Henn se “sondaars nes ek en jy”

  • 7

Henn, in my brief van 21/11/13 oor Verhoudings dra krag, noem jy dat toksiese mense “sondaars is nes ek en jy.” Eerstens wil ek regstel en noem dat daar geen begeerte in my gemoed is om jou te slag nie. Die skrywe was ook nie op jou gemik nie. Ek vra verskoning as dit enigsins indruk daartoe skep.

Wat wel my oog getrek het was jou stelling dat: ek en jy nog sondaars is. Henn, sien jy jouself dan nog as ’n sondaar wat genade van God af moet bid en om vergifnis moet smeek elke dag? Dan het ek goeie nuus vir jou: Ek en jy (wat Jesus Christus as verlosser en saligmaker aangeneem het) is nie meer sondaars nie. Ons hoef ook nie daagliks meer te smeek vir Sy genade nie. Glo katolieke nog so? Nee man – skud af daardie sondebewustheidsgevoel en raak eerder Godsbewus. Kry vir jou ’n ander geloof. Die God wat ek ken en dien doen alles in oorvloed, perfek en altyd positief. Enige ander evangelie is onwaar. God se evangelie is een van LIEFDE, daarom:

My bybel bevat die volgende stellinge omtrent myself:

  1. Kol 1:13 – Verlos uit die mag van duisternis
  2. Rom 8:1-2 – Geen veroordeling meer
  3. Kol 2:13-15 – Die skuldbrief (LW toekomstige tekortkominge en sonde ingesluit) uitgedelg aan die Kruis. Die skeidsmuur afgebreek.
  4. 3 Kor 5:17-21 – Nou met God versoen. En nie meer onder die wet nie, maar onder “Die Geregtigheid van God” in Hom.

Volgens ’n studie gemaak beteken “Die Geregtigheid van God” dat ek nou voor God staan 100% onskuldig, vrygekoop asook duurgekoop omrede onse Here KLAAR betaal het. Enige skuldbrief dus teen my is ongeldig. (Kol 2:13)  

Henn, as hierdie skrifte so in jou bybel ook staan, is jy ’n Koningskind en nie meer arme wurmpie Jakob nie. Vat dit en leef dit! Dis bevrydend en awesome. Anders gaan jy swaar en skuldig leef elke dag. Ek soek ook nie meer my eie eer nie, ek HET klaar God se eer ontvang, want ek sit saam met Hom in hemelse plekke. Ek val ook nie meer voor God en smeek Hom om genade en vergifnis elke dag nie – ek het dit KLAAR verkry. Dit is volbring! Waarom moet die mens altyd voel dat hy vir alles moet betaal of werk of ‘self’ dit moet verkry of soek of eie heiligmaking uitleef om te kwalifiseer voor God? Nee man – ons het dit klaar verkry!  Hierdie begrip en sienswyse verander jou lewe op aarde drasties, en dit is hoe God wil dat ons moet lewe, vanuit ons stand in geregtigheid.   

Bewaar jouself van ’n godsdiensgees Henn, of sondebewustheidsgees, ekself het jare daaronder gebuk gegaan en was introspeksie en vasting ook my ritueel gewees. As jou geloof swaarmoedig is, soek vir jou ’n ander een. Word ’n lewende lidmaat, van ’n lewende kerk wat ’n lewende God aanbid. Die Here wat ek ken verwag nie allerhande voorwaardes van die mens nie.

Jy is vry – leef dit uit! Dan word jy dit.

Dan word redenasies oor of iets ’n ‘mite’ is en of wat is die verskil tussen ’n gelowige en ’n ware gelowige en of Trienie Mahne geesvervulde trane gestort het en of KdK verkeerde sieninge aankleef en of die bybel as Jesus Christus (of wie?) aanbid word, kleinlike gedagtes en dinge, voor die oë van die Almagtige Skepper wat die aarde in die palm van Sy hand vashou en my van ALLES vrygespreek het.

Niemand kan iets aan jou doen nie Henn, jou skuldbrief is klaar voor betaal, ek is ook nie jou vyand nie, ons weet wel wie ons werklike vyand is. Jy is NIE meer ’n sondaar nie.

Ek hoop dat jy die goedheid in my brief sal raaksien. 

O ja, maar wat dan van ons sondes – mag jy dalk vra? My bybel sê dat my sondes ”in die dieptes van die see gegooi is”, so “vêr verwyder soos die ooste van die weste.” Blykbaar is daar nie ’n eindpunt tussen die ooste en die weste nie. En ek gaan doen ook geen “fishing” meer in hierdie dieptes van die see nie.

