Beeld berig vanoggend onder die opskrif: ‘Bybel is mees gesoekte boek op web’, dat die woord LIEFDE en JESUS van die gewildste ‘soekwoorde’ is.
Terwyl daar skrywers en kommentators debatteer oor die Bybel se geloofwaardigheid en mekaar in die hare vlieg, is daar mense wat in die harde werklikheid buite, stukkend en koud rondlê. Opsoek na ware opregte liefde. Waarom sal hierdie mense so desperaat in hul wanhoop na ’n soekenjin gaan, hopende dat die woorde: “Jesus” en “Liefde” dalk kan help? ’n Bybelvers op ’n koue enjin kan mos nie warm liefde gee en my lewe verander nie. Of kan dit?
Prof Jorrie Jordaan van die Departement Teologie aan die Universiteit van Noordwes het gesê dit dui op die krag en waarheid van die Bybel. ‘Ongeag tegnologiese vooruitgang word die Bybel steeds erken.’
Ek glo saam met Du Rand dat die internet handig te pas kom om die kennis wat nodig is vir ’n dieper geloof, te bekom. Ware gelowiges moet net seker maak van hul eie geloofsraamwerk as maatstaf, en nie deur enige wind of siening omgewaai word.
Die opregte ware gelowige het egter ’n verpligting: Saai van liefde. Hulle verkondig nie ’n evangelie van hel en oordeel nie, want dit ontlont net ’n ander hel. Hul evangelie is een van liefde. Want God is liefde.
Dit laat my terugdink aan hierdie naweek. Blondie (nie regte naam) het in die sirkel reg oorkant my gesit. Tenger fyn vroutjie met prag-styl blonde hare. Eers later deur die naweek het ek ontdek dat haar oë ’n aantreklike hemelblou is! Vrydagaand kon sy nie praat, trane te voorop, kon my ook nie in die oë kyk. Sy het ook nie geweet waar is die Ou testament of die Nuwe. Haar Bybel, nog ’n maagd. Dis nou as dit haar eie Bybel was. Haar oudste seun as baba aan haar eie ma tydelik gegee om groot te maak, want syself was nog te jonk. Vandag weier ma om haar kind terug te gee en smag sy na hierdie kind se liefde. Nou is die hele familie verwyderd van mekaar. Toe kom die tweede kind (ook buite huwelik) en toe loop dinge eers verkeerd. Want sy was opsoek na ware liefde! Nou kan sy haarself nie vergewe vir al haar foute. Maar sy is hier, om reg te stel. Oor te begin.
Die liedjieskrywer dig ’n koortjie: “Liefde red my, toe alles verlore was, red liefde my ...” Blondie was verbaas toe ek haar in my arms toevou en my hart teen haar hart vasdruk. Styf, baie styf. Lank. Tot haar skrik daaroor bedaar. Iets wat sy nie ken nie. Ek hou haar vas soos haar aardse moeder moes, maar as kind haar eerder verwerp het. Dan sal ek vra: “Kan jy voel hoe Jesusliefde uit my hart vloei tot binne in joune?” Gewoonlik is ek verbaas as hul terugantwoord: “Ja, ja – ek kan dit voel!” Net om jou éérs daarna vas te gryp. Dan snak ek na asem en huil en lag saam met hulle. Om te dink so ’n klein bietjie Jesusliefde kan so ’n groot verskil maak. Dit is in staat om ’n nuwe jubeljaar waarin alles weer herstel, aan te kondig. (Levit 25:12) Vernaam wanneer hulle besef dat hulle spesiaal aan Hom behoort. (Joh 17:17)
Nie een van ons is goed nie. Het niks om ander te bied. Maar wanneer goddelike genade en liefde vloei vanuit Sy troonsale tot binne in stukkende harte, dan moet ek en jy erken: God is goed!
Geniet opregte, ware en rein liefde hier op aarde. Dis verniet en gee jou lewe kleur. (Jy gaan dit definitief nie onder die biegkolom vind.)
Trienie Mahne


Kommentaar
Hello Trienie
Jy beskryf jou geloof as volg: "Die opregte ware gelowige het egter ’n verpligting: Saai van liefde. Hulle verkondig nie ’n evangelie van hel en oordeel nie, want dit ontlont net ’n ander hel. Hul evangelie is een van liefde. Want God is liefde."
Daar sal natuurlik ander Christene wees op hierdie werf wat nie met jou saamstem nie. Hulle sal dalk sê dat jy besig is om te "cherry-pick" en ek dink hulle sal reg wees. Jy gebruik immers die soekwoorde "Jesus" en "liefde" sodat 'n masjien jou "cherry-picking" vír jou doen.
Ek het egter nie 'n probleem met jou benadering nie. Daar is nie 'n kat se kans dat ek jou ooit sal oortuig dat God nie bestaan nie, en ek stel ook nie belang daarin nie. As jy jou geloof uitleef as een van liefde, sonder die afskuwelike doktrine van die hel, selfs al vereis dit "cherry-picking", kan ek net sê: Laat waai!
Chris
... had die "opregte ware gelowige", ook net die oortuiging om te verduidelik wat die verskil tussen eenvoudige gelowiges in ons almal se Skepper, en die ware Christengelowiges ...
... punt is; mede sinici van die Kobus de Klerks' en Trienie Mahnes', soos die einste Chris Dippenaar hierbo het dit op hulle geneem om die ware gelowiges van enige verantwoordelikheid omtrent hul selfverheffing te verlos ...
Mag Jesus Christus onse HERE, ons almal vergewe en elke nederige hart in ons Skepper van hierdie selfverhefde ware gelowiges se vieslike nuanses verlos.
Namaste!
Cornelius Henn
Ek is 34 jaar oud en is op soek na ware liefde.