Ek wil geensins voorgee dat my gebruik van Afrikaans foutloos is nie. Mens word al so lank gebombardeer met Engels van alle kante af dat jy dalk glad nie eens bewus is daarvan as jy 'n anglisisme gebruik nie.
Een gebruik onder Afrikaanssprekendes is om te praat van "pepers" of "peppers" as hulle bedoel "soetrissie".Op TV sien jy in een kookprogram na die ander die mense sê "nou sit jy die gekapte pepers in" dan sit hulle die soetrissies in die pot. Dis alles onder die invloed van Engels wat 'n totale wanbenaming gemaak het deur die soetrissies ook "peppers" te noem.
Die regte peperplant is 'n klimopplant wat deur pale of bome gestut word. (Familie Piperaceae, Piper nigrum - Wikipedia). Dit het trossies klein bessies (peperkorrels) en beide swart en wit peper word van die bessies gemaak. Swart peper word gemaak as die bessie nog groen is en wit peper as dit ryp is. Ek gaan nie nou die prosesse hier beskryf nie, kyk maar self in Wikipedia as iemand genoeg belangstel.
Die rissie, daarenteen, kom van 'n heel ander plant (Familie solanaceae, Genus Capsicum.) Ons ken almal die brandrissies (chilli) en die rooi soetrissie wat amper soos 'n mooi vet tamatie lyk.
Om dinge verder te kompliseer, is daar heel ander plante ook wat "pepers' genoem word, soos die groot peperbome, omdat hulle klein rooi bessies het wat soos die regte peperbessies lyk.
Groete,
Tiens Pretorius


Kommentaar
Tiens, goed om weer van jou te hoor. Ek neem die vrymoedigheid om jou benadering in my eie woorde op te som: ons moet die gebruik van Afrikaans geniet en nie te bekommerd wees oor foute wat ons soms maak nie. Aan die ander kant moet ons ook probeer om taalbewus te wees en soetrissies dien as 'n uitstekende voorbeeld.
'n Webwerf soos hierdie moet lekker gesels verteenwoordig en dan slaan ons sommer van taalsake na gesondheid oor. Jy skryf oor die pepers wat 'n mens se mond laat brand sonder om rooipeper (cayenne) te noem. Dis een van my onderwerpe. Rooipeper is nie familie van wit- of swartpeper nie. Dis eerder 'n soort rissie, in terme van voorkoms. In teenstelling met koffie wat jou are laat saamtrek maak rooipeper jou are oop en verdun die bloed. Dit behoort gereeld oor die kos gestrooi te word, volgens smaak. Daar is tawwe ouens wat elke dag 'n plat teelepel rooipeper in 'n glas water oplos en dit drink. Onthou net van die plat teelepel en moet dit nie te vinnig probeer drink nie! Die gesondheidsvoordele is so baie dat dit 'n google soektog regverdig in teenstelling met wit- en swartpeper waarvan die liggaam moeilik ontslae raak. Goeie wense van George.
Ek het vergeet van rooipeper. Dit is natuurlik een van die rissiesoorte en miskien moet ons dit "rissiepoeier" noem, of eintlik 'brandrissiepoeier". Maar dis te lank en die "volk" sal seker nie daarvoor val nie.
Ek beplan nie om gou daarvan te eet of drink nie - hou glad nie van al die hittige goed wat hulle in mens se kos gooi nie.
Groete,
Tiens