Kyk wat gebeur nou as ek onder hierdie vernuwe denke en bewustheid van vryheid leef. Haai – my sondes het werklik afgeval! Want ek WIL nie met my bruidsrok wat die hemelse Bruidegom (Jesus) vir my gegee het, wat wit gekleur is met die “Geregtigheid van God” meer in die die modder (sonde) gaan rondploeter nie. Wat ’n goddelike gedagte en daad.

Wat beteken dit alles? Eenvoudig dit – geen mens kan homself red of verlos nie. Nie uit goeie dade of ure se gebede of om “heilig” te probeer leef of ’n godsdiens of kerk aan te hang nie. As dit by die “Geregtigheid van God” kom, is hierdie dade van ons uitgesluit. Alles kom NET vanuit God se goedheid.

Dis hoe die ware God dinge doen, die Een wat ek dien en persoonlik ken! Sy gedagtes en dade teenoor my, is verhewe bo enige ander sin. Want ek is Sy kind en jy, Sy maaksel - ag ek hoog.

Henn, ek smeer jou nie heuning nie, ek loop net oor van heuning (Die Heilige Gees). Ken julle katolieke daardie lied:

I love you with the love of the Lord
Yes – I love you with the love of the Lord!
I can see in you, the glory of my King
For I love you with the love of the Lord.

Trienie Mahne

  • 7

Kommentaar

  • CorneliusHenn

    Trienie Mahne,

    In jou voortvarendheid, herinner ek jou eerstens aan die Nagmaal.

    Ons kom tog nie na die Nagmaal om daarmee te kenne te gee dat ons in onsself volmaak en regverdig is nie. Inteendeel, ons kom juis en gereeld daarna omdat ons lewe buite onsself in Christus soek, en daarmee bely ons dat ons deur ons sonde dood is. Nederige kinders van die HERE vind vele ellende en gebreke in hulself en dat ons daagliks moet stry teen die swakheid en drifte. Waar ons egter deur die genade van die Heilige Gees oor sulke gebreke van harte berou het en opreg begeer om volgens al die gebooie van God te lewe, kan ons sekere wees dat geen sonde of swakheid kan verhinder dat God ons in genade aangeneem word nie.

    Soos daar geskrywe staan: God is lig, en geen duisternis is in Hom nie. As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie. Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde. As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. As ons, ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot 'n leuenaar en is sy woord nie in ons nie. (uit 1 Johannes 1)

    Ja, elke sekond van my lewe is ek steeds afhanklik van God se vergifnis en genade!

    Ek deel ook Lukas 18 met jou: En Hy het ook met die oog op sommige wat op hulleself vertrou dat hulle regverdig is en die ander verag, hierdie gelykenis vertel. Twee manne het na die tempel opgegaan om te bid, die een 'n Fariseër en die ander 'n tollenaar. En die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: o God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie--rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek verkry. En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: o God, wees my, sondaar, genadig! Ek sê vir julle, hierdie laaste een het geregverdig na sy huis gegaan eerder as die eerste een; want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en hy wat homself verneder, sal verhoog word.

    Ook 'n lering in 2 Korinte 12:7: " En dat ek [Paulus] my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my 'n doring in die vlees gegee, 'n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie."

    Steeds gebonde in hierdie lewe aan my vlees, besef ek my struikel elke dag. Daarom bely ek dit gedurig met die enigste troos dat ek met liggaam en siel, in lewe en in sterwe, nie aan myself nie, maar aan my getroue Saligmaker Jesus Christus toebehoort, wat met Sy dierbare bloed vir al my sondes te volle betaal het en my uit die heerskappy van die duiwel verlos het en my so bewaar dat sonder die wil van onse HERE, geen haar van my hoof sal val nie, ja ook, dat alles tot my saligheid sal dien; daarmee verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees - God onse Moeder - van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om verder vir hom te lewe.

    Trienie Mahne, daar is menige patologiese narsis wat die verlossing in Jesus Christus as 'n instrument in hul hand misbruik om hulself daarmee oor ander te verhef, en om hul blinde gewetenloosheid teenoor ander se harte te regverdig.

    Siek egotiste beskou hulself heiliger as ander en roem op God se genade as 'n mag tot selfverheffing in hul eie hand.

    Daarenteen besef ek elke dag steeds my afhanklikheid aan God se genade en bid ek om die klei in onse Pottebakker se hande te wees.

