Die Uniekheid van die "Afrikanernasie": vir Jan Rap en Commestor

  • 8

Beste Rap en Comestor,

Die "Afrikanernasie" is darem uniek onder die volke van die wêreld! Waar sal jy ’n ander nasie op die aardbol kry waar jy dergelike uitdrukkings vir hulle medeburgers in hulle lexicon sal vind as: "verloopte Afrikaners", "joiners", "bittereindes", "verraaiers", "draadsitters", "draadtrekkers", "nie-ware Afrikaners", "super-Afrikaners", "gat-swaaiers", en dies meer. Bestaan daar nog terme waarvan ek onbewus is en wat julle kan opdis?

Behoort Rap en Commestor deesdae aan die kategorie van die "patetiese agterblywendes" weens julle gevorderde ouderdom en die onvermoë om te hernu?

Dit verbaas my glad nie ( as ek nog reg onthou) dat Comestor se seun by die ANC aangesluit het. Dit vertel alles.

Beste groete,

Pieter Redelinghuys

  • 8

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    My van word twee keer verkeerd gespel en ek het nog nooit 'n seun gehad nie. Geen van my nabye familie is lid van die ANC of steun daardie party nie. Ek wag op Redelinghuys se verskoning.

  • CorneliusHenn

    Beste Pieter,

    Met respek; daar is ook Neo-Afrikaners en Boere-Afrikaners vandag in Mzansi.

    Die Neo-Afrikaners ken 1994 as hul jaar nul en dra swaar aan hul apartheidskuld.

    Neo-Afrikaners is die sportmalles wat destyds alles geglo het wat die Nasionale Party aan hulle opgedis het.

    Boere-Afrikaners is diegene wat met trots hul Voortrekkererfenis uitdra, Paul Kruger as hul eerste algemene leier ken, hul vryheid hoog ag, ander se harte respekteer en met alle nasies en volke op die aarde gesonde verhoudinge behalwe die Britte het.

    My omskrywinge van Neo-Afrikaners en Boere-Afrikaners is kort wyl daar boeke vol oor hierdie twee Afrikanergroepe geskrywe en gedig staan.

    Katolieke Boere-Afrikanergroete,

    Cornelius Henn

  • Cornelius

    Loop ons Baron van Rheede Str in Oudtshoorn af gedurende die KKNK feestelike geleenthede, jy, ek, Max du Preez, Dan Roodt, Pierre de Vos, ens loop in dieselfde straat af, vind jy nie Neo-Afrikaners, Gekkegrensers, Boere-Afrikaners, Hill Billy Afrikaners nie, maar net pleinweg - Afrikaners, almal lief vir ons taal en kultuur.

    Ons moet dit in werklikheid 'n seëning beskou dat die Afrikaner geen politieke of godsdienstige mag meer het nie, want dit is juis die politiek en godsdienstige getwis onderling wat altyd die Afrikaner verdeeld gehou het.  Taal en Kultuur is die bindende faktor onderling.

  • Pieter Redelinghuys

    Beste Johannes,

     

    Dankie vir jou brief, en hiermee vra ek om verskoning vir enige mistasting aan my kant. As jy wel 'n seun gehad het wat by die ANC aangesluit het , haal ek dalk nog my hoed vir hom af. Ek het dit as geen belediging bedoel nie. Self HF Verwoerd se kleinseun het by die ANC aangesluit. Ek sou graag sy motiewe wil weet:  of om vrede te maak met die verlede, boete te doen vir wat sy Pa vermag het, uit ideologiese redes, of bloot uit eie gewin. Wie weet?

     

    Hiermee hoop ek dat my verskoning vir jou aanvaarbaar sal wees.

     

    Beste groete,

     

    Pieter Redelinghuys

  • Pieter Redelinghuys

    Beste Cornelius,

     

    Dankie vir jou interessante bydrae tot hierdie gesprek. Nou moet ek erken dat dit die eerste maal is wat ek van Neo-Afrikaners en Boere-Afrikaners hoor. Jy sê ook dat daar boeke oor hierdie twee Afrikanergroepe geskryf is. Kan jy dalk voorbeede gee? Ek sal heel geïnteresseerd wees om te hoor.

