Miskien het die swart nasies nie dieselfde sterk emosionele gevoelens oor hul tale nie, daarom verstaan hulle nie ons ontsteltenis oor die afskaling van Afrikaans op so baie gebiede nie. Hulle weet natuurlik nie van ons stryd oor baie jare om ons taal staande te hou teen Engels en selfs Nederlands nie.
Seker omtrent veertig jaar gelede het ek woorde gelees wat my vandag nog bybly: Toe op 'n vroeë stadium gevra is vir die vertaling van die Bybel in Afrikaans, het die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap geantwoord met woorde in díe trant: "We will by no means perpetuate jargons by printing scriptures in them."
Daar was die stryd teen Engels, maar ook teen Nederlands in die parlement, skole en howe. Baie het gevoel dat ons eerder Nederlands moet gebruik om teenoor Engels te staan, en diegene moes ook oortuig word dat Afrikaans op daardie stadium al die beter opsie was. Van die strydrosse was Langenhoven, en ek meen Gustav Preller en Eugene Marais, benewens die ooms wat heel vroeg al daarvoor geveg het, soos die bekende "Oom Lokomotief." Daar was op 'n stadium selfs 'n doelbewuste poging van Engelse kant om Afrikanerkinders te verengels.
Vandaar af het briljante mense die taal verder ontwikkel en vir ons woordeboeke en spelreëls gegee. Ons universiteite het uitgestyg en vir ons 'n plek in die wêreld-akademie uitgekerf. Ons 'n "Rang in den staten rij" besorg.
Ek is seker die huidige swart regering ken nie hierdie geskiedenis nie, daarom toon hulle nie die nodige respek vir ons gevoelens nie en gee hulle nie om om ons verder te vertrap nie. Iemand moet hulle hieroor inlig, asseblief. Waar is ons leiers, waarom kom hulle nie met 'n groot poging vorendag om die gety om te keer nie?
Groete,
Varkspek


Kommentaar
Dankie Varkspek, jy probeer en moet aanhou. Vir "ons leiers" gaan 'n mens skynbaar lank wag.
Ons taal en kultuur is ineengestrengel. Dit is een van die dinge wat mense moet besef en wat ons moet beklemtoon. Mense stuur hulle kinders na Engelse skole sonder om die implikasies daarvan te besef. My jongste was in 'n Afrikaansmedium skool (top skool) en het geweldig daarby gebaat. Soos by alle vakke was die Engelse onderrig ook van hoë gehalte en het sy matriek Engels op die hoogste vlak goed geslaag en die vak ook op universiteit geneem. Sy kon die wêreld reguit in die oë kyk as mens, vrou, Afrikaner en gelowige. By 'n Arabiese ambassade in Pretoria het die ambassadeur en personeel die hoogste dunk van haar gehad en haar ongelooflik ondersteun gedurende haar siekte. Sy het jonk gesterf maar die herinneringe is soet.
Jammer om te verneem van jou dogter se vroeë afsterwe.
Varkspek