Jan Rap: Die komedie tel spoed op

  • 0

Om perspektief te behou ivm die “apartheid” diskoers wat tans hier aan die gang is, net eers die volgende:

Op 2013-10-15 skryf Jan Rap die volgende onder die opskrif:

Dis verkeerd om te sê slegte goed is nie nou meer apartheid se skuld nie”
en ek haal hom woordeliks aan:

…” want dit sou beteken daar wás op 'n kol iets leliks wat wel (sogenaamde) apartheid se skuld was. Ek sê spesifiek 'sogenaamde' apartheid want met 'apartheid' word bedoel die onderdruk en uitbuit van mense deur spesifiek die Afrikaner. Laat ek dit weer sê:  Waar die woord 'apartheid' gebruik word, soos in '... oorblyfsel van apartheid ...' byvoorbeeld, word bedoel 'bose onderdrukking van swartmense deur die Afrikaner'.  Daar was nooit so iets nie; die Afrikaner het, anders as veral die Engelse, nog nooit iemand onderdruk nie…”

In reaksie hierop het ek in verskeie skrywes daarop gewys dat opeenvolgende NP-regerings veral ná 1948 dmv talle stukke wetgewing en optredes uiters diskriminerend, ongevoelig, illegitiem en pleinweg vernederend opgetree het teen die meerderheid landsinwoners wat hier gebore en ingeburger was. Almal weet die NP se steunbasis was die Afrikaners. Om dus, soos wat Jan Rap gedoen het, te sê “… daar was nooit so iets nie; die Afrikaner het, anders as veral die Engelse, nog nooit iemand onderdruk nie…” is só vergesog, dat jy politieke oogklappe moet dra om dit enigsins te glo.

Wat opvallend is, is dat Jan Rap en Cornelius Henn en ander volgelinge onmiddellik weggespring het met ‘n soort van “…ja, maar apartheid was nie rêrig so sleg nie…” en toe doen hulle twee goed: Eerstens begin hulle om die Engelse vir apartheid te blameer en daaropvolgend stuur hulle die debat na die probleme wat tans in die huidige Suid-Afrika ondervind word. Dit is nie waaroor hierdie debat gaan nie.

Ek het nog in geen skrywe ontken dat die Engelse / Engeland ‘n rol gespeel het in die grondlegging van apartheid nie, my punt is dat die Afrikaners ‘n geweldige groot rol gespeel het om Apartheid te institusionaliseer en oor ‘n periode van ongeveer vyftig jaar geweldige skade aangedoen het teenoor mede landgenote wat nie wit van kleur was nie. Om dit te ontken is soos om te glo die maan is van kaas gemaak en kersvader bly rêrig by die noordpool.

Om sy siening te regverdig dat Swart, Bruin en Indiër inwoners van SA nié onderdruk is nie, skryf Jan Rap onlangs:”… maar omdat stem inherent is aan 'n regeringsvorm wat bloot, "deur die eeue", net nie vir hulle gewerk het nie..." 

Toe ek hom wys op die neerhalende trant van sy uitspraak - ons weet wie die “hulle” is na wie hy verwys - wat doen hy toe? Hy lieg so klein bietjie met die volgende:”…  Hoekom openbaar ek nou rasverhewendheid as ek sê vir eeue het niemand gestem nie?  Dis mos die waarheid of hoe?”  Skielik word “hulle” toe “niemand” Uitgevang, Jan. Jou geskrewe woord staan vas.

Ek het onlangs twee vrae aan Jan gerig: Waar moes die Nie-Wittes in SA hul burgerregte uitoefen, en tweedens dat hy vir ons voorbeelde gee van Nie-Wittes, wat, soos hy te kenne gee, terug hunker na die “ou” Suid-Afrika.

Op vraag een antwoord hy:”… Die swartes sou meestal hulle burgerregte uitoefen in die republieke/koningkryke van Swaziland, Basoetoeland, Zoeloeland, Xhosaland, Vendaland, Pediland, Tsongaland en Tswanaland en ook, hier en daar, in die Republiek van Suid-Afrika…”  Op vraag twee is sy antwoord:”…Al diegene wat vandag in protesopstande betrokke is, en gister en eergister…jy kan maar ‘n notaboekie vat... en hulle een-een voorkeer en name neerskryf…”

My reaksie hierop? Eerstens, die Republieke van wat?? En tweedens, Jan glo jy rêrig hierdie protesmakers het énige hunkering terug na Apartheid. Gaan sê jy vir hulle hulle is op pad terug na paswette, sirenes saans om nege om te dorp-uit, “slegs blankes” borde op elke openbare plek, werkreservering, die ontugwet, verbod op “gemengde” huwelike, geen stemreg, groepsgebiede, geforseerde verskuiwings, aparte strande en ontspanningsgeriewe, aanhouding sonder verhoor, ens, ens. Die lys is eindeloos. Bring vir my een wat hiernatoe terugverlang, net een.

Wat egter bo alles die kroon span is die volgende juweeltjie waarmee Jan Rap vorendag kom op my vraag hoe ‘n mens dit regverdig dat mense nie in hul geboorteland mag stem nie. “…Ek sê jou weer, 'geboorteland' is arbitrêr…” Het ons hier te doen met die staatsreg ala Jan Rap? Om te ontken dat apartheid ernstige letsels op ons land gelaat het, én dat Afrikaners ‘n beduidende rol hierin gespeel het, is volstruispolitiek: Kop in die sand.

Dirk Rigter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top