Die Denker

  • 3

Jare gelede toe sing Johnny Nash sy bekende lied “There are more questions than answers” en deur die lied sukkel-soek hy na die waarde in die lewe en hoe meer hy vra, hoe minder het hy geleer. Hoe meer kere ten spyt, bly sekere antwoorde tog net ontwykend. Dit was in 1972.

En nou, na ons as die sogenaamde slimste mense van alle tye in die ganse heelal aangewys is en ongeag van ons wysere leergierigheid en die heen-en-weer ommekeer van teorieë en gelowe, is daar steeds ’n magdom onverklaarbare doene en late en geite en goeters wat selfs die slimste onder ons regoplopers, in ’n oogwink breinstil sal laat...

“In der ewigheid nooit” hoor ek die pragmatiste en ontledende ingenieursdenkers gil... “alles het ’n logiese rede en niks is iets omdat dit net so is nie”.

“Au contraire”, my geagte gelese volk.

Waarom wil ’n middeljarige man dink dat hy tog die skoonliefies, van wie hy die vader kan wees, met ’n , wulpse haardos, bont hemp en jannas sal kan omsingel en oorwin? Dink my jaargenote regtig dat die jong kroonwild van die skepping, in die blink gesmukte modelle van jare gelede sal belangstel?

Waarom pas ons mense nie hul verhoudings, en veral dié met geliefdes, op nie? Waarom wil hulle wraaksugtig en pynvrate raak wanneer die verhouding teen die bult aftuimel? Of, waarom wil hulle blomme en eksotiese kuierplekke en kaartjietjies en romantiese saamwees-aande, met die aanhoor van die doodsklokke, uitpluk? Waar was die goed dan vantevore?

Hoekom sukkel ek met Sondae namiddae? Hoekom kom kruip daar ’n gemoedsbekakking hier na vieruur teen my agterbeen op?

En, as ek die middag gerus het, hoekom wil ek nie die aand aan die slaap raak nie?

Hoekom wil ons ons skete en krake met gekunsteldheid verdoesel?

Dit laat my dink aan die destydse Romeinse beeldhouers wat kortpad wou kies en die foute in hul beeldhouwerk sou wegsteek deur krake ens. met was te vul. Sodoende, of so het hulle gehoop, kon hulle dit mooier maak as wat dit regtig is. Aangesien die gebruik menige kunstenaar gepooitjie het, moes daar ‘n onderskeid getref kon word tussen die opdossers en die res. So is die Latynse samevoeging Sine Cera gebore. ‘n Kunstenaar se werk sou as "Sine Cera" beskryf kon word indien dit werklik eg en eerlik was.

Soms het ons ook te veel “was”; so-by-so dat mens nie tussen wasgevulde krake en die "marmer" kan onderskei nie. Ja soveel, dat mens selfs kan glo dat ander ook nie die onderskeid kan tref nie!

Dink vir ’n oomblik ook hieroor: die Afrika stamme wat in die sogenaamde vertoonvenster van ons land se tradisonele kulture, naamlik Lesedi, in Gauteng uitgebeeld word, was almal jagters en veeboere. Maar hul hoof voedselbron was/is mieliemeel. Kan dit skriftuurlik korrek wees om die wysheid te aanvaar dat die voorsate geoes het sonder om te saai?

Die tradisionele klere was met krale verfraai. Kleurvolle krale uit Europese fabrieke. Die stamme uit die Noorde het selfs rompe vir die krygers as oorlogsgewaad aangetrek. Iets wat hulle blykbaar by die Skotte geleer het?

Gepraat van kultuur – daardie tydsafhanklike veranderende wese.

Waardes en gebruike wat deur ‘n (kleinerige?) deel van ‘n bevolkings / taal / ondersteunersgroep wortels gegee word en dan deur bewustheidspogings aan die lewe gehou word. So verkry dit algemene aanvaarding en ondersteuning. Totdat dit ‘n natuurlike dood sterf.

Dink daaroor: ‘n generasie of wat gelede was daar toegewyde Afrikaanse Volkspele-ondersteuners; behalwe natuurlik in Johannesburg, Durban en Butterworth; vandag is dit ‘n vae herinnering op die plooigesigte van ’n klompie senior burgers. Dis weg. Die Ouma’s en Oupa’s leer dit nie meer vir hul kleinkinders nie. Vraag is… was dit ooit werklik breë Afrikanerkultuur? Wie weet wat is Afirkanerkultuur?

Waarmee moet ’n vrou haar gedagtes vul, terwyl sy toelaat dat ’n vreemde man haar liggaam vir sy ontlusting gebruik?

Voel die man verlig, verlos of dood nadat hy, as kliënt, die dame se diens benut en sy offerande gegee het? Ervaar hy voor, tydens en na die geslags-skermutseling dieselfde emosies? Voel iedereen van hulle hoegenaamd iets?

Of is dit net die gevolg van die mite van ‘n perfekte verhouding?

Op my neef se koffietafel het daar altyd ’n beeld afdruk van “Die Denker” gestaan – miskien staan dit steeds daar, ek weet nie. Die krom kaal manlike figuur sit peinsend oor sy hand en staar; diepdenkend en vir my ’n versinnebeelding van hoe kwesbaar ’n mens onder die kwelling van vrae met én sonder antwoorde is...

As ek geweet het
dat dit die laaste keer sou wees wat ek jou sien
sou ek jou terugroep met 'n druk en ‘n soen
en, As ek geweet het
dat dit die laaste keer sou wees wat ek jou stem hoor,
sou ek elke aksie en woord opneem en speel
en, As ek geweet het
dat dit die laaste tydjie, minuut saam is,
sou ek stop en sê: "Ek is lief vir jou," pleks van jou te laat hoop
en, As ek geweet het
dat dit die laaste keer sou wees om jou dag te deel,
wel, ek is seker jy sou soveel meer as “dit kan tot more wag” wou hoor.

Daar sal altyd nog 'n dag wees om te sê: "Ek is lief vir jou”,
en seker sal daar nog 'n kans wees om te sê: "wat kan ek vir jou doen?"
Maar mater, môre is aan niemand belowe nie
en vandag is die laaste kans wat jy mag kry,
om jou geliefdes vas te hou, styf en bly.
Waarom doen jy dit nie vandag nie, en laat more wag?
Want as more nooit kom, is vandag sonder spyt
en Jy…
jy kon vandag die tyd vir 'n glimlag, 'n drukkie, of 'n soen neem
en jy kon vandag iemand met geluk en liefde seën
en jy kon vandag, die tyd neem om te sê:
"Ek is jammer, asseblief, vergewe my".

  • 3

Kommentaar

  • Hennie

    Jinne - dis oulik. Ek het dit geniet. Het jy self die gedig geskryf? Wat 'n denker ...

  • Hallo Trienie

     
    Dankie vir die reaksie. Ek waardeer.
     
    Ja, die gedig-dingetjie is ook myne.
     
    Groete
  • George Bekker

    Hennie, ons het kennis geneem.

    Net jammer jy kom met die neulogisme(?) "gemoedsbekakking"  voor die dag, wat nogal teen die agterbeen opkruip en nie afloop nie! Was dit nie vir hierdie glips nie het Trienie vir jou nog 'n ekstra sterretjie gegee.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top