    Jou militaristiese selfverheffing oor ander is duidelik 'n volharding in 'n duisternis vol selfsug. As sodanige sondelose ware gelowige, soek jy daarom heel entoesiasties en borrelend vol van jouself die splinter in 'n ander se oog en roep ander agter jou aan wyl jy blind met 'n balk in die gesig rondval.

    Bid jy nog daagliks soos die HERE jou geleer het?

    Onse Vader wat in die Hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons, ons skulde - soos ons ook ons skuldenaars vergewe; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

    Mag Jesus Christus onse God, ons almal vergewe.

    Cornelius Henn

  • Henn

    As jy onder die wet asook die wet van sonde wil bly, dis jou keuse, ek aanvaar dit so. Miskien is daar tog seisoene in mens se lewe om te klim. Ek weet net daar is geen manier wat ek na my sondige, depressiewe, skuldige lewe weer gaan terugkeer.  Ek kan nie my minnelied verander na 'n smeek-om-genade-lied nie.

     

    Jy praat van die Onse Vader wat Jesus, let wel, VOOR sy kruisiging gebid het. Die frase "laat u koninkryk kom..." hoe sien jy hierdie "Koninkryk" wat Jesus van praat, wat in die hemel en op die aarde dieselfde sal wees. Wanneer en waar gaan dit dan vir jou kom? Wat is vir jou die verskil tussen die "Koninkryk van die hemele" en die" koninkryk van God?" Wat het Jesus bedoel met die koninkryk wat "naby" julle gekom het? 

     

    Jy praat ook van "die heerskappy van die duiwel waaruit jy daagliks verlos moet word", wanneer sal jy (Henn) dan verlos word uit hierdie heerskappy? As jy sterf die dag in die liggaam?  Aardeland, dit moet erg wees, 'n ewige stryd ...  Nee - Jesus het klaar gesterf dat ons moet lewe, en dit in OORVLOED.

     

    Jy praat van "dat jy gebonde is aan jou vlees in hierdie lewe." Miskien is dit die probleem, miskien moet jy Watchman Nee se boek: THE SPIRITUAL MAN, joune maak. Ek het dit menigmaal neergesmyt soos wat hy stukkie vir stukkie van jou wêreldse vlees uitsny. Daarna sal jy nie meer vir die vlees of jouself lewe nie, maar net vir God. 

     

    Henn, dit klink miskien of ek hoogdawerend en selfverheffend is, glo my, ek besit nie die begeerte daartoe nie.

    En ja, alles wat ek is of ontvang het, het ek uit GENADE ontvang. En ja - ek ondervind nog elke dag Sy genade oor my. Vir my is 'n nederige en leerbare gees, een van die beste eienskappe om te dra.

     

    Daarom, leer my dan - moet my net nie terugvat na die sonde nie, asb ... ek het borrelend vervul met Gods Gees verby dit gehardloop...

     

  • CorneliusHenn

    Trienie Mahne, 

    Soos reeds vele maal ook aan jou mede sondelose ware gelowige, die vroeëre Kobus de Klerk verduidelik; ek het vrede met jul dogma, asook enigeen se geloof en ongeloof.  

    Sal dit ooit deur die newels van jou selfliefde dring dat ander ook hul Godsdiens borrelend tot eer van ons almal se Skepper in hul harte beleef?  

    Narsisme onder 'n dekmantel van Godsdiens - waar die een glo hulle is beter as 'n ander - het reeds tot die ergste vorme van wraak en bloedvergieting in die mensdom gely.  

    Daarom dat daar selfs wetgewing soos in die Grondwet van Suid Afrika vervat is wat die laster of neerhaal van 'n ander se Godsdiens verbied.  

    Die tipe besetenheid waarin jy jouself as sondeloos en bokant die wet ag, is gewis enige oorlogshond se droom.  

    Dis nie net landswette wat selfverheffing bo ander se Godsdiens ontmoedig nie, die einste Bybel wat jy as Jesus Christus (die Woord van God) verheerlik leer dat jy jou naaste moet liefhet soos jouself.  

    Hou jy daarvan as ander jou begeestering bespot Trienie Mahne? 

    Dis voor die handliggend dat jou volgende slimmigheid sal leer dat nie almal jou naaste is nie, daarom dat jy sal volhard in jou gruwelike minagting en selfverheffing teenoor ander, steeds daarin glo dat jy sondeloos is.  

    Duidelik alles in  jou mederwaardige waan van sondeloosheid en bokant enige wet te wees ...  

