Suid-Afrika toon ‘n negatiewe groeikoers, direk as gevolg van die stakings in die mynwese.
Vir vier maande nou duur die staking in Marikana voort. Mynwerkers ly honger weens geen inkomste nie. Die ironie is dat die “Gift of the Givers” mense wat in werklikheid ‘n betrekking het, met kos en aalmoes uithelp, terwyl duisende wat werklik nie werk het nie, nie dieselfde voordeel van hierdie organisasie ontvang nie.
Hierdie staking raak nou nie net die mynbase en mynwerkers nie, dit raak die ekonomie in sy geheel. Vir groei, moet daar ‘n koopkrag vloei van geld wees. Plaaslike besighede ly daaronder en Rustenburg besighede staar bankrotskap in die gesig. Die staat is van belastinginkomste ontneem, wat enige stimulasie van die ekonomie, veral werkskepping, in sy geheel kniehalter. Die Rand se buitelandse valuta word ook daardeur geraak wat invoere en uitvoere direk raak.
Die regering het basies teruggesit, want die verkiesing was op hande uit vrees vir die verlies aan stemme onder die vakbondlede. Nou kan die regering, in werklikheid ten behoewe van landsbelang, daadwerklik ingryp, selfs drasties optree om die stakings te beëindig, want die volgende verkiesing is vyf jaar in die toekoms.
Die regering is lief om boetes op te lê waar daar nie aan hulle beleidsbepalings voldoen word nie. Ek maak die volgende wysigings tot wetgewing voorstellings:
1. Dat ‘n spertyd, sê ‘n maand maksimum, vir die betrokke partye gegee word om tot ‘n vergelyk te kom, indien nie, dat die staat swaar boetes op beide die vakunie en die werkgewer oplê wat hulle sal dwing om tot ‘n vinnige ooreenkoms te kom.
2. Dat na ‘n tweede spertyd in die arbeidsmark oopgestel word vir ander wat werk soek, en bereid is om te werk vir die loonbesoldiging wat die vakunie verwerp het.


Kommentaar
Jaco, dit is seker al weer 'n paar maande gelede dat 'n Afrikaanssprekende Rooms Katolieke priester met 'n praktiese oplossing vorendag gekom het. Aanvanklik word die gewone stakingsprosedures gevolg. As daar na 'n spesifieke tyd nie 'n oplossing is nie word die geskil aan 'n hof voorgelê. Die regter besluit oor die nuwe vergoeding vir die stakers, ens en alle partye is verplig om daarna weer te gaan werk. Gevolglik word uitgerekte stakings verhoed en op realistiese werksvoorwaardes ooreen gekom.
George
Dit kan ook werk. Enigiets om die bedryf weer aan die gang te kry is prysenswaardig
Jaco,
het jy jou twee voorstelle aan die betrokke ministers voorgelê of net hier op SêNet geplaas? Lg maak dit maar net nog kêkkel-kêkkel-praat-praat-sanik-sanik.
Wanneer ek lees van die aartsgemors in SA bevestig dit net dat my besluit om te emigreer wys was. Ek slaap rustig hier, niemand bedreig, besteel of belieg my nie. As een sou probeer, hier is 'n regstelsel wat werk.
Wees gegroet
Duitswester
Duitswester
Hierdie is 'n kletsforum. Voorstelle deur my hier gemaak is om kommentaar te lok vir verdere bespreking. Weens geen kommentaar, behalwe joune en George s'n, is dit omrede die onderwerp nie genoegsame belangstelling geprikkel het nie, wat vir my ook OK is.
Mbt jou stelling: "Wanneer ek lees van die aartsgemors in SA bevestig dit net dat my besluit om te emigreer wys was. Ek slaap rustig hier, niemand bedreig, besteel of belieg my nie. As een sou probeer, hier is 'n regstelsel wat werk".
Sê jy daardeur: Wê! Ek het die regte besluit gemaak, en julle wat agterbly is 'n klomp poepolle, want anders kan ek nie verstaan hoekom jy op hierdie forum klets wanneer jy nie meer belangstelling in die doen en late van hierdie land het nie, en nie liewer in 'n plaaslike forum klets nie.
Ek en omtrent almal wat in hierdie land aanbly, is heel gelukkig hier. Gemiddeld geniet ons steeds 'n hoër lewensstandaard as diegene wat na ander lande uitgewyk het. Ek weet, want ek reis gereeld in die buiteland om vergelykings te kan tref.
Dit was, is, en sal altyd deel van die Afrikanerwese wees om te kerm en te kla, maak nie saak hoe goed of sleg dit met hom gaan nie, en tans gaan dit eintlik te goed met hom. Die geld rol; die 4X4's van R300000 en meer, volop op straat sigbaar; wonings van oor die R1mil; tiener-varsity-studente met eie motors; jonges met duur trapfietse en motorfiets skooltoe; entrepreneurs; ens. Ek weet, dat waar jy ookal in die buiteland is, vir 'n vergelykende werksnering, jy swakker sal toon as jou Suid Afrikaner eweknie se lewensstandaard.