Op 19 Mei verwys Jaco Fourie na Dan Roodt se rubriek op Praag se webwerf waarin dok Daan as’t ware die wit vlag hys. Ek het dit gaan lees en watter interessante gatomswaai is dit nie sedert hy (Roodt) op 19 Januarie vanjaar met sy grofgeskut losgetrek het in ‘n rubriek met die opskrif “ Inval van die Imbesiele” nie.
In hierdie rubriek vervloek en skel Roodt oa die volgende persone: Helen Zille, Allister Sparks, Dr Van Zyl Slabbert, Die Universiteit van Stellenbosch, Prof Russel Botman, Nelson Mandela, Adriaan Basson, Prof Jonathan Jansen, Naspers, Koos Bekker (HUB, Naspers) en ‘n paar ander.
Lesers kan gerus hierdie rubriek op praag.co.za/rubrieke/danroodt/ gaan lees om die volle omvang van sy fulminasie te sien. Onder andere noem en verwys hy na die bg persone / instansies as: “…Horingdom, Naarpers, stommiteite, domste mense, breinloos, verraaierkaner, stomonooslike plaaslike Engelse, stuipagtige vertraagdheid, Madibiese sotte, werfbobbejane, na-aper, buikgenote, ens. Hy verwys oa na een van die bg as iemand wat “…indien hy ‘n brein gehad het, het dit tot in sy maag afgesak en is daar deur die maagsappe halfpad verteer, wat die stommiteite sou verklaar waarmee hy dikwels vorendag gekom het. Ens, ens…
En wat gebeur nou ná die verkiesing? Net oor die 5 000 stemme? Liewe leser, gaan lees asb verder op dok Daan se webwerf hoe mak hy nou geword het. Skielik is dit “Naspersjoernaliste”. Geen “Naarpers” meer nie. En dan huil hy dat ‘n “Naspersjoernalis ”…my ongevraagd in ‘n epos uitgevloek dat die see my nie kon afwas nie…” En dan bekla hy sy lot verder:”… Dis al jare lank wat ek die hoon en smaad van sommige Naspersjoernaliste verduur…”
Nog is dit het einde niet: Dan Roodt gee toe: Dit gee my ‘n gevoel van: Ek is geweeg, en te lig bevind. Ten minste deur Afrikaners, wat Mmusi Maimane bo my verkies…
So, hier is die skrif aan die muur. Die Afrikanertuisland in die heel Suid-Afrika, gelei deur doktor Dan Roodt, is verby, kapoet, dis deur die Afrikaner self gedoem by die stembus. Sien die skrif teen die muur, Cornelius en Jan Rap?


Kommentaar
Beste Dirk,
Baie dankie vir jou interessante inset aangaande die Heer Dr. Dan Roodt. Jou brief het só paslik gearriveer op die spore van my artikel aangaande name wat Afrikaners gebruik om hulle eie medeburgers te denigreer. Mag ek nou by daardie lys ook die volgende toevoeg?: horingdom, stommiteite, domste mense, breinloos, verraaierkaner ( ek hou hiervan!) , stuipagtige vertraagdheid, Madibiese sotte, werfbobbejane, na-aper, buikgenote, ens.
Beste groete,
Pieter Redelinghuys
Dagsê Pieter,
Doe so voort. Groetnis
Dirk
Dirk Rigter,
Die afgelope verkiesing het my ook 'n les geleer.
Dis 'n gegewe dat 99%+ van die land se kiesers ten gunste is van regstellende aksies, grond-onteiening, en swart bemagtiging.
Die meerderheid kiesers is ook min gespin oor Gupta vergrype en Nkandlas.
Nes Dr. Dan Roodt, is ek ook besig om te hergroepeer.
Ek is 'n blanke Afrikanerman en reeds oor die halfeeu merk.
Ek kan -of wil - niks daaraan doen nie.
Dis wettig in hierdie land om my van die ekonomie uit te sluit en teen my te diskrimineer (want volgens jou het die Nasionale Party, vir wie ek ook nooit eens gestem het nie, mos apartheid bedryf - payback time, né Dirk Rigter).
Voeg daarby wittes en Afrikaners soos jy wat selfs ons kinders met 'n "erfsonde" soos apartheid belas.
My Voortrekkererfenis is kosbaar.
Nes my voorouers bereid was om hul waens die vreemde in te trek op soek na 'n vrye toekoms vir hul kinders, net so is ek bereid om die wêreld te gaan soek vir 'n heenkome vir my nageslag se toekoms.
Geniet jou "oorwinning".
Boeregroete,
Cornelius Henn