Die politieke evangelie volgens Dirk Richter

  • 5

Dirk rig ‘n brief aan my met die volgende opskrif: “Vir Jaco Fourie (en eendersdenkendes): Verkiesingsnabetragting” (https://www.litnet.co.za/Article/brief-vir-jaco-fourie-en-eendersdenkendes-verkiesingsnabetragting)

‘n Verkiesingsnabetragting volgens Dirk se siening, getoonset op die maat van Wê! Ek was reg en jy verkeerd. Verder, almal behoort DA te stem, want hulle is nou ongetwyfeld die grootste opposisie, diegene wat nie so doen nie, is uit pas met realpolitik (sy siening van realpolitik, strydig met Ludwig Von Rochau se konsep wat die woord). Soos in ‘n vorige brief, sal hy my seker ook bykomstig kasty vir swak Afrikaans.

Sedert 13 Maart, het ek vele ander kommentare rakende die verkiesing en politiek geskryf. Daarop het hy geensins reageer nie, te wete dat hy hulle nie gelees het nie, oa ‘n Scenario mbt “Die Mag Van Koalisieregering” https://www.litnet.co.za/Article/brief-die-mag-van-koalisieregering

My nabetragting (‘n ander siening) is dat niks, behalwe vir die sterk opkoms van die EFF, verander het nie, en nieteenstaande die verhoogde steun vir die DA nie, regeer die ANC steeds die ander provinsies met ‘n volstrekte meerderheid, en die DA die Wes-Kaap. Inteendeel is die EFF nou die amptelike opposisie in Limpopo en Noordwes en nie die DA nie. Vir die volgende vyf jaar bly die politieke prentjie presies soos wat dit was 2009 tot 2014, mbt politieke mag in die land viz a viz die DA.

Het die VF+ ondersteuners DA gestem, het die DA 4 bykomstige setels gekry. Met die huidige opset, sal die VF+ saam met die DA stem waar dit nie tot nadeel van die Afrikaner is nie. Die verskil. Afrikaners met die DA alleenlik, is nie bemagtig nie oor sake wat hulle raak, wel met die VF+ bykomstig.

Voor 2014 was die konstitusie veilig. Nou is hy kwesbaar. Nieteenstaande dat die ANC en die EFF aartsvyande is, is daar sekere oorvleuelings waar die twee gesamentlik gaan stem. Met die ANC 62% plus die EFF 6%, is daar nou die moontlikheid van meer as 66% om wysigings aan die konstitusie aan te bring.

Onwaarskynlik, maar tog moontlik, kan die gesamentlike steun van die EFF en ANC die provinsies weer tot die oorspronklike vier konsolideer, wat beide die Wes-Kaap en Gauteng se regerings tot niet sal maak. Daar was ‘n paar jaar gelede bespiegelinge aan ANC kant om dit te wil doen. Gebeur dit, sien die DA sy gat.

Soos reeds genoem, en hier herhaal (https://www.litnet.co.za/Article/brief-vir-jaco-n-stembrief):-

“My uitgangspunt was, is en sal altyd bly, ek is eerstens 'n Afrikaner demokraat, dan Suid-Afrikaner. Waar my mense, taal en kultuur bedreig word, gaan en sal ek nie gedwee terugsit en die sogenaamde onvermydelike aanvaar nie. Terwyl ons konstitusie op gelyke regte en geleenthede vir almal in hierdie land, Afrikaners inkluis, voorsiening voor maak, en die moontlikheid bestaan dienooreenkomstig dat vir daardie regte gestry kan word, sal ek pogings wat aangewend word om sodanige regte te bewerkstellig, ondersteun.” Hetsy dit ANC, DA, VF+ ondersteuning is wat dit sal aanhelp, die sal ek ondersteun. Tans bly dit die VF+ alleenlik

  • 5

Kommentaar

  • CorneliusHenn

    Puik geantwoord Jaco!  

