Die Peugeot 403,404 en 505

  • 2

Beste Oester en al die ander sentimentele ouens.

Ek het lekker gelees aan die DKW, Borgward en ander motorstories.

Vandag wil ek van die Peugeot 404 vertel. Dit was nou vir jou 'n motor, bakkie of stasiewa sonder einde. Ek het die stasiewa gehad in die destydse bekende kleur, wat 'n mens seker as 'n dowwe oranje kan beskryf. Die enigste kritiek wat ek oor my voertuig gehoor het was: “Die 403 was beter!” (Dit was nou die 404 se voorganger. Ek het op 'n keer saam met iemand in 'n 403 gery “wat se mylwyster al twee keer oorgeslaan het”. Veral die onderstel was net meer raserig as ander motors.)

Dit was in die vroeë 1970's en met 'n vakansiehuis 'n hele ent van die Kaap af het ek 'n groter vervoermiddel nodig gehad vir 'n gesin van vier met nog twee honde wat ook moes saam. Aangesien die geld beperk was het ek 'n ou tweedehandse een gekoop wat my nooit in die steek gelaat het nie.

'n Kollega, met wie ek saam beurte gemaak het om werk toe te ry het 'n groen outomatiese 404 sedan gehad. Die motor moes maar roei om van 'n stopstraat weg te kom maar daarna was daar nie probleme nie. Wat ek nou nog nie kan glo nie is, dat in teenstelling met ander outomatiese motors, die 404 geen diens aan die ratkas nodig gehad het nie. 'n Ander vriend het die 404 bakkie gehad wat net geloop het. Die ding was later regtig oud en lelik maar wou nie breek nie.

Een aand klim ek uit my stasiewa by 'n winkelsentrum en 'n vreemdeling kom gesels met my oor die 404. Hy het die stasiewa leer ken op 'n jagtog bo in Suidwes-Afrika. Hulle was vier jagters in die 404 en het soveel bokke geskiet dat die hele agterkant tot gelyk met die agterste rugleuning met bokke gepak was. Bo-op hierdie vrag was hulle gewere en toerusting. Op pad Kaap toe het hulle die hele tyd voet-in-die-hoek gery – nie 'n wonder dat Peugeot nog 'n bewonderaar bygekry het nie!

Die 404 het ek na 'n hele aantal jare vervang met 'n 505 stasiewa. Aangename herinneringe!

  • 2

Kommentaar

  • Ek het as kind in 'n Piedjou-bakkie grootgeword. My pa het 'n Piedjou-bakkie gehad. Hy het geboer en oa katoenbale met die bakkie na die pluismeule aangery. Dit was op 'n stadium ons enigste vervoermiddel todat hy 'n Zephyr 6 gekoop het waarmee ons skool toe aaangery is en dorp toe gegaan het. Die bakkie het gewerk, want daar was geen genade nie. 

  • ek onthou die ou Peugeots. Spesifiek die ou Peugeot-bakkies. Destyds in die ou dae in Botswana was dit net die PG's en die Hiluxe wat dit kon hou op die sinkplaatpaaie. Die Hilux-bakkies se enjins het gehou maar die enigste bakkies wat nooit uitmekaar geval het nie was die Franse. Min mense het hulle gery want hulle bakke het mos altoos regop gestaan soos 'n gewillige. Maar die wat eenmaal 'n Fransman gery het sweer vir ewig daarby.

    Groete uit Oesterland

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top