Die voedselketting is darem maar 'n nare ding. Ongeag van waar jy in die ketting is – daar is altyd iemand wat bo jou is en uiteraard, het jy amper altyd iemand onder jou. Sommige geleerdes sal dit die ekonomiese hiërargie noem en ander weer strukture. Vir my is dit eenvoudig vergelykbaar met die natuur se ekosisteem. Êrens voed iets op iets anders. Oral voed iemand op iemand anders. Net meestal, op 'n nie-kannibaal manier.
Dit is hierdie voeding in die menslike ekosisteem wat nie op “National Geographics” gedokumenteer word nie. Dit is die soort korporatiewe weergawes wat in die sepies op die gesinstydrower (TV) en die rolprente uitgebeeld word. Ons outjies wat die paadjies van die lewe bewandel, het verseker die meeste praktyk ervaring en beseringsmerke van hierdie ekosisteem se veldslae.
Toe ek nog 'n jongman in die sake-arena was, het ek die voorreg (soms debatteerbaar, maar ieder geval) gehad om by 'n baie suksesvolle, gevestigde onderneming as die baas se “regterhand” te werk. 'n Man wat bekend was vir sy sukses en geld - snaaks, hoe hy ook toe daarsonder moes vertrek. Hier het ek geleer dat daar waar jy in die voedselketting is, dáár sorg jy net vir jouself. Jy pas die kontantvloeibeginsel tot in die oordrewe trap toe. “Vorder die debiteure so vinnig as moontlik en betaal die krediteure so laat as moontlik.” Wat die beginselsamestellers vergeet het om by te voeg, was: “... en betaal die krediteure wat kleiner as jy is, selfs nog later – net voor hulle pap-oog op jou deurdrumpel kom kamp”.
Hier het ek die gewetenslose takie van tyd tot tyd gekry om diensverskaffers wat reeds op die laaste versoling van hul bande loop, nog verder uit te mergel. En wanneer die moedelose, pennielose diensverskaffer in die onderneming se voorportaal kom sitstaking hou, dan sal daar vanuit die niet 'n tjek ter betaling na vore kom. Net om seker te maak dat die diensverskaffer wel terugkom, sal die tjek ook nie vir die volle verskuldige bedrag wees nie. Nee, daar is “iets” verkeerd op die faktuur. “Neem solank hierdie betaling, ons sorteer dit more uit ...”
Ek was menige middag en elke einde van die maand stom van verwondering oor daardie ingelse waarheid: “He who pays the piper, calls the tune!”
In terugdenking was dit die sooibrand van hierdie ekosisteem en nie net my loopbaan vooruitsigte nie, wat my die baas laat groet het.
In die jare wat sou volg en waar ek 'n tekengemagtigde was in alle betalings, was dit altyd 'n bestuursprioriteit dat sover moontlik, alle krediteure betyds betaal moet word. Die diensverskaffers het nogal van ons gehou. Ons was blykbaar die uitsondering op die reël.
Die skoen is egter by baie aan die ander voet. Jy kan nie krediteure betaal as jou debiteure jou nie betaal nie – die bank finansier hierdie scenario net tot op 'n punt; daarna by die aanskoue van ’n reënwolk neem hulle die sambreel wat hulle so maklik in die sonskyndae gegee het, baie gou weg. Niks het verander nie. Hierdie ekosisteem ken nie evolusie nie. Dit ken nie verandering van omstandighede nie. Dit verander nie van eetgewoontes of oorlewingstaktiek nie. Dit bly 'n gevoellose voedselketting en êrens daarin vreet iemand aan jou en jy vreet weer aan 'n ander. Die wet van die natuur. Moontlik is dit die rede hoekom die “beskaafde” Joseph Stalin, sy sosialistiese Vyfjaarplan so maklik aan die Russiese mense verkoop kon kry. Ook dalk hoekom dit vir Hitler so maklik was om ’n nasie teen ’n ander met soveel haat te laat draai. Moontlik is dit hoekom demokrasie en die vrye mark nie in ekonomies sukkelende lande werk nie - die voedselketting raak so swaar aan die bo-punt, dat daar niks onder oorbly om te vreet nie!
Baie mense raak baie keelvol vir maand-eindes. Dis nie altyd lekker nie. Die ekosisteem is opgefoeter omdat daar sekere spesies in die voedselketting is wat eintlik die balans kon handhaaf, maar verkies het om meer te vreet as wat die sisteem kan bekostig. Soos ’n ou die anderdag vir my skryf: “hiënas is nie almal diere in die natuur nie nie - nee, dis daai goete wat lyk soos honde en lag soos banke.”
Koning leeu is kwansuis bo-aan sy voedselketting, maar selfs hy, 'n dom dier, vreet genoeg om vir die hiëna en die aasvoël en die wurms ook genoeg te los.
Hennie Fritz


Kommentaar
Dankie Hennie,
Dis gaaf om weer 'n bietjie sin op die werf te kon lees.
Ja, hier is slimjanne wat jou selfs tot binne in jou kop kan kyk en jou as 'n konspiritualis sal bespot; sou jy net waag om te meen dat 'n maatskappy eintlik 'n regspersoon sonder 'n gewete is ... hulle meen jy dien die stand en dank die bank ALTYD! ... (veral as die mag daarin nog Ingels boonop ook is).
Sondag gaan jy kerk toe waar jy weer opnuut vanaf die kansel gelaai word om in die sweet van jou aanskyn, Mamon te dien ... en daar die ewige vrees op jou gelaai word sou jy ooit bankrot raak - ja, selfs die Nagmaal sal jou verbied word - daarom, betaal net jou skuld (elke sent) aan die Geldgod van hierdie wêreld - jou gekerm en kla soos musiek in die misantropiese en sardoniese wagters (waar gelowig en vals ongelowig - of is dit andersom?) se ore wat namens die Duiwel, tonnels deur jou kop kan praat (en tik)!
... of wat doen 'n mens anders aan hierdie slegte toedrag van bestaan?
Namaste!
Cornelius Henn
Aardeland - laat mens dink né. Uitstekende foto en geskryf.
Dankie