Die arme kinders

  • 0

In die afgelope naweek se Rapport verkondig die een opskrif dat daar tans groot hoeveelhede geld deur die Ontvanger van (al ons) Inkomste en die steierende plaaslike owerhede jaarliks afgeskryf word. Ek het gehoop dat hulle vir my ook ’n welverdiende ruskansie sal gee, maar helaas is daar geen voortuitsig nie!

Soos gewoonlik het die rubriek se inhoud, in vergelyking met die treffende opskrif, nie naastenby die aardskuddende waarde wat ‘n honger-oog sou kan voed nie. Kortom: die mense het nie geld nie en die afskrywingslys styg. Of so beweer sommige en hoop ander.

Die dag vantevore moes ek en die seuns by elke skool in ons omgewing verbygaan om plakkate teen lamppale op te sit. Ons het nie gratis katjies uit ’n onverwagse werpsel of plesiersalwe vir impotente mans geadverteer nie, nee, ons het net ‘n Plaasfees bemark (een van daardie take wat ter afbetaling van my menige sondes gedoen moet word).

So-by-so moes ons rondom die skole, hoër en laer, stap en die pale beklim. Terwyl ons by die tweede laerskool doenig is, is dit opvallend hoe hulle, net soos die vorige skool, besig is met imposante aanbouings. Pawiljoene en klubhuise en nuwe grensmure en hekke.

As ek ’n geniepsige oortuiging gehad het, dan sou ek aanvaar dat dit slegs vir die plesier van ’n sekere groepie van die ouers, hul kroos en uitgesoekte leerkragte is. Maar, aangesien ek nie van beter weet nie en aangesien ek ook nie ’n overte feitesending onderneem het nie, kan ek net sê wat ek sien en daarvan dink ...

Nou die dag lees ek êrens dat tagtig persent van ons alledaagse mense, die sogenaamde Jan- en San Publiek, deesdae minder geld aan voedselaankope spandeer. (In die ou radio-dae het die omroepers soms na die term “die man op straat” verwys. Oupa het altyd by aanhore hiervan gesê dat die omroepers seker na die boemelaars verwys; die “hobo’s” – Oupa was soms ’n bron van sulke deurdagte, maar meestal nuttelose, wyshede.) As ek soos Oupa ‘n bietjie mag nabetrag, dan maak die statistiek rakende die voedselaankope nogal sin, want die mense sit die koffiehuise en burgerplekke en rouviskafees aand-na-aand so vol, dat hulle nie kruideniersware hoef te koop nie!

Net so ook die jaarlikse styging in skoolgelde. Elke begrotingstyd van die jaar dan vertel die skoolraad se finansies-guru vir die ouers hoe belangrik kleiner leerdergetalle in elke klas is. Met hoeveel die onderwysdepartement se subsidie gedaal het; hoeveel ekstra leerkragte op die skool se eie loonstaat gevoeg moes word. Alles net om te sorg dat boetie of sussie die beste moontlike onderrig kry en dat boetie of sussie die beste sportafrigting kry. Ongelukkig word daar nie ’n woord gerep dat boetie of sussie egter steeds daardie ekstra wiskundeklas, teen R100 per les, by die een of ander kenner êrens in die dorp sal moet bywoon nie. Lekker man. Ag, skuus, dis nie mooi nie. Dit kan tog nie lekker wees nie!

Maar, billikheidshalwe moet mens egter die heerlike deel van die begroting ook ter tafel voeg. In ons noordelike stadsgebied, veral dié tussen die fantastiese heuwels van lowergroen tuine, die nuutste gefinansierde vuurwaens en vierwielkoetse met speelgoeters en kort- en lang vakansies, is selfs die skool wat nie reeds aan die minimum vereistes van die bure voldoen nie, vyftig leerlinge kwyt. Werklik.

Watter beskaafde ouer sal sy kind toelaat om op ’n terrein met teer in pleks van klei plaveisel te stap? Wat is ‘n skool tog sonder ‘n klubhuis en binnebraai? Of ‘n Olimpiese swembad vir graad eens?Of die hokkie modegier: ’n “astro” om op te oefen hoe om ’n hokkiewedstryd en -spelers te verloor? Of wat van ’n koffiekroeg en kafeteria, soos die regte studente het. Ja mense, hoe verarmd is ons skoolgaande wesens en veral hul ouers, wanneer die omgewing nie mededingend bly nie?

Of moet ons dalk die hoenderhok se deurtjie afskroef en die muskeljaatkat onder die pluimvee injaag? Is ons beheerrade bang die skool se pot munte word dalk deur die goewerment gegaps?
Is daar dalk ’n besteebare uitweg beraam deur groot te beplan, groot te bestee, groot te bemark en noodgedwonge, die tekort maar net by die OTM (ouers te melk) te gaan haal?

Foeitog. Die arm(e) kinders.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top