Hallo Cornelius et al
Jou advies om meer te weet oor Edmund Burke word ter harte geneem, weereens is ek uit my liga uit wat ook hierdie onderwerp betref en is dit sigbaar vir jou en ander lesers dat ek dommer en dommer word en is dit duidelik hoekom "Dumb & Dumber" die rolprent is waarmee ek die meeste aanklank vind. Wat ek wel weet is dat Edmund Burke 'n reus in die geskiedenis van politieke denke is en die moeite werd is om sy denke en die gevolge daarvan te ondersoek.
Dit is goed dat jy bevestig het dat Edmund Burke se konserwatisme impliseer juis, "versigtig vorentoe - maar beweeg vorentoe". Die karikatuur van Edmund Burke en konserwatisme is dat dit 'n blok is teen beweging vorentoe en as die beskermers van bestaande voorregte funksioneer. 'n Meer subtiele ontleding van Burke maak die volgende moontlik, naamlik dat hierdie "vorentoe beweging" word die beste aangedryf deur middel van gelydelike verandering in die gebruike en ander tradisies van die samelewing en nie deur 'n eksplisiete politieke aksie nie, wat die bestaande orde omver werp. Konserwatiewe denkers lojaal aan Burke is nie vyandig teenoor verandering nie, maar wel teen die leerstellinge en beginsels wat met "geweld" daardie bestaande orde omver werp en die deur oopmaak na despotiese regeringsvorme en chaos. Soos bekend is hierdie versigtigheid formuleer in die konteks van die Franse Rewolusie en Burke se kritiek daarteen in teenstand tot Thomas Paine. Daarom dan die verwysing in my kommentaar na Thomas Paine, aangesien dit in sekere aspekte gesien kan word as 'n teenopstelling tussen Burke en Paine en die erfenis wat dit veroorsaak het van Regs versus Links. Die twee pole wat voortduur vanaf die Franse Revolusie.
In die lig van bogenoemde word jou voorkeur van evolusie versus rewolusie dus duidelik.
Met dit dan as agtergrond kan die vraag weer gevra word. Indien die verloop van omstandighede was soos jou wens daarna uitsien, sou jy uiteindelik arriveer het in wat vandag as 'n demokratiese bestel beskryf word, waar die onderdrukking van die oorgrote meerderheid van die bevolking laat vaar is en 'n enkele gemeenskaplike samelewing met burgerskap en regte vir almal daar gestel is.
Indien jou roete gevolg sou word, hoeveel jaar sou dit geneem het?
Burke soos alreeds aangedui funksioneer in die konteks van die Franse Rewolusie en dan beteken dit Burke se teenstand teen die Franse Rewolusie moet gemeet word teen die suksesse van die Franse Rewolusie.
Wat het die Franse Rewolusie verander?
Dit het die idee van 'n nasie wat gewapen is na vore gebring en nasionalisme in sy moderne vorm. Sosiaal is belangrike verandering teweeg gebring. Die afskaffing van die adelstand se voorregte, verpligte arbeid deur die gepeupel is afgeskaf, het die weg oopgemaak vir die uiteindelike afskaffing van slawerny en eienaarskap is meer eweredig versprei. Die lot van die gepeupel was, "short nasty and brutish". Thomas Hobbes indien nog 'n denker moet ondersoek word.
Wat was die mislukkings van die Franse Rewolusie?
Dit het misluk met die ontwikkeling van nuttige politieke innovasies en instellings en het nie 'n duidelike rigting aangedui ten opsigte van die regte politieke instellings wat die samelewing benodig het nie. Die Rewolusie het dus misluk om die drome van die rewolusie te implementeer en het 'n voorspelbare patroon gevolg van uiteindelike militêre diktatorskap.
Kan die patroon gesien word in die Arabiese opstand van 2011 en die toestand in Egipte huidiglik?
Cornelius Henn moet dus in die lig van die Franse Rewolusie en Edmund Burke se kritiek teen die rewolusie gelees word en die vrese wat daar bestaan teen enige radikale omwenteling. Want kyk hoe sleg het dit uitgedraai. Inderdaad so, maar dan moet die kontradiksies van Napoleon wat dit gered het as 'n burger wat keiser geword het ook ondersoek word en die pad wat Frankryk uiteindelik na demokrasie gevolg het en die sukses van die rewolusie in die Britse kolonies in ongeveer dieselfde tydperk.
Bogenoemde is een aspek van Edmund Burke se denke en ingeligte lesers is welkom om korreksies daarop te maak.
Nog 'n aspek van Edmund Burke se denke is die volgende: Burke se houding teenoor die Britse kolonies en die rol van partye in die parlement. Wat die Britse kolonies betref kan daar gefokus word op sy "Speech on Conciliation with America". Burke pleit vir 'n versoenende houding teenoor die kolonies gegrond op geregtigheid en politieke bedagsaamheid.
