Bestuurderslisensiehernuwing

  • 3

Ek het vandag gegaan vir die vyfjaarlikse toets en dit was hel op aarde.

Ons is vroeg weg by die huis en ek was voor agt daar, na ek my passasier afgelaai het in die stad. 

Toe ek daar aankom, sien ek omtrent 'n honderd mense staan op die sypaadjie en wag en juis toe ek stilhou in 'n klein gaatjie wat oop was, maak hulle die hekke oop en die mense stroom in. Nou staan hulle en wag van die deur af al langs die gebou op. Die gebou se hekke word oopgemaak en 'n klomp word toegelaat. Ek gaan wag met my kierie heel agter buite en probeer op 'n randsteen sit, maar as die ry aanskuif, moet ek op hande-viervoet kom en opsukkel om aan te beweeg. 'n Bruin man, blykbaar 'n soort karwag/vrywillige helper, sien my probleem en gaan pleit voor by die sekuriteit om my in te laat, wat die vrou toe doen. (Agterna het ek hom R10 gegee - al omkoopgeld wat ek kan bekostig.)

Binne staan ek gou 'n vorm en invul by 'n tafel en gaan sit toe en wag. Dis twee rye banke wat teen 'n reghoek met mekaar gerangskik is. Op die eerste ry sit omtrent vyftien mense, op die lang tweede is daar omtrent een-en-twintig. Nou sit ek maar. Net twee tot drie beamptes doen die toetse, soms is daar net een. Ek sit omtrent 'n uur, eintlik effens langer, toe moet ek gaan piepie. Die mooi jong vrou regs van my en die jong swart man links, wat heeltyd met sy Blackberry speel, willig darem in om my plek te hou. Na nog omtrent 'n halfuur sê een van die vrouens wat die toetse doen die mense moet sorg dat hulle 'n afskrif van hulle ID'S ook het. 'n Paar van ons spring op en gaan maak afskrifte by die Navraagtoonbank. Gelukkig kry ek weer my plek terug.

Uiteindelik is dit my beurt. Dis dieselfde swart vrou wat gepraat het oor die ID's. Ek is eers benoud, want ek sukkel gewoonlik om hulle aksent te verstaan en hulle praat sag, maar dit gaan toe darem redelik. Sy is vriendelik. Jy moet by twee gaatjies inkyk, soos 'n verkyker, dan verskyn daar die letter wat soms lyk soos 'n 3, dan soos 'n E of M of W en jy het 'n regop hefboompie wat jy dan in een van die vier windrigtings moet druk om aan te dui watter een dit is. Later verskyn daar liggies bo links of bo regs en jy moet weer die hefboom na links of regs druk, na gelang van waar die liggies is.

Ek ruk en pluk met geweld aan die hefboompie. "You panic," sê sy. "Don't panic." Ons al twee lag maar, ek erken ek is op my senuwees.

Daar bestaan nou onsekerheid oor watter lisensie-tipe ek het. Ek sê vir haar dis vir 'n groot trok, omtrent tien ton, maar ek onthou nie die kode nie. Ek is egter bereid om af te skaal na 'n gewone ligte-voertuig-lisensie. Sy sê egter nee, as ek die toets slaag, hou hulle by die swaar-voertuig-lisensie, maar as ek dit dop sal hulle my afgradeer. Ek slaag toe darem die toets. Sy kyk op 'n ander rekenaar en dis toe 'n kode EC1 wat 'n groot trok met 'n sleepwa is.

Nou kry ek gedrukte dokumente by haar en ek moet die fooi gaan betaal by die kassiere. Die feit dat sy my naam verkeerd getik het as "Marinus" ipv van "Martinus" kwel my nie eens nie, ek wil klaarkry. So stap ek dan heel gelukkig na die kassiere se afdeling, daar staan net twee mense by die vensters en ek sal gou klaar wees. Want ek voel al weer 'n piepie opbou in my blaas. Moenie glo nie, daar is ook rye banke half weggesteek regs waar 'n klomp mense wag vir hul beurt om te betaal.

(Ek het vergeet om te noem dat hul apparaatjie nie my vingerafdruk wou registreer nie, so daar sal nie 'n vingerafdruk op my lisensiekaart wees nie, sê sy.)

Maar nou ja, die gewag by die kassiere neem darem nie te lank nie en ek is klaar en uit by die deur, sukkelend op my kierie oor die besige straat.

Sowaar staan daar toe een van die groot munisipale vullishouers op wiele agter my karretjie! Gelukkig is daar 'n jong man wat ek kon vra om dit vir my weg te stoot en ek kon ry, na ek hom ook 'n paar rand in die hand gestop het. Dis amper elfuur toe ek daar weg is. Toe ek gaan sit, het ek dadelik my blaas ontspan en die piepie loop uit in die "pad" wat ek voor by my broek ingedruk het. En buite langs die gebou staan steeds 'n lang ry mense en wag om toegelaat te word.

Oor omtrent ses weke sal ek die nuwe lisensie moet gaan haal. Dan wil ek sorg dat ek heel voor in die ry is, al moet ek sesuur al van die huis af ry. Dan sal ek ten minste op die trappe voor die deur kan sit!

Groete,

Tiens

  • 3

Kommentaar

  • Tiens, ek sien jou gesukkel daar innie Baai se Verkeersafdeling. Die eerste ding wat ek doen as ek stop is om die selfaangestelde karwagte wat dink dis hulle reg om jou die ooglopende oop parkering aan te wys, weer daar uit te wil help en iets daarvoor verwag, te sê om te effof.

  • francois williams

    Ek het my lisensie reeds verloor lykkit, te lank buite...goeie storie, ons land se mense bly maar naais...

  • Tiens, het ook onlangs my bestuurlisensie hernu, in die WP. Was nie lus vir die 8-uur tou nie en het toe in die middag gegaan - geen tou nie - nie met die aansoek nie en ook nie met die afhaal van die lisensie nie. George

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top