Die toets van die Bekslaater

  • 0

Langs die grootpad op die N1 flits ‘n bekende gesig verby. Ek rem. Miskien is dit tyd om ‘n foto te neem en só probeer om die nostalgiese terugflits van vreugde maar ook pyn te stil.

Deur die oog van die lens aanskou ek die prent voor my: Pa het ons geleer dat dit karaktervormend is om alle gebeure in jou lewe as ‘n toets te hanteer. Slaag jy die toets, hoef jy dit nie weer oor te skryf nie. Die toets word ook nie gemeet aan punte nie, maar beoordeel volgens jou reaksie of optrede.

“Pasop!” hoor ek weer ma se skril waarskuwende stem agter my, “hy gaan jou op die bek slaat!” Ma is egter nie meer agter my nie, sal nooit weer wees nie. Voor my hang net ‘n ou stuk vernielde plaashek waarvan die geknakte dwarspale skewetand klou en wieg in die wind aan geroeste doringdraad.

Ek glimlag en druk die kamera styf teen my hart, so asof dit beskerming teen die seer van die konsertinahek sal bied: sien weer hoe ek met geswelde bloulip verby pa storm kamer toe en die deur hard tussen ons toeslaan. Hoor weer die naklank van ma se skinderfluister aan pa: “Die hek het die kind op die bek geslaat. Ek sê jou sy is nog te klein ...” Vir my het dit eerder gevoel of ek ‘n toets gedop het, want ek wou so graag pa met alles in my lewe beïndruk.

Nottedêm kan jy dit ‘n hek noem. Ek frons en kliek weer. Want dit swaai nie aan skarniere nie, het ook nie ‘n raam nie, eintlik is dit net ‘n los stuk draadheining wat aan die een kant aan ‘n ankerpaal vasgedraad is en aan die oopmaakkant ‘n dwarspaal het, of te wel swingel, wat met ‘n draadlus oop en toe gehaak word. Om dit af te hak moes jy uiters versigtig en doodstadig die draadlus oplig en loshaak, want spring daai swingel los en kitaarsnaar terug, spat die bloed. Dan weet ma nie of sy vir pa moet kwaad wees of vir jou of jy vir jouself nie.

Ek giggel: onthou nog dat die boere in die omgewing dit ‘n ‘smoelneuker’ genoem het. Ma konnie die woord onthou nie en het dit na ‘beksl-a-a-ter’ herdoop. Want die bekslaater het die kinders alewig op die bek geslaat. En wen jy wel met die afhaakslag moet jy nog steeds brutale krag gebruik om die hele konkoksie op te lig asook terselfdertyd haastig daarmee agteruit tree, en dan eers kan jy met ‘n wye draai die hele ploeggoed agter jou oop sleep. En bewaar jou been as die doringdraad wil begin konsertina ...

Konsertina? Saggies sluit ek my oë – hoor weer die klik van pa se konsertinatas wat oopflip. Sien hoe die maan die maroelaboom buite se skadu-takke bokant my klavier in spookvingers verander. Vang weer uit die kant van my oog pa se lyf wat ritmies bewe-en-ruktrek aan die konsertina, terwyl ons lywe die sakkie-sakkie-ritme in kerslig laat galop. Ons het nie bladmusiek gehad nie en moes my tienjarige vingers en ore gou die melodie snap. Ek en pa se musiek het ‘n baie spesiale band tussen ons gevorm. Ek vee my oog af – ai, pa was darem maar ‘n konsertinatrekker van formaat.

Maar die ander konsertinatrekker in my lewe spel pyn! My oë vlieg oop, voel hoe die gevoelens weer loswoel. Veel eerder was dit verdomde kindervernieling! Asof uit gewoonte vryf my vinger oor die rif onder my pols. Onthou weer die onwilligheid wat oor my gesak het wanneer ons by die Bylsteel plaasbordjie – ‘n stuk plank met swart gebrande letters daarop – vanaf die dorp ingedraai het. Die bekslaaters wat gewag het was sewe dorp toe en sewe terug huistoe. Elke kamp, of dit nou die mielieland of die tamatieland of Ferdinand III se kraal was, was toegespan.

