Die VSA se oorloë is goeie besigheid

  • 0

Waarom het die VSA Irak uitgesonder vir 'n oorlogskrygtog op die basis van leuenagtige aantuigings dat Saddam Hussein in besit was van "weapons of mass destruction"? Die Pentagon het reeds jare voor die 11 September 2001 aanval op die World Trade Center in New York planne beraam om ‘n militêre aanval in die Midde-Ooste te loods maar gewag vir ‘n goeie verskoning soos in die geval van Pearl Harbour. Hierdie is ‘n gedokumenteerde feit.

Irak is uitgekies omdat die VSA nie wou hê dat Hussein een derde van die wêreld se bekende oliebronne beheer nie. Die VSA het ook ondersteuning gekry van Saudi Arabia, land van militante Wahhabi- Islam, en ‘n dodelike vyand van die sekulêre staat van Hussein. (Let wel die sameswering tussen die VSA en radikale-Islam om’n sekulêre staat op sy knieë te bring). En ironies genoeg was daar geen Irakese betrokke by die 11 September aanval nie waar die meerderheid van pilote Saudi burgers was.

Na die aanval op Irak met die gepaardgaande vernietiging is enorme projekte vir die sg. herbou van die land, sonder enige tender, uitgedeel aan private Amerikaanse firmas soos Blackwater, CACI, Halliburton, TITAN en KBR. (Tony Blair was hoogs onthuts dat Britse firmas nie hulle deeltjie kon kry van "the spoils of war" nie) .CACI, n privaat firma, het ook oa. gehelp met die verhoor en marteling van onskuldige Irakese siviele in die Abu Graib Gevangenis, en hierdie private verhoorders was nie onderhewig aan enige militêre of ander kontrole nie. Hulle kon martel en vermoor en n haan sou nooit daaroor kraai nie.

Maar raai bietjie wie was die voormalige CEO van Halliburton voordat hy visie-president onder George W Bush geword het? Hierdie firma het kontrakte gekry ten waarde van eenmiljard Dollars: niemand anders as Dick Cheyney nie, een van die hoof argitekte van die oorlog saam met Paul Wolfowitz. Fantasties! Raai wat het gebeur met die aandele van hierdie korporasies wat geprofiteer het van die oorlog op die New York se aandelebeurs?

Dus, so lyk die prentjie nou vir my: Die VSA soek ‘n geskikte plek op die aardbol waar daar olie of ander nodige bronne gevind word wat hulle wil beheer vir hulle eie geopolitieke doeleiendes, fabriseer n rede om dergelike land aan te val (gewoonlik om vryheid en demokrasie aan hierdie land se arme onderdrukte mense te bring), val hulle aan, vernietig die land se infrastruktuur, en dan deel hulle kontrakte uit aan private korporasies in die VSA om daardie land weer op te bou teen ‘n geweldige onkoste vir die belastingbetaler. Die geld kom van die federale regering af en is belastinggeld wat na private firmas toe stroom. Die hele opset maak ‘n grap van die sg Amerikaanse heilige koei, by name, "kapitalisme".

Die eindresultaat van die VSA se toetrede in Irak is die totale vernietiging van waterwese, elektrisiteit, telekommunikasies, edm. Ook ‘n vlugtelingsprobleem van 2 miljoen mense wat in tente woon in buurlande.

Nou ja, as hierdie strategie dan nie boos (fokken evil) is nie, dan is dit beslis geniaal. Elkeen kan volgens sy persoonlike morele opvattings besluit wat van die twee dit is.

Noam Chomsky beweer dat die VSA vandag die grootse terroriste staat in die wêreld is. Hy kan ook daarby voeg dat die land se grootste eksportproduk boosheid is.

Pieter Redelinghuys

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top