Jacob Gedleyihelkisa Zuma GCB

  • 0

Die amp van president van die land is belangrik en 'n essensiële deel van ons demokrasie. Gevolglik behoort normaalweg met respek na die amp en die bekleër daarvan verwys te word. Die feit dat dit nie altyd gebeur nie, word vierkantig voor die deur van Jacob Gedleyihelkisa Zuma GCB (gebore 12 April 1942) gelê. [Hierdie drie hoofletters na sy van het my aanvanklik koud gesit. Dit kan tog nie iets te doen hê met 'n graad, bv BA, BCom of BSc nie? My eerste google-soektog het 'Good Christian Bitches' opgelewer. Eintlik staan dit vir Honorary knight grand cross of the Order of the Bath. Die koningin het dit in 2010 aan hom toegeken.] Het al dikwels gewonder: met nege provinsies en nog meer onderwysdepartemente waarom het niemand nog 'n goue skoolsertifikaat gegee aan die man wat boeke vroeg koeibaai toegeroep het en sukkel om 'n ander ou se toespraak voor te lees?

Hy het al baie woorde kwyt geraak. Van die mees onlangse (by die dinee) is: “Jy kan nie die ANC skei van die toekoms van Suid-Afrika nie. Jy kan nie.”

'n Vinnige reaksie hierop is miskien: As jy die toekoms van die ANC en Zuma vinnig kan skei sal Suid-Afrika en die ANC grootliks daarby baat.

Ek is nie een van die wat die ANC sonder meer na die warmplek stuur nie. Hulle was 'n “bevrydingsbeweging” en hierby moet gevoeg word dat militêr gesproke was hulle van die swakste wat daar al ooit was. Nogtans 'n groot verkiesingsoorwinning in 1994 het hulle in staat gestel om 'n bestendige bestel te skep, alhoewel hulle nie naastenby hulle kanse om die land op 'n beter pad te plaas benut het nie.

Nog 'n bekende uitdrukking van Zuma: Die ANC gaan regeer tot Jesus weer kom.

Een van die jongste skokke vanuit Zuma se dorp is die moontlikheid van 'n vyfde huwelik. Die man het sweerlik nog nie daaraan gedink hoe dit moet wees om binnekort 24 uur per dag by die huis te wees nie, met vyf vroue rondom hom [OK – ek kyk al weer uit 'n bose Westerse hoek na die saak!].

In elk geval, die ANC weet hoe om partie te hou en geld te verspil en vir hulle 103de verjaarsdag is Kaapstad die onwillige gasheer. Die ANC het daagliks met die DA en sy amptenare baklei want hierdie provinsie en stad het demokraties en verkeerd besluit die DA is die beste party.

'n Party-byeenkoms is gewoonlik 'n warmbakkery van mekaar, maar die ANC moet dit op 'n reuseskaal doen anders gaan hulle volgende jaar dalk weer tweede kom – dit beteken 50 000 mense word bymekaar gekry en moet deur Zuma vermaak word. Soms haal hy weer sy masjiengeweer uit (die struggle-lied) om aan die wêreld te wys daar is twee soorte rassismes. Om die koste te help dek moet van die rykstes in die land vragte geld uithaal (kleur is nou onbelangrik) om aan 'n tafel naby Zuma te sit.

Aan die eters het Zuma gesê Jan van Riebeeck het op 6 April 1652 hier aangekom. Sy volgende stelling is egter verkeerd: “En dit was die begin van al die land se probleme.” Hy noem nie van die Khoisan wat destyds al deur ander dood gemaak is nie, want hy wil almal se stemme hê.

Dat die Nederlande in 1652 sy goue eeu beleef het en waarskynlik die voorste nasie op aarde was, en die jongste tegnologie en kennis na 'n kontinent gebring het, wat duisende jare agter geraak het sal Zuma ook liewer oor swyg. Die gespeekte wiel vir waens het reeds meer as 3 500 jaar bestaan en skrif 4 500 jaar. Al dink Zuma nie so nie, was dit dringend nodig om Europese tegnieke hier bekend te stel en die land te ontwikkel. Ernstige besware word geopper en vingers na wittes gewys oor sekere dinge wat sedert 1652 gebeur het.

In die proses moet die ontsaglike voordele uit die kontak ook gelys word, want anders raak dit eensydig. Om die skuld vir die geweldige agterstand op die wittes te laai is laf want voor 1652 was hulle nie hier nie en kan dus nie skuldig wees nie.

Die eintlike kontak tussen wit en swart (die Khoisan word buite rekening gelaat) het eers 120 jaar na Van Riebeeck se aankoms plaasgevind en dit beteken dat swart en wit mekaar kan gelukwens oor wat in 'n relatief kort tyd bereik is. Om die voordele van die wit teenwoordigheid te ontken en slegs die nadele te beklemtoon is verkeerd en nie 'n gesonde manier om die toekoms te benader nie. Eintlik mag die saak nie tot emosie verlaag word nie. Eerder moet met wetenskaplik gebaseerde ekonomiese, geskiedkundige en sosiale ondersoeke, met vergelykende studies van ander lande, die pad vir verdere groei aangedui word.

Natuurlik kan 'n mens, wanneer jy 1 500 mense toespreek nie net aangename dingetjies kwyt raak nie. Jy moet die ouens ook wakker hou. Dan maak 'n mens stellings soos dat die afgelope paar honderd jaar 'n geweldige tyd van aanpassing was (my opsomming is bedoel om Zuma beter te laat lyk!). Nogtans moes hy eintlik bygevoeg het, om die swaar mae en oë te balanseer: ons was te lank rustig in hierdie land en sal van nou af hard moet werk en die skaal moet dophou!

As ek dan 'n laaste woordjie kan inkry: laat ou Jan van Riebeeck rustig in Indonesië slaap. Dis eintlik sedert Jacob Zuma president geword het dat dinge regtig verkeerd loop!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top