Dit was weer Erfenisdag en/of sommer Braaidag ook.
Vroeg Dinsdag kry ek 'n onverwagte oproep – my skoolvriend Jan van Schalkwyk van Kanada is in die Kaap en wil vanmiddag kom kuier. Ons maak toe so en saam met ons eggenotes het almal lekker gesels en vir aandete na 'n restaurant gegaan. Ek onthou die see, die berge, die ondergaande son en die aangename atmosfeer. Ons bestel pizzas. In plaas van bees of skaap of vark (aaklige gedagte) eet ons anchovies. Die gewone diereslagting verminder tot 'n paar vissies, wat nie vinnig genoeg kon wegswem nie. (Die enigste nadeel van die sout anchovies is dat ek en my vrou om 3vm met 'n groot dors wakker geword het.) 'n Ou vriendskap van 65 jaar word weer verstewig. Ek spog nie hiermee nie – my oorlede ma hou die rekord in ons familie vir 'n lang vriendskap – sy en haar vriendin, Francis was 90 jaar vriende!
Al het ons nie Braaidag gevier nie, was ons erfenis ter sprake, bv Jan-hulle se 1954 Opel Kapitan en vele ander sake. Cornelius Henn het ook 'n bydrae gelewer – sy brief, https://www.litnet.co.za/Article/brief-lank-sal-hul-lewe (met die onderstebo wêreldkaart) het my op die CIA se spoor gesit, of meer korrek op hulle uitstekende naslaanbron, The World Factbook. Hulle het altyd geld gehad, maar nadat die vliegtuie in die hoë geboue vasgevlieg het, het hulle nog meer geld. Waar die gewone bronne miskien tussen 180 nasies onderskei lys hulle 223 en selfs 233 in 'n sekere tabel. Selfs klein rotsgroepe met 'n vlag op word nie deur hulle oorgeslaan nie!
Na alles was dit destyds nie so erg om laaste in sub A te staan nie, maar om laaste op hierdie volkerelys te wees, of eerste op negatiewe lyste, moet skandalig wees. Met ons Afrika-pessimisme (dis deel van ons erfenis!) kyk ons hoe lyk Suid-Afrika. By HIV/AIDS - deaths is ons los voor in die eerste plek met 310 000 sterftes, terwyl Nigerië, Indië, Tanzania, Kenia, Zimbabwe die volgende vyf plekke beklee. Die VSA is 18de met 17 000 dooies. Ons soek lewensverwagting by geboorte. Chad is slegter as ons en in die laaste plek, maar SA het 'n tweede laaste plek met 'n lewensverwagting van slegs 49.48 jaar. Daar is sowaar 33 lande waar mense ouer as 80 word en vir nommer een is dit amper 90 jaar – dis Monaco se 89.63 jare.
Met die lae syfer vir SA kan 'n mens Jan Rap ook gerusstel oor ons aanwassyfer. By Population growth rate is ons toe weer nie eerste nie, maar sowaar 222ste uit 233. Gevolglik is ons groeikoers negatief. Jan Rap, jy kan gerus wees, solank vigs sy tol eis. (Die lewe bly maar ironies.) Wie is dan die ouens wat so bedrywig in die bed is of by gebrek aan 'n bed, sommer enige plek? Ek noem die eerste ses: Libië, Zimbabwe, Suid-Soedan, Qatar, Uganda en Niger. Dit bring my sommer weer by ons erfenis: die ou mense was reg: werk hou 'n mens uit die kwaad.
By geboortekoers is SA 94ste op die lys teen 'n koers van 19.14 (per 1 000 van die bevolking). Niger, Mali, Uganda, Burkina Faso, Zambia en Somalië is die eerste ses en bewys weereens ons ou mense se wysheid.
In vorige briewe het ek al na ou beeste verwys (in Engels obese) of erg oorgewig. Hier is American Samoa, Nauru, die Cook Eilande, Tokelau, Tonga en Samoa op die voorpunt. Die VSA en SA het hulleself al in die 18de en 24ste plekke ingeëet – nie iets om op trots te wees nie.