Hoe sou, Verwoerd, Treurnicht et al met hierdie aspek van Burke omgegaan het?
Alhoewel Burke nie die onafhanklikheid van die kolonies voorgestaan het nie, was it vir Burke duidelik dat indien die twee partye by hul rigiede standpunte sou hou, oorlog en afskeiding onafwendbaar is.
Weereens 'n les vir Verwoerd, Vorster, Botha en Treurnicht wat nie geleer was deur die here nie, maar waar 'n Van Zyl Slabbert en 'n FW De Klerk dit wel kon sien. Aangesien hierdie maar nog steeds 'n gesprek oor die verlede se afspeel in die hede maar met 'n groter historiese konteks met die aanhak van Burke en dan implisiet daarmee Thomas Paine en die rigting wat liberale denke ontwikkel het.
Net so het Burke gedagtes formuleer oor die werking van partye en die parlement en die inperking van die monarg se invloed.
In daardie lig kan Burke gesien word as 'n held volgens die Victoriaanse bestaansblik wat sy medeburgers laat saamstaan het teen die euwels van rewolusie in die tyd van die Franse Rewolusie, die grondwet van Brittanje en die kolonies gered het en dat Edmund Burke se kampanje teen die politieke korrupsie die weg gebaan het vir grondwetlike monargie van die middel negentiende eeu en veral sy rol in die argumente vir die vestiging van partye in die politieke bestel.
Uit bogenoemde is dit duidelik dat Edmund Burke se denke en die gevolge daarvan vol nuanse is, soos sekerlik enige onderwerp en is dit weereens op beperkte skaal aangespreek. Kritiek teen Burke is nie werklik ondersoek in hierdie kommentaar nie.
Soos alreeds aangedui in hierdie kommentaar word die vrese wat jy formuleer dus verstaanbaar, wanneer jy skryf, "Ons land is holderstebolder aan 'n kommunistiese bestel vir die mense en 'n kapitalisties/imperialistiese vergryp vir Anglo en Amerika oorgegee. Dis die gronde waarop Julius Malema nog baie gaan wen".
Die geweld gepleeg teenoor die bestaande orde en die mislukking van demokrasie, is die vrees wat in bogenoemde frase na vore kom. Sekere deelnemers hier sal nie talm om die stelling te maak dat hierdie is nie 'n demokrasie nie. Dit kan ignoreer word, aangesien dit sinspeel op die idees van 'n verstokte ideologie van die 1955's. Wat meer waardevol is, is om die aard en stand van demokrasie te ondersoek. Ons het nou twee weke terug gestem en die opwinding daarvan was aansteeklik en ons verteenwoordigers is ingehuldig, maar nou word ons weer na die kantlyn geskuif, maar die vereistes wat die burgers aan demokrasie stel word meer en meer, die regering moet meer doen en moet dit bevoeg doen en het die bestuur van 'n land 'n hoog tegniese aangeleentheid geword en dan is daar die ongeduldige populistiese partye wat onderneem om die korreksie van ekonomiese ongelykheid en politieke onregverdigheid met groter spoed reg te stel.
Wat is die toekoms dan van demokrasie en wat sou die alternatief wees?
Baie dankie


Kommentaar
Beste Wouter,
Dankie vir jou besonderse oorsig omtrent Edmund Burke hierbo.
Jou beperking van Edmund Burke se beginsels tot die Franse Revolusie, bewys die pad wat jy nog in hierdie kennis nodig het om te loop.
Jy vra: Indien jou roete gevolg sou word, hoeveel jaar sou dit geneem het?
Wouter, hiermee ag ek jy bedoel my konserwatiewe roete op weg na ons piesang demokrasie vandag ...
Wel Wouter, die stand van kommunistiese demokrasie vandag in Mzansi sou NOOIT gebeur het as die wysheid van Edmund Burke algemene kennis was nie!
Jy probeer ook steeds jou bes om Dr van Zyl Slabbert uit die konserwatisme van 'n Edmund Burke te keer.
Glo my, Dr van Zyl Slabbert, Prins Buthelezi en sy edele Dr Treurnicht, het baie meer in gemeen in die konserwatisme as wat jy dit wil hê. Ek stel voor jy ondersoek die saak 'n bietjie dieper totdat jy dalk selfs 'n Koos van der Merwe iewers in die prentjie vind.
Wouter, ek wil jou nie verveel met te veel akademie omtrent Edmund Burke nie, maar deel graag die volgende enkele sleutels tot sy denke met jou:
Edmund Burke wou met sy gedagte aan herinnering nie na ’n pre-rewolusionêre toestand terugkeer nie. Hy wou anderkant die oormatige beheptheid met die Rewolusie tree.
Net so wil nie ek of geen ander konserwatiewe na apartheid (die herinnering) terugkeer nie, maar eerder anderkant die eksesse van vandag se "demokrasie" tree.