    Ek weet jy beskou jouself nie deel van die Boere- Afrikaner se ideale en hoop nie.  

    My steun vir Front Nasionaal is egter alles behalwe opposisie teen VF+.  

    Dr. Pieter Mulder sal altyd my respek hê.  

    Front Nasionaal is besig om 'n baie belangrike weg in die geskiedenis van ons Boere-Afrikaners te baan.  

    Daar is drie belangrike kwessies wat Front Nasionaal op die pad na selfbeskikking vir Boere-Afrikaners aandui: 1) Die boodskap van die bestaan van ‘n etniese minderheid wat wil afskei uit die eenheidstaat. 2) Dit is elke Boere-Afrikaner se plig om soveel volksgenote as moontlik te bekeer tot die selfbeskikkingsgedagte. 3) Daar moet sinvol en wetlik opgetree word. Selfbeskikking gaan nie oor die loop van ‘n geweer gebeur nie, dit gaan nie uit die lug val nie, dit gaan nie op ‘n skinkbord kom nie. Ons sal koelkop, beredeneerd en as ‘n verenigde volk daarom moet vra en elke wetlike weg voor die wêreldgesag moet volg.

    Dit kan dalk ‘n lang en moeisame proses wees, dalk weer nie. Maar iewers moet ons begin, anders gaan dit nooit gebeur nie. In die huidige bestel is die tyd besig om leeg te loop vir die Boere-Afrikaner.  

    Neo- Afrikaners, oftewel vandag se nuwe soort Afrikaner in Mzansi, minag Boere-Afrikaners se erfenis onnodig.  

    Ek respekteer jou Neo-Afrikanerskap waar jy jouself in soveel duidelikheid van my erfenis distansieer - sonder om dit te beledig.  

    Eweneens, ag ek jou ateïsme met die hoop dat jy my liefde en belewenis in die Katolieke ook kan respekteer.  

    Katolieke Boeregroete,  

    Cornelius Henn

  • Jaco,

    Al wat jy en die ander VF Plus ondersteuners met julle stemme gedoen het, is om die Mulder broers vir nog vier jaar te verseker van hulle vet parlementêre salarisse. En julle is te naïef om dit agter te kom.

    Net soos wat jy te naïef was om in te sien dat Niekie (ek-is-‘n-celebrity) Van den Berg oorgehardloop het VF Plus toe in die hoop om nóg vier jaar salaris te kry. Dis nou nadat die DA hom geweeg en te lig bevind het. Skielik het sy beginsels verander!

    Nog ‘n ding. Ek kon my ore nie glo toe Pieter Mulder, na die uitslae bekend gemaak is, so waar as wragtig op TV konstateer dat die VF Plus in 2019 sy spiere gaan bult en ‘n faktor in koalisie-regering gaan word nie! As die wensdenkery nie so tragies was nie, kon mens daarvoor gelag het.

    Laastens: Die DA is nie besig om sy gat te sien nie, al wil jy dit graag so hê. Meer as ‘n miljoen stemme meer as 2009 wys dat iets anders as gat sien hier aan die gebeur is. Daarbenewens het swart kiesers in beduidende getalle in die metros vir die DA gestem. Die gematigde sentrum is aan die groei. Ek sê weer: Die VF Plus se eenkant-politiek is uitgedien.

  • Dirk

    Dit wil voorkom jy is aan die DA kruis genael.  Ek was 'n DA ondersteuner totdat hulle besluit het om rasgedrewe wetgewing te ondersteun. Ek was beslis nie aan enige DA kruis genael nie, en is ook nie aan die VF+ kruis genael nie.  In die vorige bedeling het ek rasgedrewe wetgewing teengestaan.  Hoekom moet ek nou my beginsels prysgee wanneer die DA sy vorige non-rasgebonde beginsels prysgegee het, deur rassistiese wetgewing te ondersteun, net ten doel om rassistiese swartes in eie geledere te kan akkomodeer?  Die enigste gespog wat die DA nou vir hulself eien, is dat hulle ANC beleid beter sal kan implementeer,  en maak nie meer staat op die vorige eerbare non rassistiese beginsels waarvoor Hellen Suzman gestaan het nie.

