buite!
Ons leef dus almal ’n opdrag uit. Maak nie saak of ons ’n Petrus, ’n Judas of ’n Ester is. Ons is almal geroep vir ’n Hoër doel. Ons is hier vir nou, vir vandag, vir hierdie oomblik. Maak nie saak of die Logos-bison stoei-en-roei met die Sophias-bison. Solank daar wedersydse respekte is, sterf niemand en word almal bevoordeel daardeur.
Geniet julle kennis, want dan kan ek julle geniet! Maar hou aan Wysheid vas, want dit sal lengte van dae en jare van lewe en vrede vir jou vermeerder. (Spr 3:1)
Trienie Mahne


Kommentaar
Beste Trienie
Trienie Mahne,
Ek neem kennis - en veral; enersyds, jou veronderstelde gebrek aan ervaring (verskoning op 'n forum soos hierdie?) - en andersyds, jou veronderstelling van 'n half leë/half vol glas en die gedagte by jou lesers te wek afhangende hul eie gesteldheid.
Jou sogenaamde gebrek aan (lewens?)ervaring hier, is sekerlik maar jou eie probleem. Ek moedig jou egter heelhartig aan om Perdebytjie se raad te volg.
Met respek; jou veronderstelling omtrent van 'n half leë/half vol glas, vul egter by my die gevoel dat jy nie so openhartig is as wat jy wil voorgee nie .
Kobus de Klerk, beskou homself ook reeds jare lank 'n meester daarin om sulke kamstige lokvalle vir sy kritici te stel.
As iemand jul mening ongunstig of afkeurend bespreek, dan word dit as negatiwiteit en "agnostisisme" afgemaak.
As iemand jul mening gunstig bespreek, en veral napraat daarby, dan word die kruiper as "ware gelowige" aangehef; ja, selfs promiskue dekadente homoseksuele en "agnostici", vind hulself meteens op die regte pad na jul hemel - solank julle gevlei kan voel daarin!
Een van jou eerste bydraes hier, het jou opgewonde vooruitsig na die Wederkoms gedeel - iets waarin ek ook met blydskap by jou aangesluit het.
Kort daarna het jy nes al die ander dwepers hier, na jouself as 'n ware gelowige verwys.
Ook nie veel later nie, het jy nes Kobus de Klerk, na die Bybel as "die Woord van God" verwys.
Ek het egter vrede wat enigeen glo, of nie glo nie.
Jou "gees vervulde trane van blydskap" omtrent Wouter Ferns se minagting vir ander se spiritualiteit, het egter duidelik jou bewusteloosheid en minagting omtrent ander se harte in ons almal se Skepper getoon.
Gegewe die feit dat jy dusver al my vrae aan jou blatant ignoreer; jy onderaan my bydraes (dus in my teenwoordigheid), VAN my praat - in plaas van soos enige opgevoede mens - ook MET my te praat; jy ewe aanvallend en strydlustig, my op my van aanspreek; jy jouself as ware Christengelowige verhef en nes al die ander infernale "Spiritueel Intelligentes" hier, die Bybel verafgod ... kan dit min twyfel aan jou gesindheid omtrent rakende half vol/half leë lokvalle laat.
Jy is inderdaad gemaak!
Ek ag die feit dat jy in die regte lewe 'n ma (selfs miskien ouma), huweliksmaat, vriendin, formidabele berader, ... en alle ander goeie mens eienskappe uitleef.
Ek ken jou egter net aan jou ergerlike en onthutste tartufferie op die werf - en dan natuurlik; jou "liewe Trienie veldtog". Een oomblik sal jy Kobus de Klerk, se kreasioniste snert ewe gees vervuld " oee" en "aaaahhh", ... more stort jy dalk weer jou gees vervulde trane oor Jaco Fourie en Wouter Ferns se fornikasie, ... sorgvuldig bewoord om jou half vol/half leë lokval in die "wysheid" en "kennis" waarin jy hierbo roem, te stel!
Laat my dit herhaal; ek het vrede wat enigeen glo, of nie glo nie.
Ek het my egter daartoe verbind om ter wille van die Evangelie, onderdrukkers en hul minagting van ander se harte in ons Skepper onder 'n mantel van Godsdiens, met dieselfde felheid as hul anderhaat die bieg voor te lees.
Dis Sondagaand kort voor middernag - ek het gebid, en lank genoeg nagedink hieroor.
Mag Jesus Christus onse HERE, ons verlos van half leë/half vol lokvalle - oral in die lewe - en self die Kennis en Wysheid wees wat ons harte met warmte, eerlikheid, openlikheid, en opregtheid volmaak.
Namaste!
Cornelius Henn
"Dis Sondagaand kort voor middernag - ek het gebid, en lank genoeg nagedink hieroor".
Watter een van jou gode was hierdie keer die gelukkige een?