    Elkeen is egter by 'n ander mylpaal in die lewe en nes 'n Jood nie hul kinders aan "borrelende tentpredikers" se laster teenoor hul "Mishnah" sal wil blootstel nie, net so sal alle lidmate aan die heilige algemene of katolieke (met 'n klein k) Kerk hul kinders teen hupse heuningpotte wil beskerm.  

    Trienie Mahne, daar is werklik geen verskil tussen 'n Godslasteraar soos Angus se minagting vir ander se Godsdiens en jou selfverheffing bo ander se Godsdiens nie.  

    Wel, ek laat dit daar maar neem gerus kennis van my beswaar teen jou blatante en kamstige sondelose minagting vir ander se spiritualiteit.  

    Mag Jesus Christus onse HERE, ons almal vergewe en verlos van die hupsheid en minagting van farisese tentpredikers wat hulself bokant die HERE se gebod en burgerlike orde ag.  

    Nederige groete,

    Cornelius Henn

  • Chris Dippenaar

    Hello Trienie

    Is dit nie belaglik hoe Cornelius almal sal groet in die naam van Allah, maar jou in jou moer stuur as jy jou Christengeloof ietwat anders interpreteer as hy. Wanneer dit kom by Jesus en die interpretasie van wat sy kruisiging beteken het hierdie slim ou mos al die antwoorde, die kenmerk van 'n fanatikus! Sy “nederige groete” klink hol en ek sal baie beter voel die dag as ek vasgemaak word op 'n brandstapel en jy die een is wat moet besluit wanneer dit aangesteek moet word. Kinders moenie met vuurhoutjies speel nie.

    Niemand, nie eers 'n ateïs nie, sal ooit eerlik kan sê dat hy sonder foute is, dit wat jy sonde sou noem. Dis duidelik dat Cornelius 'n strooipop maak van jou siening en dit dan afkraak en bespot op sy unieke “nederige” manier. Die fout wat jy gemaak het was om enigsins notisie te neem van hom. Dis die obsessie wat sommige Christene het met die hel en sonde wat gelei het tot die afgryse van die verlede, en jou benadering tot jou geloof beskou ek as positief in hierdie opsig.

    Chris

  • Chris Dippenaar
    Ek skaam my vir u en hoop dat u die God van Cornelius mag leer ken... Gaan dit by u om vuur te stook of om vir u naaste tot hulp te wees. Lees mooi en het respek vir ander se siening. Ek weet waarvan Cornelius praat, ek sal u nie kan oortuig in u geloof of ongeloof nie al weet ek dat ons almal eendag die waarheid sal leer ken. Ek hoop net dat God u self sal oortuig voor dat u sterf.

    Trienie Mahne,
    Vriend, elke mens is geregtig op sy eie siening, en ek respekteer ook u siening. dit spyt my dat ek nie saam met u kan stem met alles nie. Ek kan slegs vertel dat daar werklik daagliks stryd is tussen my vlees en gees. Geloof in God is ook nie om deur boek kennis te glo en daarom, omdat ek uit my self glo (wat ek uit myself nie kan nie) die saligheid verdien nie. Onverdiend, alleen uit genade deur Christus verdienste kan ek ook nou roem op die verlossing wat Christus vir my verdien het. Maar vriend wat kom ek ook agter waarvan Paulus praat, die "doring in die vlees". Dan het ek net nog te meer die genade van Christus nodig en kan ek nie anders as om op my eie bors te slaan en te smeek om genade nie. Ja ek kom daagliks met veel goeie mense te doen wat glo, wat meer geloof as ek het, waarmee dit veel beter gaan as met my, wat geseënd deur die lewe gaan, waarna almal opkyk en moet erken die en die is vir almal 'n voorbeeld in lewe... Maar ondervra hul, nog nooit is hul in hul ellende toestand ontdek nie, hulle het God aangeneem en in hul goeie werke wat hul verrig verdien hul ook hul seëning. Jesus het vir die siekes en nie vir die gesonde as medisyne meester gekom.

    Cornelius Henn
    Wat brand my hart om u te ontmoet en saam tot God te bid en te smeek dat ons volk terug moet keer op die ou paaie van ons voorouers wat bereid was om te stewe vir hul geloof. Mag ons deur Gods genade mekaar se hande nog versterk en tot uitbreiding van Gods volk dien...

    Mag u almal u die skatkis vind, die genade van Christus.
    Barend

  • CorneliusHenn

    Beste Barend, baie dankie vir jou bemoediging ... ek glo heelhartig die dag sal kom ... Boeregroete, Cornelius Henn

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top