Die Duiwel in die Vatikaan

  • 3

Die Vatikaan het wetlike goedkeuring verleen aan ‘n groep priesters wie eksorsisme op persone, "besete deur die duiwel", uitvoer. Daardeur gee sg "Cannon Law", die hoogste wetlike gesag in die Roomse Kerk, vir die eerste keer in die geskiedenis van daardie Kerk, formele erkenning aan hierdie groep. Die Internasionale Assosiasie van Eksorsiste bestaan uit 250 priesters versprei oor 30 lande, en die Rev Gabriele Amorth reken dat eksorsisme die mees effektiewe manier is om die duiwel te bestry en beweer verder dat Biskoppe wie nie eksorsiste aanstel nie, ‘n "mortal sin" pleeg! ( ‘n "mortal sin" is ‘n oortreding of sonde wat die individu veroordeel tot die hel). Hierdie priester reken dat hy reeds 70,000 gevalle van duiwelbesete individue suksesvol behandel het! Wat veral onrusbarend is, is die feit dat die Pous self ‘n groot ondersteuner van hierdie man is.

As sekulêre protestant vind ek hierdie mentaliteit so siek soos die swart mis, ‘n parodie van die Roomse mis. Die duiwel kan alleen bestaan binne die raamwerk van die Christen-mite. Hierdie sg besetenes vir wie eksorsisme nodig is om van die duiwel ontslae te raak, sal hulp kan vind binne die sekulêre psigiatrie. Indien eksorsisme van enige demonstreerbare hulp is, berus hierdie sukses juis in die GELOOF dat daar werklik so ‘n entiteit as die duiwel bestaan, dat die persoon self GLO dat hy besete is, en in sy/haar GELOOF om genesing te kry binne die raamwerk van die Christen-mite en die Roomse Kerk. Dus binne hierdie selfde Christen-mite lê die sade van die siekte - en sy genesing deur GELOOF. Dat hierdie ‘n suiwer Roomse aberasie/perversie is, kan mens kyk na die res van die mensdom, na China en Japan, waar die Christen-mite nie wortel geskiet het nie, waar duiwelbesetenheid en eksorsisme dus onbekend is.

Wanneer mens kyk na gelowiges vandag wat hulle geloof en godsdiens as ‘n allerdaagse feit aanvaar, wonder mens of hulle enigsins besef watter reuse voorsprong die mensdom gemaak het met die aankoms van die Protestantse Reformasie in Europa wat in die proses honderde-duisende lewens geverg het?

Groete,

Pieter Redelinghuys

  • 3

Kommentaar

  • Ek wonder tog of hierdie duiweluitdrywing nie dalk 'n bietjie help vir geestessiektes nie, dan dink hulle dit is die duiwel wat  van die perseel verdryf is.

    Van wat ek al gehoor en gesien het in flieks, kan dit 'n troumatiese ervaring vir die "besetene" wees, miskien met die selfde gevolg as elektro-konvulsiewe-terapie. (Skokterapie). 'n Aantal priesters "omsingel" die pasiënt, hulle lê hulle hande op hom en dreunsing, skreeu dat die duiwel hom moet verlaat, maak allerlei gebare en swaai die Bybel en kruise rond. Hulle slaan selfs die persoon. Dit is so skokkend vir die slagoffer, dat hy genees word van sy skisofrenie of depressie.

    Groete,
    Varkspek

  • Pieter Redelinghuys

    Beste Varkspek,

    Dankie vir jou terugvoer, en jy wonder korrek met jou stelling dat "hierdie duiweluitdrywing nie dalk 'n bietjie help vir geestessiektes nie, dan dink hulle dit is die duiwel wat van die perseel verdryf is". Maar ek twyfel of so 'n persoon ooit "genees word van sy skisofrenie of depressie".

    In so 'n situasie sou ek verkies dat pasiente behandel word deur kundige mediese personeel, en nie deur priesters met hulle bybels, kruisies, toorkunste, en mumbo-jumbo nie. Ongelukkig word hierdie gevalle blykbaar meestal aangetref in die armste en mins geletterde deel van die bevolking, juis daar waar onkunde en bygeloof 'n deurslaggewinde rol speel, en goeie mediese behandeling ontoereikend is: In plekke soos Haiti waar die Roomse Kerk moet kompeteer met voedoe-praktyke.

    Groete,

    Pieter Redelinghuys

     

     

  • CorneliusHenn

    Beste Pieter,  

     'n Mens kon sekerlik  tereg vra; hoekom is die wetenskap dan nie so beskikbaar in die armste plekke op aarde nie?  

     Nou ja, bly gelyk met jouself en erken maar dat die wetenskap waarna jy so verwys gewoon geldgedrewe is.  

     Big Pharma en ander sogenaamde wetenskaplikes - en selfs wolwe in die reg en teologie - hou hulself daar waar munt te slaan is.  

     Net so is die kanse dat die berugte hospitaalbed-dwepers hier hul evangelie in Tokoza of enige plek waar dit hul eie geld sal kos gaan versprei, zero!  

     Nee wat, as daar nie goeie mediese fondse of versekering is wat kan betaal nie, sal die armstes altyd die gelukkigste en gesondste op aarde wees!  

     Nederige groete,  

    Cornelius Henn

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top