Die eerste twee smoelneukers was nie te erg nie. Maar vanaf die derde wanneer jy die plaasstilte inry, begin dit voel of ander oë ook op jou rus. Die Turksvybosse langs die pad lyk soos voëlverskrikkers en slang al langs die klippad op na die koppie. Dan word die sonbesies se skrilgefluit irriterend en die skrik-sketter van die brandwag op die krans ego al nader en nader.

“Pasop jou bek!” gil ma vanuit die Vauxhall wat pa se pride and joy was. Pa se ryding was nog dié een met die breë wit streep langs die kant en die roomkleur vintage vlerke agterop. Ek sug. Later jare wou die Vauxhall altyd vrek. Dan sou ma agter my ref en ref en sien ek weer in my geestesoog hoe sy die petrolpedaal met die regtertoon tik-tik en dieselfde voet se hak skuins gooi om mee te briek. ‘n Kuns wat ek by haar aangeleer en vandag bemeester het.

Die voorlaaste hek naby die krip was ‘n nagmerrie. Want Ferdinand III – met sy stoet-papiere - het daar geheers as bewaker van die kraal. ‘n Kolos van ‘n Brahmaan met trillende dreigende vleismassa op sy skof asook gluur-oë. Ferdinand III was pa se trots maar ook toets in sy lewe. Want Ferdinand III het altyd die buurman se koeie geruik en oorgespring soontoe. So het die bekslaaters onder hom deurgeloop. Al die skewe hekke op die plaas was Ferdinand III se skuld – so het pa gesê.

Ek kyk af na die rif oor my pols en onthou dié dag: Daar waar ek ontbloot tussen niks en nêrens in die warm Sandvelde son gestaan en trek het aan die skewe smoelneuker. Die flippen swingel wou nie kopgee onder my bewende hand. Want Ferdinand III se teenwoordigheid het ‘n rilling deur my lyf gestuur en ma het die Vauxhall ekstra hoog bly ref. Beweeg Ferdinand III nader, druk ma die toeter en skree op hom. Dan hardloop ek voluit terug en spring in die kar. Die koeie skud net kop asof ons lastige vlieë is en begin Ferdinand weer vreet, vat ek moed en probeer weer. Daardie dag het die nekhoutjie skielik toegegee en die totale gewig van die bekslaater teen my eie begin stoei en konsertina. Die hele spul het uit my hand gepluk en onthou ek nog die ping van die doringdraad voordat dit diep in my hand ingesny het. Onder my neus op die rooigrond het die stof na beesmis geruik.

Of ma geskrik het toe sy sien ek is plat en of die Vauxhall in tru-rat was weet ek nie, maar die volgende oomblik bokspring pa se pride and joy agteruit en regoor die pad tot binne in die tamatieland met sy binddraad en klimoppale. Daar het die Vauxhall bly spin asof dit glad nie ‘n vrek-probleem gehad het nie.

Agterna het pa die Vauxhall kom uittrek met die Vaaljapie. Ma het versigtig my hand verbind en elke keer geklik met haar tong as sy die wond skoonmaak. Die bekslaater het my gemerk – vir ewig.

Ek hang die kamera om my nek en gee die konsertinahek ‘n goeie skop met my fynpuntskoen. Dit voel beter! Terwyl ek terugstap na die motor, sien ek weer pa se figuur in die kombuisdeur staan terwyl hy verbaas staar na die twee eensame figure wat deur die land aangestap kom huis toe.

“Het die kind ‘n toets gedop?” grootoog hy en loer na my mond wat beduidend dik gewip is. Versigtig steek ek die bloedbespatte lap - wat om my hand gedraai is - agter my rug weg en skuur verby pa. Ma antwoord nie, probeer net haar skewe bolla ongemerk terugdruk. Verseker was haar probleem veel groter dan die toets wat ek gedop het.

Vandag lyk die bekslaater soveel kleiner, dink ek en tik-tik met my toon op die petrolpedaal terwyl ‘n bekende reuk die kar vul. Ag nee, kreukel ek neus en loer af na my skoen. Iets ruik bekend - Beesmis!

“Ag sis!” hoor ek weer die tienjarige dogtertjie se stem, en druk oudergewoonte my neus by die venster uit. Hierdie keer is dit definitief nie Ferdinand III se skuld nie ...

Trienie Mahne

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top