Om nou na gesondheid te spring – eerder siekte – waaroor ek voorheen geskryf het. My syfers was verouderd. By gesondheidsuitgawes is die Marshall Eilande eerste op die lys deur 18.10 van hulle bruto nasionale produk aan gesondheid te bestee. Die VSA is tweede met 17.9. SA is 46ste op die lys met 'n 8.90 besteding. As ons nou na lewensverwagting kyk is die VSA 51ste op die lys. Hierdie amper boonste plek by uitgawes klop nie met 51ste by lewensverwagting nie – iewers is 'n groot skroef los. Kom ons vergelyk nog 'n paar eerstewêreld lande. Buurman Kanada is 13de as dit by lewensverwagting kom en 15de by besteding - bestee aansienlik minder aan gesondheid en is nogtans gesonder. Die gunstigste syfers is moontlik die van Japan en Australië. By lewensverwagting is hulle derde en tiende op die lys en by uitgawes onderskeidelik 35ste en 48ste. Duidelik moet lande meer doen as om net baie geld aan gesondheid te bestee as hulle 'n hoë lewensverwagting wil bereik.
Die CIA se boek kan 'n mens lank besig hou, maar dis nou genoeg vir vandag. Hoop almal se vakansiedag was aangenaam. Gegroet.
George


Kommentaar
Beste George, ... my onderstebo wêreldkaartkaart?... watwou! ... groete hier BO en in die MIDDEL van onse Aarde, Cornelius Henn
Genugtig George, jy sal die oorsaak wees dat ek nie weer 'n rustige nagrus in my lewe sal beleef nie. Ek is dan al verby my "sell by date" van lewensverwagting. Dit is nogal insiggewend om die statistieke te lees. Die CIA is nogal bedrywig om sulke informasie in te samel. Daar is ander mense wat ook daarmee bedrywig is. Die NRO (nie-regeringsorganisasie) bemoei hulle ook met die insameling van sulke info. Die Katolieke Kerk se informasieinsameling is ook redelik akuraat. Ek weet nie wat die mense daarmee wil maak nie, dit is volgens my van akademiese belang en nie veel word juis daaromtrent gedoen nie. Ons vaar in die algemeen nie te sleg nie. Daar is egter gebeure in die land wat ons in 'n swKmlig plaas. Ons kan onsself nie met eerstewêreldse standaarde vergelyk nie, alhoewel baie wil. Net die tyd sal weet of die statistieke reg was.
Hallo George,
Wat bo is in die Noordelike-Halfrond is onder in die Suidelike-Halfrond. Daar is nie fout met Cornelius se kaart nie. In Australië word die wêreldkaart in skoolatlasse met Antaktika bo gedruk en aan die onderkant oor Europa word pertinent gedruk "Down Under". Die persepsie dat die Suidpool onder is, is maar net Europese arogansie.
Groete
Panda
Beste Cornelius, Reusedwerg en Panda, goed om van julle te verneem. My kommentaar oor die onderstebo kaart was tong in die kies. Anderster kaarte kan help om ons weer uit 'n nuwe hoek na sake te laat kyk. My beswaar daarteen is dat die gewone kaart eintlik beter is - jy weet noord is bo en oos is regs, ens en jy interpreteer alles daarop, makliker.
Wil nou so effens spog. Die tafste eksamen wat ek afgelê het was Geografie III, lank gelede by Unisa, want ek kan nie teken nie en dit het oa 'n 4 uur lange praktiese eksamen behels. Daardie dag moes ek berekenings maak en met 'n linkerhand teken, soos nog nooit tevore nie. Dit was nog die dae toe die student by die standaarde moes aanpas en nie andersom nie.
Reusedwerg, volgens bogenoemde storie haal ons nie eers 50 nie. Dis die donkeres onder ons se skuld, wat deur 'n sekere siekte afgemaai word. Mag jy vanaand goed slaap. Klop jouself net op die skouer en sê vir jouself: "Ek is nie 'n gemiddelde Suid-Afrikaner nie!"
Goeie wense. George