Die bybelse opdragte oor die uitleef van ons geloof is vol oënskynlike teenstrydighede. Jy moet jou lewe aflê om dit te kan behou. Die wat laaste is, sal eerste wees. As jy groot voor God wil wees, moet jy soos ‘n kind word. As jy swaarkry, moet jy bly wees daaroor.
Hierdie denkrigtings kom onsinnig voor, want dit klop nie met wêreldse standaarde wat materialisme, intellektualisme en selfgesentreerdheid aanhang nie.
Om jouself te verbind tot getrouheid kom egter nie vanself nie; dit is ‘n aangeleerde dissipline. Vernaam in ons gejaagde lewe waar tyd die grootste teëwerker is.
Ons almal het dieselfde uurspan in ‘n dag, tog is daar die uitsonderlinge. Hulle leef ‘n lewe van toevertrouing vanuit ‘n bindbediening waar gevangesetting ‘n wonderbelewenis word.
Dit is dié wat hul tyd en energie aan God se werk toevertrou: wat terwyl ander rustig by die huis voor die TV ontspan, die karsleutels opneem om die sterwende by die hospitaal te besoek; om ‘n vakansienaweek te kanselleer sodat kospakkies by die behoeftesaal opgemaak kan word, om ‘n Dorkas te bestuur waar ou klere gewas en gestryk word, sodat dit aanvaarbaar is aan hulle wat op koue wintersaande nie ‘n wolkombers het om bibberende skouers te vertroos nie; om ure voor die tyd en gedurende die week musiekinstrumente in te stel en te oefen, sodat die lofprysers tydens ‘n erediens God spontaan kan loof en prys.
Die bekende Thomas Aquinas het gesê: “God het nie ons aanbidding nodig nie. Sy heerlikheid is in elk geval onoortreflik. Maar ons het dit nodig, want ons het soveel van Hom ontvang dat óns nie anders kan as om te wil dankie sê nie.”
Dit is dan dat toevertrouing in betrokkenheid ‘n spontane gevangesetting word. Ander se eer bo eie eer gestel word en tyd-vir-die-self nie meer ‘n faktor is.
‘n Uur op ‘n dag is uitkoopbaar. Want dit is juis wanneer ons nie lus is nie - of dalk te swak voel – of selfs twyfel aan God se goedheid, dat ons deurbraak daarin lê: om aan die ander kant van inspannende opoffering op Hom te te bly fokus.
Toesegging word gebore vanuit ‘n bewuswording van God se teenwoordigheid in jou lewe.
Ek sê dankie, dankie, dankie: Aan elke werker in die Hemelse Vader se oesland, elke sendeling, evangelis, musikant, profeet, herder, leraar, apostel of leier, wat sonder vergoeding hier op aarde uitreik na behoeftiges, hongeriges en armes. Dit is die vas wat God verkies. (Jes 58:7)
Want massa-akker-werking laat jou huis toe verlang.
Trienie

