Die bure het die naweek weer fees gevier en 'n bok in die agterplaas geslag. Voorheen het hulle soms beeste geslag, gewoonlik 'n kleinerige een. Dit is glo om die voorvaders te vereer, een-vir-een, al verder die verlede in. Hierdie naweek was dit glo vir iets anders, maar ons weet nog nie wat nie. Ek bid maar gewoonlik vir die dier wat hulle agter vasgebind hou, dat hy nie moet ly nie.
Hulle het Johnny ook genooi om ietsie te kom drink, maar hulle nooi my nooit nie. Hy vat toe vir hulle geskenkies: 'n klein houer babapoeier, 'n pakkie sop en 'n paar lemoene, maar kom toe eers huistoe. Toe roep hulle hom weer en gee vir ons elkeen 'n groot bier. Vanoggend gee hulle weer twee biere, glo omdat ons sulke goeie bure is. Natuurlik omdat ons maar stilbly en nie kla nie, want hulle het gisteraand tot laat lawaai en my slaap versteur. Buitendien skuld sy my geld, so ek moet maar seker die biere vat as betaling.
Gelukkig gebeur die feesvierings nie dikwels nie. Ek is net bekommerd omdat hulle vuur naby die muur is waar my karretjie staan.
Lettie weet seker al, maar ek wil nogtans vertel die Pick 'n Pay in Lorraine het gebrand, ek weet nog nie hoe erg die skade is nie.
Korrupsie in die land is nou verskriklik. Ons "Geheime Diens" is glo ook betrokke, ingesluit by misdaad. So ook die sportliggaam. Pallo Jordaan het glo geen doktorsgraad nie en nou moet mens wonder, gesien al die nonsens wat hy praat, of Zuma se Standerd 2-sertifikaat nie dalk ook vervals is nie. Ten minste het hy dan nie so hoog gemik nie.
Ek het net skrams in die koerant gesien, kon dit nie lees nie, dat sekere soorte hondekos van Foodcorp besoedel is met gifstof. Dit sluit Bobtail in, wat ek nog altyd vir ons hond gee in 'n mengsel. Hulle sou dit glo onttrek, maar ek is nie seker of dit nou veilig is om dit weer te koop nie. Weet enige van julle iets van die kwessie? Laat my dan tog weet, asseblief. Ek het 'n onoopgemaakte sak Bobtail en ek weet nie of ek dit moet weggooi of wat nie.
Buitendien het ek reeds 'n ander verlies gely, deur onkunde het ek iets van die internet afgelaai wat ek nie kan gebruik nie en dit is 'n groot lêer van meer as een Gg (Gigagreep, dws Gigabyte.) Dis omtrent R150 werd. Ek hoop maar ek sal uitkom vir die maand met dit wat ek oorhet. Die dongle werk ook nie juis so goedkoop uit as wat ek gedink het nie, maar dit is baie vinnig as jy iets aflaai. Dit werk met 'n simkaart, presies soos 'n selfoon. Die ADSL was stadiger en die "router" het buitendien warm geword, dan moet ek dit hier sit en koel waai.
Ons ou hond word al vetter, ek is bang sy bene breek, maar hy wil nie minder eet nie. Volg mos maar my voorbeeld.
Gelukkig is ons darem nog gesond en gaan dit goed.
Groete,
Varkspek


Kommentaar
Varkspek
Jy het my laat glimlag vir die dag. Dankie!
Hallo Varkspek, jy skryf oor Zuma se standerd 2-sertifikaat (wonder net in watter een van Nkandla se talle rondawels hang dit. (My raaiskoot is daar waar die jongste mev Zuma slaap.) Terwyl daar altyd mense in posisies is wat graag 'n indruk op werklik belangrike mense wil maak en ons minstens 10 onderwysdepartemente het (nege provinsies en die sentrale regering) waarom het nog nie een van hulle daaraan gedink om aan Zuma 'n vegulde skoolsertifikaat te skenk nie. Sal dit nie alle mannetjies wat hier by graad 2 of 3 al struggle besiel om weer skouer aan die wiel te sit en kliphard te werk vir 'n pos met baie byvoordele?
As ek en jy sowaar al vir Nommer 1 kan adviseer is dit moontlik om vir Varkspek en sy hond ook te help. Verminder die hond se kos met twee skeppies per dag en gaan stap elke dag met hom. Oor 'n maand gaan jou hond pragtig lyk en jy sal al amper in jou vrou se vollengte spieël pas?