Op 29 Oktober het ek die volgende woorde gerig aan Cornelius Henn, nav verskeie van sy skrywes en kommentare oor die apartheids-kwessie:
“Jy’t die afgelope paar dae die volgende woorde in jou skrywes gebruik, meeste aan my gerig: “kognitiewe dissonansie, napraat kruipers, Kruiperkaners, leuenagtige, lafhartige napraters, gatkruiper, lafhartige misantroop, strontkoppie, komposstampers” As jy verskil van my opinie doen dit gerus. Maar hou jouself uit die verleentheid uit. As jy die argument verloor, moenie in die riooldam spring en daarvandaan slyk gooi nie. Die ou wat eerste begin stink is jyself.“
Vandag gaan Cornelius Henn eers op sy ou trant voort en trek los met die volgende: “...Hier is egter 'n handvol toegewyde misantrope wat duidelik in hul patologiese staat van narsisme…”
En dán gooi hy ankers uit en vergas ons met die volgende juweel:
“Persoonlik is ek oortuig daarvan dat enige redevoering wat ander kan beledig, summier verbied moet word….” Hy volg dit op met “…Daarom is dit 'n absolute noodsaak dat enigeen hul rede vry van enige bespotting of neerhaling mag voer”, en ”… Persoonlik is ek oortuig daarvan dat enige redevoering wat ander kan beledig, summier verbied moet word.”
Genugtig! Watter Cornelius moet ons nou glo? Is hy dalk besig om homself te verbied? Ons sal maar moet sien…Moeilik om híér die kloutjie by die oor te kry.
Dirk Rigter


Kommentaar
Beste Dirk,
Persoonlik dink ek dat die persoon wie deesdae onder die naam van "Henn" skryf nie dieselfde persoon is wie ek ongeveer 6 jaar gelede hier op SêNet leer ken het nie. Daardie persoon was 'n sagte (in die positiewe sin van die woord) gemoedelike, tolerante, en by uitstek, aangename persoonlikheid. As hierdie persoon wat deesdae vir SêNet skryf dan dieselfde persoon is as daardie een van ses jaar gelede beteken dit dat hy 'n totale metamorfose ondergaan het. Ek ys om te dink die rede daarvoor maar is byna seker dat sy ondervindinge tydens die bosoorlog in Angola hulle volle tol nou eis van hierdie sensitiewe persoonlikheid.
Daardie nuttelose oorlog het die fleur van Afrikanermanskap verniel, en die besef dat dit geen doel bereik het nie, en die opoffering wat gemaak is, vergeefs was, moes vir baie jong mans en hulle families 'n groot bron van bitternis wees.
Groete,
Pieter Redelinghuys
Ek het werklik vrede met enigeen se geloof, ongeloof, seksuele oriëntasie, wete, bewusteloosheid ... ensovoorts ...
Maar wanneer iemand my, of enige ander se waardes beledig, dan raak dit 'n kwessie waarin ek elke bietjie van my vermoë en onvermoë sal aanwend om daarteen beswaar te maak.
In hierdie beginsel - ongeag die verlies aan steun wat ek selfs daarin verloor - sal ek volhard.
Persone soos Chris Dippenaar het homself ook reeds in soveel woorde aan Pieter Redelinghuys uitgespreek naamlik - "Vir jou [Pieter Redelinghuys] en vir my [Chris Dippenaar] is die oplossing eenvoudig: godsdiens moet ondermyn word totdat dit geen invloed meer het op die morele standaarde van ons samelewing nie. Homoseksualiteit is 'n groot probleem vir Christene en het die potensiaal om die gesag van die Bybel en die kerk (Katolieke ingesluit) geheel en al te ondermyn."
Dis ook heel duidelik dat Dirk Rigter geen respek het vir ander se waardes nie. Eerder, dit blyk asof almal wat Afrikaans praat by sy minderwaardige en oordrewe skuldgevoel jeens Apartheid ingesleep moet word.
Wouter Ferns, Trienie Mahne, Jaco Fourie, en 'n hele paar ander vyandiges op die werf, het ook reeds nes Kobus de Klerk vir jare daarin die botoon gevoer het, verskeie maal kwaad gespreek en hul steun by die minagting van ander se geloof en kulturele waardes geskaar.
In terme van die Grondwet van Suid Afrika, is sulke kwaadsprekery van ander se Godsdiens en kulturele erfenis, 'n misdaad.
Dit blyk egter dat so iets nie noembaar is nie ... en heel waarskynlik jeens die populêre minagting onder die meerderheid teen beide katoliek en Boer.
Om misdadigers, misdadigers te noem, is dus vanselfsprekend onaanvaarbaar. Daarom ook dat akkuraat omskrywinge soos anderhaat en misantroop, as 'n skelwoorde gereken sal word (Dirk Rigter veronderstel 'n leuen dat ek na hom as 'n strontkoppie of komposstamper verwys het).
Ek is egter dankbaar vir hierdie forum waarin die minderheid, minstens geleentheid kry om daarteen te protesteer. Vandaar die ongegronde redes vir al die verdagmakery van my waardes en standpunte.
Dis egter vanselfsprekend dat geen besondere beginsels aan enige minderheid, 'n populariteit kompetisie sal wen.
Daarom - vrede ook vir jou Pieter Redelinghuys (jou verwysing na my kwansuis post traumatiese stres en die Bosoorlog, is maar eweneens 'n geveinsde verdagmakery van my waardes).
Katolieke Boeregroete,
Cornelius Henn
Beste Cornelius,
"Daarom- vrede ook vir jou Pieter Redelinghuys ( jou verwysing na my kwansuis post tramatiese stres en die Bosoorlog, is maar eweneens n geveinste verdagmakery van my waardes").
Hierdie uitlating het my regtig gewond. Ek het dit opreg bedoel, en daarmee jou probeer verdedig teen die aanvalle van ander, maar ek merk dat jy my opregtigheid en bona fide in twyfel trek.
Laat dit goed gaan met jou in die toekoms.
Beste groete,
Pieter Redelinghuys
Beste Pieter,
Kobus de Klerk en menige ander wat my waardes vyandig raak, het elkeen reeds hul kamstige diagnose omtrent my sielkundige welstand gemaak.
Dit blyk dat waarookal ek teen sinici en antagoniste jeens hul minagting vir ander se waardes protesteer, die anderhaters en vyandiges se enigste uitweg 'n goedkoop sielkundige evaluasie is.
Dankie daarvoor Pieter, maar nee dankie ... (ek het ook intussen en in my leeftyd, veel erger as die Bosoorlog beleef).
Ek hoop egter om wel nog rede te het om onderskeid te kan maak tussen jou en byvoorbeeld Kobus de Klerk, Jaco Fourie, Dirk Rigter en Wouter Ferns se minagting vir ander se waardes en harte.
Opregte groete,
Cornelius Henn