Genadedood aan depressielyers

  • 2

My ouers het nie depressie geken nie. As jongeling hoor ek hierdie vreemde woord by my ma wat in ’n tydskrif daarvan lees. ’n Grieselrige onderwerp. Nooit sou ek kon raai nie dat dit dié siekte van ons tyd sou word of dat ek self ook die bitter emosie van depressie sou smaak.

Vandag debatteer Nederland oor genadedood vir depressie. Volgens Amerika ly10% Amerikaners aan depressie en kos dit werkgewers biljoene rande in produktiwiteit.

Depressie is soos ’n swart kombers wat jou gees en siel smoor. ’n Swaarmoedigheid wat die lyer in ’n donker gat dompel en die dag van more soos ’n nagmerrie laat uitrafel.

Na my pa se dood slaan depressie sy tentakels om my gemoed. My hart raak droefgeestig en suig al my energie op. Gelukkig weerhou vrees my van anti-depressante en slaappille. Want ek het my ma se magtelose stryd aanskou toe geweldige onttrekkingsimptome haar in hul kloue vasgeklem het. Sy het haarself ’n senulyer genoem. Daar het ek die belofte gemaak dat ek nooit ooit op dieselfde wrede manier sou sterf nie.

Depressie is nie ’n siekte van die fisiese nie, maar van die gees. Die gees van die mens word vasgevang in donker wroeging as gevolg van die negatiewe gedagtes wat deur die brein aangevuur word. Medikasie onderdruk net die simptome van hierdie griesel en dit word nooit emosioneel deurgewerk of gekonfronteer nie.

In my depressie-smart keer ek na God vir ’n oplossing. As pastorie-kind was dit al hoop. Vandag juig ek oor die kennis wat dit meegewerk het. My gees moes bevry word van die duisternis en die Woord het my siel se gedagtegange positief begin stimuleer tot lewe en lig. Ek het ’n punt daarvan gemaak om weekliks gedeeltes van die Bybel te bestudeer en te ontleed en ondervind hoe die Hemelse Vader stadig maar seker my karakter en menswees omskep tot die vorm van Sy seun, Jesus Christus. Ek het ook geleer dat my depressie net die vrug was wat groei vanuit die boom van verwerping. Genesing kon eers inskop na vergifnis. Dit was moeilik, want ’n swak persoon kan nie vergewe, slegs ’n sterke.

In Suid-Afrika word depressie nog nie as ’n epidemie verklaar nie (hopelik?). Daar is hulp. Gekwalifiseerde beraders, maatskaplike werkers asook Christenkampe spreek hierdie probleem aan. Negatiewe en vulgêre insette vanaf die media skiet egter na die gemoed van die mens wat hierdie kanker vererger.

In Nederland is die storie hartseer. Pasiënte wie se dokters genadedood weier, kan nou na ’n kliniek gaan wat help om kroniese depressielyers se lewens te beëindig. Vernaam die wat nie meer kans sien vir die stryd nie.

Watse stryd? Die stryd teen die oorheersende duisternis wat jou siel wil steel en jou gemoed wil peper met swartgallige en negatiewe gedagtes.

Moord is nie ’n oplossing. Daar is net een oplossing. Innerlike transformasie. Romeine 12 koester ’n oplossing: “... maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.”

Geluk en vrede is ’n keuse. Wees goed vir jouself!

  • 2

Kommentaar

  • George Bekker

    Trienie, selfs tot in jou heel laaste sin kom jy met 'n hele klomp antwoorde. Een daarvan, wat jy tereg beklemtoon is godsdiens. Ongelukkig is daar ongebalanseerde mense wat juis hiermee verdere probleme skep. 'n Gebalanseerde mens kan egter veel lig uit die Woord kry.

    Ek wil dit waag om nog 'n paar dinge by jou lys te voeg - miskien is daar lesers wat daarby kan baat. Die eerste is om die TV stel weg te gooi of jou kyktyd erg te beperk. As jy 'n groot deel van jou dag nutteloos deurbring is depressie jou voorland. Dit sal verander as jy na klassieke musiek luister of lees (goeie leesstof). In verband met musiek luister spesifiek na barokmusiek. As 'n mens nie lekker voel nie is dit dikwels omdat die hertztelling van jou breingolwe te hoog is. Luister net 'n rukkie na barokmusiek en jy sal reeds beter voel. Dis nie nodig om van hierdie tipe musiek te hou of spesifiek daarna te luister nie. Laat dit net saggies in die agtergrond speel en jou breingolwe word laer en jy voel beter.

    Liggaamlike aktiwiteit is uiters belangrik. Vir my is stap, verkieslik soggens en saans, die ideale vorm van oefening, want dit is die kombinering van inspanning en ontspanning. Die wandeling moet net nie te rustig wees nie, maar jou asem moet ook nie jaag nie. 'n Hond by jou as geselskap mag verder bydra tot 'n aangename uitvlug (Moenie vergeet om met jou diere te praat nie!). Die bonus wat jy hierby kry is sonlig. Sonlig is soms al wat nodig is om depressie te laat verdwyn. Moet ook nie vergeet nie dat sonlig gratis vitamien D aan jou liggaam verskaf, mits jy nie so dom is om allerhande duur gemors op jou vel te smeer nie. (Sonlig is net nadelig as dit te sterk is of jy te lank daaraan blootgestel is of 'n Omega 3 tekort het.) As jy genoeg vitamien D in jou liggaam het verminder jou kans om kanker te ontwikkel met meer as 50%. Die leuen dat alle probleme met pille reggemaak kan word het hier teen 1910 by John D Rockefeller ontstaan en met die opbou van sy farmaseutiese ryk het hy en sy familie hulle miljoene talle kere verdubbel.

    Lees die regte boeke oor depressie. Die enigste een wat ek nou vinnig aan kan dink is een van Izak de Villiers, self 'n depressielyer, waarby baie mense baat gevind het.

    Om ander mense te help en jou aandag van jouself af te kry,  gaan luister byvoorbeeld een keer per week na iemand wat eensaam is (miskien gesels ook, maar die luister is belangrik).

    St John's Wort. Dis 'n homopatiese of kruiemiddel wat talle mense nuttig vind maar daar is heelwat farmaseutiese middels waarmee dit nie gekombineer moet word nie.

    'n Mens durf net nooit tou opgooi nie.

  • Hello George, 

     
    Ek like jou, jy is 'n cool oom, regtig, opreg.  
     
    Min TV = amen (by my geen TV nie - net DVD's van films en reekse wat ek wil kyk, gekies aan die hand van "Sight and Sound", Roger Ebert se versameling van resensies en die jaarlikse top tien van die New York Times, Washington Post, Wall Street Journal en die lys in die Criterion versameling - almal wat in essensie die menslike kondisie ondersoek)
     
    Klassieke musiek = amen, nog meer so met die barok en dan Mozart, Haydn en 'n bederf met 7 van Beethoven se nege simfonieë in een sitting, vanaf die eerste noot, tot en met die laaste refrein van die negende simfonie. Hou nie van nommer 2 en 8 nie. 
     
    Lees = amen
     
    Sonlig = amen
     
    Ek wens ek was meer aktief, probeer darem strek, kan dit nie meer joga noem nie en meditasie laat my nog meer rondspring in my denke, na hoeveel jaar. 
     
    Verskoning vir my barbaarsheid met die taal in die inleiding.
     
    Ja hoe moeilik ook al, moet 'n mens klou vir al wat dit werd is. 
     
    Baie dankie
     
    Wouter
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top