Jors Bpk

  • 1

Jors staan aan die stuur van ’n onderneming sonder weerga. Hier’s sy besigheidskaartjie. Dít maak dinge amptelik. Terloops, sy naam spel mens eintlik met ’n z. Die volgende tienduisend sal so lees. Bel hom. Indien jy sy kontakbesonderhede verloor wend jou tot die telefoongids, onder die kategorie: windskerms, want hy repareer onder andere televisiestelle ook. Die laaste pamflette met ’n volledige uitleg van sy dienste en produkte wapper tans in die wind by die kruising van so en so. Of jy kan sy webtuiste besoek. Tik slegs die sleutelwoorde “Gratis kwotasie en koffie” in die soekveld. Klik dan op volgende bladsy aan die onderkant van jou rekenaarskerm tot by ontelbaar vir sy webwerf. En o, sy virtuele pakkamer het onbeperkte voorraad van alles.

Jors is altyd op kantoor gekraag en krawat. Besigheid kan enige oomblik daar in steier en in sy skoot val. Wie weet, die telefoon spring dalk weer vanself terug op die mikkie. Teen sy kantoormuur hang sy trots, ’n sertifikaat vir die grootste sympathy sale tot op hede soos toegeken deur die sakekamer. Jors rol heen-en-weer oor setperke saam groot koppe van industrie. Sy bofhoue op die negentiende bly ongeëwenaar. In die tussengange staan almal op aandag as sy naam gefluister word en maandeinde buig almal in aanbidding voor sy tjekboek.

Maar Jors verloor nooit sy wortels uit die oog nie. Soos die slag wat hy die markprys op sy knieë gehad het met 156 kissies soetrissie, hidroponies gekweek in tonnels, met ywerige bystand van kundiges. ’n Opbrengste van R2000 uit ’n R250 000 belegging is nie te versmaai nie. Ja, in sy besigheidswêreld is daar altyd ’n ou op ’n drafstap agter ’n kruiwa van tuin tot tuin. Iemand wat vas glo daar’s genoeg geld wat rond lê, ’n mens moet net gewys word waar om te buk en dit op te tel. 

Adriaan

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top