    Ek huldig steeds vir tannie Hellen Zille die hoogste agting.  Sy is meer as 100 mans werd, en het in beide die 2009 en 2014 verkiesings vir die DA op eie houtjie met vergrote meerderhede gesorg.  Sonder haar toedoen, is dit te betwyfel of die DA sover gekom het soos nou.  Die groot vraag is, hoe gaan die DA eendag vaar sonder haar?

    Die Mulder broers is definitief die VF+ se oorsaak van agteruitgang, maar die VF+ se nuwe neiging en boodskap is nie te versmaai nie.  Die Noordwes Provinsie het vir die eerste keer 'n VF+ setel bekom, vorige DA boere, wat met die onlangse neiging van die party ontnugter is, boere wie se plase op die spel is, en waarvoor die DA vere voor voel.  Nou  waarvoor moet hierdie boere vir hulle ondergang stem deur die DA te ondersteun?

    'n Laaste saak.  Ek huldig die siening dat wat verby is is verby en daar moet nou vorentoe gekyk word.  Die verkiesing is verby - geskiedenis.  Niks het verander nie, behalwe 'n nuwe party wat die toekoms kan belemmer, nl. die EFF.   Die grootste gevaar?  Die konstitusie is nou kwesbaar.

    Ramaphosa sal die ANC in 'n nuwe rigting laat inslaan, sodra Zuma ontsetel is of uittree.  Die ANC beskou die EFF as groter bedreiging vir hul toekoms as die DA, en sal gevolglik meer links gedwing word.  Die DA se toekomstige leierskap is duister, met afgunstiges onder geledere reeds te bespeur noudat Mazibuko uit die prentjie is.

    Ek?  Sal weer VF+ stem, afhangende van hulle nut vir die Afrikanerdom in 'n veelrassige gemeenskap.

    Jy?  Soos met die ou SAP  /  NAT politiek, lyk vir my na 'n "die hard".  Maak nie saak wat die DA doen nie, jy's DA en al die ander is benede jou waardigheid!

  • Cornelius

    Ek hou van jou nuwe en besadigde benadering teenoor jou opponente, teenoor myself asook teenoor ander hier op die werf. Dit maak vir kwaliteit wedersydse redenasies mbt Godsdiens.  Ek respekteer alle godsdienstiges mits hulle nie teenoor my voorskriftelik optree nie. Inteendeel, een van die godsdienstiges wat ek altyd 'n hoe agting voor sal koester is Vader Bonaventure, voorheen van die Musgrave Road Catholic Church in Durban, met wie ek vele redenasie-onderonsies in my jeugjare gehad het, en ek moet bysê, hy het my altyd bemeester.  Ek wonder net of hy nog lewe.

    My uitgangspunt is dat Afrikanerdom vandag so 'n diverse volk is, dat 'n mens hulle oor die volle politiese spektrum sal vind,  ANC; DA; Kommunis; COPE; Front Nasionaal, selfs EFF, ens.
     
    Ek min hulle vir hulle Afrikanerskap. Wat well in my krop vassteek, is Afrikaners wat mede Afrikaners wat nie hulle politieke mening deel nie,  slegsê.  Dan in hulle eie trant sê ek hulle kwaai sleg, en daarvan hou hulle nie, want hulle dink hulle is die enigstes wat beskore is om mede Afrikaners te kan slegsê.

    Dan 'n ander saak.  Wat verby is, is verewig verby.  Waarom oor die verlede top, wanneer daar daadwerklike uitdagings is vir Afrikaner toekoms, waarop aandag gespits moet word.

  • CorneliusHenn

    Ai Jaco, met Kobus de Klerk in volle swang terug op die werf, lyk ek maar net meer besadig ... Namaste! Cornelius Henn

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top