Edmund Burke se nadenke oor die Franse Rewolusie word onderlê deur twee beginsels eie aan die politiek van herinnering, naamlik "conservation" en "correction".
Die fout volgens Burke wat die Franse rewolusionêre begaan het, was om nie hulle regstelling met die soeke na vorme van kontinuïteit te verbind nie.
Teen die agtergrond hiervan is dit ? wesenlike vraag: Hoe antwoord Afrikaners hierop? Antwoord hulle soos bogenoemde voorbeelde met ’n politiek van "herinnering"? Soek hulle ter wille van ’n ander toekoms opnuut aanknopingspunte by hul erfenis?
Nee!
Vandag se Nuwe/Neo-Afrikaners is uit hul Boere- en Voortrekkererfenis gebreinspoel wyl hulle blind in sogenaamde regstelling selfs agter hul vyande aanstrompel.
In plaas daarvan dat die tradisie as ? positiewe bron van verwysing ervaar word, word eerder daarvan afskeid geneem. Alhoewel verskeie redes vir dié "afskeid en vertrek" genoem kan word (onbeperkte modernisering; ervarings van skuld oor apartheid en wrokkigheid jeens die verlede), kan dit wel tot ’n enkele punt terug herlei word - dit hou verband met die problematiese aard van die tradisie in die oë van Neo-Afrikaners.
Neo-Afrikaners oor ? wye spektrum ervaar hul tradisie en erfenis as ’n afgrond. Nog sterker geformuleer, Neo-Afrikaners ervaar hul erfenis as ’n ontologiese leegte.
Bogenoemde standpunte omtrent die Neo-Afrikaners is gering gelees aan die res van die wysheid van Edmund Burke.
Dis met hartseer wat ek op Edmund Burke se insig voortborduur:
Verlies aan ’n tradisie gee aanleiding tot ’n verstikkende gevolg. Weens verlies aan ? groter verhaal word die huidige tydperk as ? selfgenoegsame tydperk ervaar.
Dit word juis geïllustreer deur die wyse waarop Afrikaners oor die huidige grondwetlike bedeling praat. Gesprekke daaroor geskied sonder uitsondering vanuit die veronderstellings ten grondslag van die huidige grondwetlike bedeling self. As selfgenoegsame werklikheid staan die Grondwet glo bo elke tradisie verhef. As dit aan enigiets gemeet word, is dit slegs aan homself.
Gesprekke oor die grondwetlike bedeling in ons piesang demokrasie handel daarom ook nie oor dinge soos die historiese en politieke gebreke eie daaraan nie, maar slegs oor die vraag of "my" interpretasie ’n korrekte weergawe daarvan is.
Indien daar ’n lewende politieke tradisie was waarop Afrikaners hulself vandag kon beroep het (soos hulle Boere, Republikeinse en Voortrekkererfenis ), kon hulle uit die greep van die sirkel getree en die onrealisties verwagtinge wat hulle daaraan stel, getemper het.
By grasie die gebrek aan ’n lewende politieke tradisie sal hulle egter in hul gebreinspoelde sirkel denke ontkom.
Wouter, om konserwatief te wees, beteken eerder om jouself anderkant die selfvernietigende uiterstes van links en regs te bevind.
Konserwatiewes, verander nie deur die bestaande sosiale en politieke werklikhede met abstrakte bloudrukke storm te loop nie. Laasgenoemde is die tipiese werkswyse van diegene wat deur ’n verlies aan werklikheid gekenmerk word en wie as gevolg daarvan poog om die verwikkelde aard van die politieke werklikheid binne die dwangbuis van sodanige bloudrukke – Burke noem dit "metafisiese spooksels" – te boender.
Met bogenoemde gedagte in ag, nooi ek jou om die volgende skakel versigtig deur te lees om antwoorde op jou kwessie van Dr Van Zyl Slabbert, Dr Treurnicht en Prins Buthelezi om 'n tafel te sien:
http://www.politicsweb.co.za/politicsweb/view/politicsweb/en/page71619?oid=363213&sn=Marketingweb+detail
Om die gevolge van FW de Klerk se rewolusionêre verandering van "bo na onder" te besef, lees die volgende skakel noukeurig:
http://politicsweb.co.za/politicsweb/view/politicsweb/en/page71619?oid=612459&sn=Detail&pid=71619
Ek verwys ook ook gereeld na Edmund Burke in my standpunt. Lees gerus hierdie skakel:
https://www.litnet.co.za/Article/brief-die-dag-is-pragtig-quotoraniaquot-aant-breek
Wouter, ek kan volumes vol tik oor die onderwerp.
Ek hoop hierdie dien as kompliment op jou weg om konserwatief (met 'n klein k) te leer en dat bogenoemde skakels wel 'n aanduiding in antwoord op jou laaste vraag is.
Konserwatiewe groete,
Cornelius Henn
Hello Cornelius,