'n Onbekende dagbreek en die seisoen se verandering het gekom, die sonstrale was kouer en die aand se vensters nouer. Dit was toe waar ek gesit het en 'n deurbraak gehad het tot die bekwaamheid van 'n warm koppie koffie. Daar was iets aan die smaak wat my tong laat ywer het om nog 'n sluk te vat. Die aroma van die koffie bone wat vars geperkuleer was te ontleed. Die hande wat die koel wit beker met vrymoedigheid kon vashou en weet dat die koffiebeker geen teleurstelling of uitdagings so bring nie, net plesier vir my liefde van koffie.
Die koppie wat ek so graag met moeite maak in die koue winter oggend, die koppie wat ek so vrywilliglik aanbied vir 'n ander koffie liefhebber. Die koppie wat meer ruimte los vir my gedagtes om te sweef en die einste koppie wat my toelaat om net te wees.
Tog die koppie wat waarlik van waarde was, moes my God wees, die meester van koffie voorberei, koffie meng, aroma's inspireer en smake genereer. Die maker van alle soorte koffie, sterk koppies, flou koppies, romerig en bitter, soet en sommige koppies leeg.
Die inspirasie van die vergelyking was helder soos die dagbreek op 'n vroeë winteroggend. Dat ek maar net nog 'n koppie was, ek kon kies hoe my koppie sou lyk, was dit pastelkleure wat sou wissel van appelkoospienk na sagte laventelblou. Dit was die keuse of ek bitter sou wees en gevul word met negatiwiteit of lewensdwalende smart. Wou ek bitterheid veroorsaak op 'n tong wat geskep was om sag te antwoord op 'n vurige klem van iemand wat redekawel? Of wou ek die vuur stoot met sinnelose redenerede spoeg van kwaadpraat en hardpraat. Was ek die koffiebeker wat aromas sou afgee van liefde en geduld en toelaat dat die hand wat vrywilliglik my wou vat, berustheid sou kon hê om te weet dat ek toe sou laat vir daardie persoon om net te wees? Om te wees wie hy of sy wou wees in daardie oomblik. 'n Oomblik wat aan ons gegee word deur die meester koffiemaker, 'n oomblik wat ons soms so sinneloos miskyk, misleef, wegstoot, weggooi. Sou dit dan die moeite werd wees om ‘n koppie te wees wat vol lyk maar eintlik baie leeg was, wat gestrooi was met suiker maar die bitterheid klou vas aan jou tong, en tog waar jy moet swyg van plesier, sit jy en lê klem op die foute van die koffie en sy beker.
Ek was die gebreekte koppie en my stukkies het geskiet van hoek tot hoek. My meester het daardie stukkies toe kom optel en een vir een kom vasplak met Genade. Hy het op my koppie kom verf en die mooiste blomme opgeteken, so mooi dat dit gelyk het asof die blomme tot lewe sou kom met 'n bietjie water. Hy het Liefde en Geduld ingegooi en gesê ek moet die waarde van die God-gemaakte woorde verstaan en uitleef. Hy het gesê die Liefde bestaan uit twee siele wat 'n sielstaal met mekaar praat, en daardie twee siele kan net kommunikeer deur sagte antwoorde te gee op 'n woedende tong. Hy het gesê dat die Liefde ook genees en dat dit vertroetel moet word deur geliefdes, jou man en jou vrou, jou kinders en familie, jou vriende en vriendinne. Dat jy soos die blomme op die koppie elkeen daagliks water moet gee, van aanmoediging en omgee, jou hande leen om te help waar jy kan en om te gee waar jy kan. Hy het my gevul met Genade en Geloof en gesê ek kan jou nie belowe dat jy deur hierdie lewe nie mag val en weer in stukkies breek nie, maar ek kan jou belowe ek sal weer daardie stukkies in elke hoek optel en weer bymekaar sit; As jy in my glo. God het toe heel laaste die mooiste kers in die beker gesit en vir my gesê, Glo in my en vertrou op my en ek sal seker maak die vlam gaan nooit tot nuut nie, jy sal skyn van waarde en jy sal blom soos al die blomme wat ek met my eie hande geverf het en versorg het met die lewenswater; die ewige lewe, en so sal daardie lig ook deurbreek, deur al die stukkende gepleisterde krake en al die ander bekers sal sien dat jy die lig van God die almagtige gevestig, het in jou.
Ek was maar net 'n dood eenvoudige koppie maar 'n God so Almagtig het my uniek en volmaak gemaak, daar was krake nodig sodat die lig kon deurstraal, liefde nodig, geduld en vertroue, geloof en hoop.
Koffie 'n inspirerende vergelyking tot 'n Magtige skepper van alle bekers, vir allerhande soorte redes.