     

    Groete,

     

    Pieter Redelinghuys

  • CorneliusHenn

    Beste Pieter,

    Dis mos hoekom ons hier lees; daar is altyd iets nuut om te leer!

    Ja, ek is glad nie verbaas dat jy nog nie van hierdie twee groepe Afrikaners gehoor het nie.

    Ongelukkig is ek baie ver van die huis en is my Internet te primitief om jou vraag breedvoerig te antwoord.

    Dit sou in ieder geval seker al die limiete ver oorskry aangesien daar werklik baie te lees is oor hierdie totaal verskillende groepe in ons kultuur.

    Maar, uit my eie gedagte beveel ek Gustav Preller se reeks oor die Voortrekkermense as 'n baie goeie begin aan. Dis ongelukkig nie meer op ons staatsbiblioteke se rakke beskikbaar nie (om kommunistiese verstaanbare redes).

    Chris Brink is ook geen vreemdeling nie. Lees gerus enige van sy boeke om 'n bietjie meer agtergrond oor die Afrikaner in sy onderskeie groepe te kry.  

    Sodra jy 'n basiese gevoel uit hierdie boeke ontwikkel en waarvoor om te kyk, sal jy ook maklik die verskil tussen my en andere soos Jaco Fourie, Wouter Ferns en Dirk Rigter kan agterkom.  

    Uiteindelik sal jy self 'n lang lys skrywers by hierdie onderwerp kan voeg!  

    Boeregroete,  

    Cornelius Henn

  • CorneliusHenn

    Pieter, ook net so ter nagedagte; Neo-Afrikaners val linksom en regsom in die politiek. Hulle agenda is sterk nasionalisme op die taal gegrond - en soms fundamenteel op die suiwerheid daarvan gefokus. Boere-Afrikaners daarenteen, is meer op die kulturele as die taal gefokus en daarom  is "Boer" (met 'n hoofletter B) daarin die eintlike brandpunt. Neo-Afrikaners kan ook nuwe- Afrikaners of as Nasionalistiese Afrikaners gelees word. Jy kan enige swarte in Suid-Afrika voorkeer en hulle sal baie maklik vir jou kan verduidelik wat 'n Boer i. Daarenteen sal Dirk Rigter, Wouter Ferns en Jaco Fourie erg beswaard raak as jy na hulle as Boer of Boere-Afrikaner verwys! Laasgenoemdes se taalvaardigheid skiet net 'n bietjie kort om hulself met respek as Nuwe/Neo-Afrikaners aan te hef!

  • CorneliusHenn

    Jaco,

    Jy raak 'n baie teer punt - dog 'n ewe goeie waarneming.

    Taal, is egter nie die bindende faktor werd in oorlewing nie.

    As Boer, het ek tans veel meer in gemeen met Julius Malema en Robert Mugabe in hul stryd teen die Anglo en Amerikaanse imperialiste as met jou, Max du Preez of die berugte Afrikaanse kopdoekdraer.

    My Boere en Voortrekkererfenis is veel groter as die taal, of die suiwerheid daarvan wat ek praat.

    Enigeen, ongeag ras of taal wat met respek saam met my hul hoof in eerbied langs die Vrouemonument, by Bloedrivier of die Voortrekkermonument kan buig, is veel nader aan my as 'n Nuwe/Neo- Afrikaner.

    Dr Verwoerd was die laaste politikus wat ons Boere en Voortrekkererfenis geag het.

    John Vorster het die eerste saad vir vandag se Neo-Afrikaners gesaai.

    PW Botha het volstoom geywer vir 'n Nasionalistiese tipe Afrikaner.

    FW de Klerk het op die stippellyn geteken.

    Ja, die Neo-Afrikaner kom al 'n lang pad. In vele opsigte herken ek selfs oom Jaap Marais daarin.

    Neo-Afrikaners kan maar voete was en kruip in hul Apartheidskuld.

    As trotse Voortrekker en Boere-nasaat, het ek NIKS omtrent my erfenis te vergeet of te verskoon nie.

    Boeregroete,

    Cornelius Henn

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top