Jammer Perdebytjie, iewers het jy gevra omtrent drome. Skoon vergeet.
Ek gaan nie hier ingaan op geestesdrome nie (behalwe as iemand my daartoe vra) en kan ek en jy net lekker kuier om die wetenskaplike en praktiese feite van die droomwêreld.
Om aandag te gee aan jou drome is soos om op ‘n asemrowende geheimsinnige reis te gaan. Sommige drome mag seëninge van die nag genoem word en ander die perversie van die dag. Hoe dit ook al sy, ons moet wakker word vir ons eie droomondervindinge. Dit kan ook genoem word die duistere taal van die nag en wonder ons soms hoekom ons drome nie vlerke kry nie.
Grappies egter op ‘n stokkie. Is drome belangrik, kan ek my eie drome uitlê, waaroor droom ons, waarom kry ek nagmerries en wat sê die wetenskap?
Om jou droomfondasie te lê is dit belangrik om jou eie droomtaal aan te leer. Glo my, dit kom nie oornag nie en is dit werklik soos wanneer jy ‘n nuwe taal aanleer. Simbole en prente is die taal van drome. Die bybel self bestaan uit meer as 60% simbooltaal. Dus was dit vir my baie belangrik om simbole en hul uitleg onder die knie te kry.
Elkeen se droomtaal verskil van mekaar, alhoewel daar basiese simbole is wat altyd dieselfde betekenis sal dra. Indien jy droom dat jy besig is om in modderwater te verdrink, en ek droom dieselfde, mag dit vir ons albei daarop wys dat ons in ‘n sielestryd tans is.
Een derde van ons lewe slaap ons om. Logies om te sê dat dit ‘n ideale tyd is om met ons innerlike-self in aanraking te kom. Ekself het eintlik begin droom nadat ek opdrag ontvang het daartoe in Job 33:14. Vir nou is dit nie belangrik nie.
Die droom was altyd daar: opsweef tot bo teen die dak en afkyk na my eie familie onder. Dit was opligtend en verfrissend. Inteendeel, omrede die droom homself oor en oor herhaal het, het slapenstyd ‘n tyd van ontsnapping geword.
Om hoog te vlieg bo omstandighede is ‘n simboliese droom wat die behoefte na die oprys vanuit moeilike omstandighede uitspel. Sommige is drome wat ons as kinders gedroom het, en tot vandag toe nog kan onthou, so duidelik was dit.
‘n Studie gedoen deur die National Sleep foundation in 2001 toon dat tussen 30% - 48% mense het nie ‘n gesonde slaappatroon nie, en dat dit sy tol eis op die gesondheid en emosies van kinders sowel as volwassenes. Baie nadelig vir die geheue is asook die emosies.
Daar is nie werklik ‘n verskil tussen drome (chalam) en visioene (chazah) nie. Behalwe dat die droom in die nag kom en die visioen wanneer wakker. Ek moet egter noem dat almal nie die amp dra van die Dromer (soos Josef in die bybel) nie. Ekself is nie ‘n Dromer of Siener nie. Om miskien iemand hier te identifiseer wat naaste moontlik een is, is Raed-na-Gael. Ek glo egter nie dat hyself dit weet nie, aangesien sy kerk dit nie erken as ‘n bediening nie.
Natuurlike drome is die taal van die onderbewuste. Maar soms ervaar ons ‘n helder duidelike droom, wat oor en oor herhaal. Hierdie drome is belangrik, wil duidelik iets vir ons sê. Alle drome, of dit nou vanuit die natuurlike of geestelike is, kom vanuit die gees van die mens. Is eintlik ‘n brief van die self aan die self. Drome kom vanuit 3 bronne: natuurlike, spirituele of duisternis. Nodeloos om te noem dat dit belangrik is om die Bron te onderskei.
Ons drome bevat ‘n potensiaal wat nie onderskat moet word nie. Drome kyk binne in ons, wil ons iets vertel, waarsku of ‘n antwoord gee. Daar is egter nie baie wat die gawe van droom interpretasie be-oefen nie. Ek sal ook nie enigiemand daarmee vertrou nie. Ons kan egter ons eie drome uitlê deur ‘n paar praktiese dinge in oog te hou:
Wanneer ek oor persone droom, droom ek gewoonlik omtrent hul karakter of ‘doen en late’ wat eerder op myself betrekking het, en is dit nie te sê dat die droom vir daardie persoon bedoel is. Versigtig dus. Kleredrag spreek vir my redelik omtrent eie emosies en die ontbloting van self.
So jammer Perdebytjie, ons tyd (woordspan) is op en teekoppies al koud. Eintlik het ons nog nie eens begin gesels oor die onderwerp nie.
Lekker droom ...
Trienie


Kommentaar
Beste Trienie