Baie van ons, soms selfs ek ook, het al die goedvoel-mantra uitgeruk wat soos volg lui: “... gee my die kalmte om te aanvaar wat ek nie kan verander nie, die moed om die dinge te verander wat ek kan en die wysheid om die verskil te ken.”
Ek was onder die indruk dat deurdinkte antwoorde op die meeste vrae reeds eeue lank bestaan. Ek was ook diep onder die indruk dat baie van die alom ontwykende antwoorde in die Skrif vervat is en deur skrifgeleerdes georden en verklaar is. Die res van die onsekerhede wat êrens in die grysgebiede vasgevang sit, wel, dit sal mens tog in die hedendaagse tydskrifte en wetboeke optel. As dit egter steeds nie die gewensde sinvolle antwoorde lewer nie, kan die internet altyd nader gemuis word. Deesdae doen die muis ieder geval meer soek- as sitwerk.
Tog, deur al die grense van sekerheid en die hope der hope inligting, verduidelikings en soekenjins wat vir ons dom mense beskikbaar is, sit ek steeds skeelverstom oor die naarhede en waarhede, myns insiens, wat sonder sinvolle rede bly voortbestaan.
Uiteraard en te midde van ’n geestesgesondheidsweek hier-en-daar, deel ek graag ’n lysie van gemoeds-onverklaarbare dinge en geite wat my pla; wel wetende dat dit moontlik tot erge kwelling en vrae rakende my eie geestesgesondheid mag aanleiding gee ...
