Dan bly ek maar liewers werkloos, dankie!

  • 0

Liewe Scammers

Hou asseblief op om vir my vals eposse te stuur met bogus werksvakatures.

Ek skryf hierdie brief om ander te waarsku. Moenie in die slaggat trap nie.

Alhoewel ek dadelik geweet dit is ’n scam, is ek skaam om te sê dat ek dit selfs oorweeg het. Dis hoe desperaat ek is. En as ek so desperaat is, dink net hoe desperaat is ander mense wat sukkel om werk te kry?

Ek het nou die dag die volgende e-pos in my inbox gekry:

(Let Wel: e-pos vertaal).

Hallo Sulet (Waar kry hul my besonderhede vandaan en hoe ken hulle my naam?!)

Ons is op soek na mense wat belangstel om tydelik of voltyds van hul huis af te werk.

As jy $100, $200 of selfs $500 ’n dag wil verdien, en jy gee nie om om kort menings te skryf nie, is dit die perfekte geleentheid vir jou!

Ons werk met honderde maatskappye soos 20th Century Fox, Paramount Entertainment, Ford Motor Company, Google en nog vele meer! Ons werf mense elke jaar om duisende poste vir maatskappye soos die te vul.

Meeste van hierdie werke is eenvoudige aanlyn skryftake, soos blogging oor ’n fliek wat jy onlangs gesien het, kommentaar te lewer oor ’n sekere kar, proeflees van eenvoudige dokumente en nog vele meer!

Begin nou!

 

Hierdie maatskappye kompeteer teen mekaar vir blootstelling op die internet en weet dat hoe meer mense oor hulle blog, hoe meer blootstelling sal hulle kry en hoe meer geld sal hulle maak. (Gevaarliggies flikker!)

Daar is ’n groot aanvraag na aanlynskrywers maak nie saak of hulle skryftalent het nie. Hierdie maatskappye is meer geïnteresseerd in jou eerlike opinies as jou blog inskrywings van hul maatskappy – nie of jy ’n baie talentvolle skrywer is nie.

As jy op soek is vir werk, of net ekstra sakgeld wil maak op ’n tydelike basis, kom kyk asseblief na watter werksposisies ons beskikbaar het.

Ons aanvaar tans nuwe lidmate.

Begin nou!

 

My eerste reaksie was: dit is most té goed om waar te wees! En iets wat té goed om waar te wees, is gewoonlik juis dit!

Hierdie e-pos is van Real Writing Jobs. Toe ek hul webtuiste besoek is my vermoedens beantwoord: Hulle is definitief ’n scam!

As enigiemand jou vir geld vra hetsy vir ’n registrasiefooi is dit definitief ’n scam! Moet nooit iets betaal nie – selfs nie eens as hul jou ’n sogenaamde “afslag” aanbied nie.

Hul trek jou in met emosionele woorde: perfekte, $100, $200, $500, jy kry blykbaar free tools as jy betaal. Die gebruik van bekende maatskappyname is ook gevaarlik! Die “Begin nou” blokkies is Call to Actions. Dis gewoonlik iets wat jy dadelik sien en hul wil hê jy moet dadelik daarop kliek sonder om die hele epos te lees.

Ek wonder of Google dit weet dat hul Google se naam so misbruik?

As hul nie eens omgee oor die inhoud of die gehalte van hul inhoud nie dan is daar groot fout! Google is bekend daarvoor vir goeie SEO standaarde (Search Engine Optimization). Die eerste en belangrikste SEO-tegniek is om te verseker dat jy goeie kwaliteit inhoud het. As jy dit nie doen nie, dan sien Google dit as swak SEO oftewel Black Hat SEO en jy kan baie swaar gepenaliseer word!

 

Toe ek wou uitteken op hul webtuiste, verskyn hierdie boodskap:

Wag! Moenie weggaan nie. Ek sal jou ’n verdere afslag gee wat ek eintlik net vir vriende en familie doen.

Wat de hel! Wat dink hulle van my? Net omdat ek slim genoeg is om te weet hulle is ’n scam, dink hulle ek sal nou daarvoor val?

 

PS Pasop! Daar is baie wolwe in skaapsklere op die Internet wat maar net te bly sal wees om op jou en jou geld te prooi! Hulle is skaamteloos. Hul trek jou in met positiewe sleutelwoorde en valse beloftes!

Ek bly dan liewers werkloos as wat ek om die bos gelei word en slegter daarvan afkom as wat ek was.

Sulet Linde

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top