Deborah Devonshire, die laaste Mitford-suster

  • 0

Alle lewende dinge is sterflik. Maar sommige mense lewe so lank dat 'n mens geneig is om te begin dink dat hulle altyd daar sal wees. Dit was die geval met my ma, Esther Comestor (1907-2005), en met Deborah (Debo) Devonshire, gebore Mitford (1920-2014), wat op 24 September oorlede is. Jacques Barzun (1907-2012) is 'n klassieke geval van 'n lang lewe. Patrick Leigh Fermor (1915-2011) was self 'n langlewende en sy en Debo se korrespondensie (1954-2007), In Tearing Haste, geredigeer deur Charlotte Mosley, bied interessante leesstof. Mosley het ook meer as een briewebundel van die Mitford-susters geredigeer en gepubliseer. Daar is nog kanniedoods wat my gees bevolk, soos Robert Conquest (gebore in 1917), John Bayley (gebore in 1925) en Philip Roth (gebore in 1933). Roth het vanjaar weer nie die Nobel-prys vir Letterkunde ontvang nie.

Debo was die laaste oorlewende Mitford-suster. Die ander vyf was die skryfster Nancy (1904-1973); die nie-literêre Pamela (1907-1994) oor wie Diana Alexander 'n biografie gepubliseer het; die mooie Diana (1910-2003) wat met die Britse fascistiese leier Oswald Mosley (1896-1980) getroud was; Unity (Bobo, 1914-1948) wat met Adolf Hitler (1889-1945) bevriend was en haarself kort na die oorlogverklaring in 1939 in die kop geskiet en nooit herstel het nie; en Jessica (Decca, 1917-1996) wat die kommunistiese Republikeine in die Spaanse Burgeroorlog (1936-1939) teen die fascistiese Francisco Franco (1892-1975) ondersteun het en haar later in Amerika vir die burgerregte van swartes beywer het.

Die geskiedenis van hierdie Mitfords weerspieël die politieke tweespalt (kommunisme/fascisme) wat veral voor en tydens die Tweede Wêreldoorlog in bv Europese intellektuele kringe bestaan het. Hulle enigste broer, Thomas (1909-1945), wat in die Tweede Wêreldoorlog gesneuwel het, en Debo, wat albei polities gematig was, was die vredemakers in hierdie polities verskeurde gesin. Debo het die Konserwatiewe Party en later die Sosiale Demokrate ondersteun.

My bewustheid van die Mitfords het met die boeke van Nancy begin. Haar vriendskap met Evelyn Waugh (1903-1966) het my aan sy skryfwerk bekend gestel. Daarna het ek boeke oor Diana Mitford gelees, wat my ook na haar naamgenoot, Diana Cooper (1892-1986), en haar man, Duff (1890-1954), gelei het. Tussendeur hierdie bronne maak 'n mens kennis met Winston Churchill (1874-1965) en Charles de Gaulle (1890-1970).

Die dood van Debo het my genoop om my volgende bydraes op SêNet te herlees:

* Evelyn Waugh se outobiografie (17.10.2011)

* Die briewe van Evelyn Waugh en Nancy Mitford (18.10.2011)

* Deborah Devonshire se outobiografie (25.10.2011)

* Paula Byrne se boek oor Evelyn Waugh, veral Brideshead Revisted (25.07.2012)

* Lisa Hilton se boek oor Nancy Mitford en haar minnaar, Gaston Palewski (1901-1984), De Gaulle se regterhand (20.09.2012)

* Philip Ziegler se biografie oor Diana Cooper (14.03.2013)

Johannes Comestor

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top