1. Hoekom wil mense gesinsfoto’s in wit klere neem?
2. Waarom hang die tannie wat die Afrikaanse Nuusberig op KykNET lees, se koppie so skuins?
3. Hoekom is my eerste bord aandete lekkerder as die tweede bord?
4. Waarom skreeu krieketspelers “hoezit?!” en hoekom vrá ons mense van die Vlakte dit?
5. Hoekom drink die mense, wat telefoonbemarking doen, energiedrankies?
6. Waarom kan ’n politikus nie die waarheid praat nie?
7. Hoekom dra rollerige tannies en oompies stywe hempies?
8. Waarom sê mense dat die “Heer se weë onbekend is”?
9. Hoekom het alle boeke nie hoofstukke nie?
10. Waarom geniet mense met min tande dit om te glimlag?
11. Hoekom gebruik mense die internet om te gesels?
12. Waarom vra “ het jy jou raak gesny?”, wanneer iemand bloei.
13. Hoekom roep die Amerikaners God se naam uit en die res van ons aan?
14. Waarom sê mense “verskoon my Frans” en vloek dan in Afrikaans?
15. Hoekom krimp ’n skaap se wol nie wanneer dit natreën nie?
16. Waarom kan bedreigde diere bedreigde plante eet?
17. Hoekom is daar nie ’n ander woord vir sinoniem nie?
18. Waarom smeek ons om te lewe, maar lewe om te sterwe?
19. Hoekom verkoop McDonalds nie warmbrakke nie?
20. Waarom is lekker net ’n vinger lank?
21. Hoekom kan jy nie snags dagdroom nie?
22. Waarom kan ’n aartappelland nie ovaal wees nie?
23. Hoekom is vanieljeroomys wit, maar die saad bruin?
24. Waarom moet ’n ateïs in die Hof sweer?
25. Hoekom tatoeëer Chinese nie Engelse woorde op hul lywe nie?
26. Waarom is daar nie katkos wat na muis smaak nie?
27. Hoekom noem die bemarkers iets ’n “gratis geskenk” – is geskenke nie juis gratis nie?
28. Waarom het honde natneuse?
29. Hoekom kry haarlose mans nie skilfers nie?
30. Waarom word ’n skaapwagter nie lomerig wanneer hy skape tel nie?
31. Hoekom is Superman se jas rooi?
32. Waarom sê mense “OK”?
33. Hoekom noem ons dit ’n hyser, as die ding mense afneem ook?
34. Waarom is stilbly nie ’n onbeantwoorde vraag nie?
36. Waarom is die vrou as swakker geslag die rugraat van ’n gemeenskap?
37. Hoekom hoef gedigte nie te rym nie?
38. Waarom dra vrouens mini’s kerk toe, maar snyerspakkies werk toe?
39. Hoekom hardloop ’n waghond soms weg?
40. Waarom kan mans oor hul vrouens kla en nie by hulle nie?
41. Hoekom is die tweede glas wyn lekkerder as die eerste een?
42. Waarom is Kersfeestyd so vinnig verby?
43. Hoekom het Steve so baie kinders?
44. Waarom vind ’n Ooievaarstee nie in die veld plaas nie?
45. Hoekom is Nicky van den Bergh nie meer op die draadloos nie?
46. Waarom noem hulle sekere mense sosiale vlinders?
47. Hoekom is Jurie Els nie ’n All Black nie?
48. Waarom was die geel heks geel en is die wenner se trui ook?
49. Hoekom luister ons na ander, eerder om self te dink?
50. Watter een is korrek: Waarom of hoekom?
51. En ... hoekom is waarom verkeerd, as hoekom reg is?
Laat die skuim om die hoeke van ons monde borrel en laat ons die vrae vra wie se antwoorde ons bly ontwyk en laat ons sodoende, regstellende aksies teen die onverklaarbare en sinnelose voer.


Kommentaar
En dan wonder my Ma hoekom ek my badwater drink.
Hennie...
1. Omdat hulle rein daaruit wil sien
2. Vir effek
3. As die muis dik is, is die koring bitter
4. "How is that, Mr. umpire ?" en ons "slang" dit na "hoezit"
5. Stres, om 'n "sale" te maak
6. Kom ons vra die tandetrekker
7. Om maer te lyk
8. Omdat hulle in die duister is oor hoekom hulle nie 'n hemel op aarde kan afbid nie
9. Skrywers se priviligie
10. Omdat ander hul snaaks vind
11. Dis goedkoper as 'n sel/telefoon en gouer as 'n brief
12. Is dalk geskiet of self met 'n hamer raak gemoer
13. In God we trust
14. Ken nie 'n Franse vloekwoord nie
15. Dit reën nie "chemicals" nie
16. Wie is dit wat dier en plant bedreig ?
17. Hoekom moet daar een wees?
18. Wie lewe om te sterwe ?
19. Wie sê 'n "hotdog" vertaal na 'n warmbrak ?
20. Te veel van 'n goeie ding ...
21. Kan jy bedags nagdroom ?
22. Die boer sal jou sê hoekom
23. Vra die coconut
24. Hy sweer nie, maar bevestig dat hy nie lieg nie
25. Hulle verstaan nie Engels nie
26. Wie sê?
27. Omdat hy nie aandui wat geskenk veronderstel nie, soos in gratis horlosie
28. Vir die veearts om met die eerste oogopslag die koste van konsultasie te bepaal
29. Hul was hul panne gereeld
30. Hy tel nie skape in die middel van die nag nie
31. Omdat hy gereeld rooi sien
32. Die hele wêreld verstaan wat dit beteken
33. Hoe klink valler, afmoerer,afryer
34. Dit dui op wat die aanhoorder van die vraesteller dink
35. Hier lê jou diagnose verskuil
36. Dis asgevolg van die "mission" posisie
37. Omdat dit moeilik raak met 'n bottel wyn
38. Omdat hulle Eva's genoem word
39. Hy's nie voldoende vergoed vir die taak wat voorlê nie
40. Jy word lank daarna nog geweier
41. Dit het niks te doen met smaak nie
42. Omdat jy nie werk nie
43. Hy is dalk Rooms Katoliek
44. Omdat dit nie oor die ooievaar gaan nie, maar om die tee
45. Want hy sit nou op die draad
46. Die eks-man se geld brand haar gat
47. Hy verlang seker
48. Hoekom is die blou bul blou ?
49. Want ons is bang vir ons eie denkfoute
50. Sinonieme
51. Vinkel en koljander, die een is soos die ander
Ek hoop 'n liggie skyn nou vir jou.
Raed-na-Gael
Gael, jou antwoorde op die geil vrae is briljant! Dankie.